Giovan Giovenale (Juvenalis) Ancina is op 19 Oktober 1545 by Fossano,’n dorpie in Piedmont (in die noordweste van Italië), gebore. By sy geboorte was hy so swak en sieklik dat daar gevrees is vir sy lewe. Sy ouers het die voorspraak van die plaaslike dorpsheilige van Fossano, Juvenalis, ingeroep en geglo dat die kind op sy voorbidding genees is. Daarom is hy Juvenalis gedoop.
Sy ouers was redelik welgesteld en kon bekostig om beide hom en sy broer Giovan Matteo (wat ook later ‘n priester in die Oratorium sou word) vir studies na Montpellier, Padua en Turyn te stuur waar Juvenalis hom uiteindelik in die geneeskunde sowel as filosofie sou bekwaam. Vir ‘n ruk lank het hy as geneesheer gewerk en sy besorgdheid oor beide die liggaamlike sowel as die geestelike welsyn van sy pasiënte was merkwaardig. In die jaar 1574 vergesel hy die ambassadeur van die hertog van Savoje na Rome as sy persoonlike lyfarts. In Rome het hy heelwat vrye tyd tot sy beskikking gehad en het hy begin om die teologiese lesings van die beroemde kardinaal Robert Bellarminus by te woon. Nadat hy al ‘n jaar lank in Rome gewoon het ontdek hy die geestelike oefeninge van die Oratorium. Vol geesdrif skryf hy daaroor aan sy broer Giovan Matteo: “Die afgelope paar dae het ek ‘n nuwe gewoonte ontwikkel. Smiddae gaan ek na die Oratorium by die kerk van Sint Johannes van die Florentyne (San Giovanni dei Fiorentini). Daar word daagliks die mooiste praatjies gelewer oor die Evangelie, die deugde en ondeugde, geskiedenis, Kerkgeskiedenis en die lewens van die Heiliges. Elke dag is daar vier of vyf manne wat die woord voer en onder die toehoorders vind ‘n mens biskoppe, prelate en ander vooraanstaande mense… Die predikers is goed opgelei in teologie en hulle lei onberispelike lewens van diep geestelikheid soos ‘n mens nêrens anders in Rome vind nie. Aan die hoof staan die eerwaarde Don Filippo, nou by die sestig jaar oud, op soveel vlakke ‘n uitsonderlike mens, ‘n lewende heilige wat dié geestelike oefeninge met fyn vernuf en insig aanbied.”
Op daardie tydstip het Juvenalis en sy broer Giovan Matteo ‘n roeping tot die Kartuiser-orde oorweeg. Hulle het Sint Filip om raad gevra en hy het hulle van dié voornemens afgeraai. Nadat hy hulle ‘n ruk lank op die proef gestel het, stel hy voor dat hulle by die Oratorium aansluit. Op 1 Oktober 1578 tree dié twee broers in by die jong Kongregasie van die Oratorium. Van toe af sou Juvenalis homself geheel en al aan die lewe en apostolaat van die Oratorium toewy. Vier jaar later is hy tot priester gewy. En in 1586 word hy na Napels gestuur as lid van die gemeenskap van die nuutgestigte Oratorium daar. Hy was ‘n begaafde prediker en musikus en hy het sy natuurlike talente in diens gestel van die verkondiging van die Evangelie. In die tien jaar wat hy in Napels deurgebring het, was hy soos altyd veral begaan oor die siekes. Hy het ‘n groep gelowige vroue op die been gebring wat dit hul taak gemaak het om weekliks saam te kom vir gebed en besoeke aan die siekehuise waar hulle die siekes versorg het. Verder het hy ook ‘n uitsonderlike bydrae tot die Oratorium se musiekbediening in Napels gelewer. Ná Sint Filip se dood is hy in 1596 teruggeroep na die Oratorium in Rome. Daar het egter nou ‘n groot beproewing op hom gewag. Die pous wou hom biskop maak. Vir ‘n Oratoriaan is dit ‘n uiters pynlike opdrag, want dit beteken dat jy jou gemeenskap moet verlaat om iets te aanvaar wat Sint Filip self altyd geweier het en beslis nie vir sy geestelike kinders wou gehad het nie. Die skok was so groot dat Vr. Juvenalis op 2 Desember 1597 uit Rome gevlug het en nadat hy ‘n paar weke lank rondgeswerf het, uiteindelik by die Oratorium in San Severino opgedaag het. Daar het hy probeer om ongemerk sy Oratoriaanse lewe voort te sit. Vyf maande later is hy egter opgespoor en het daar ‘n bevel van Rome gekom dat hy na Rome moes terugkeer en dat die pous daarvan afgesien het om hom tot biskop te wy. Verlig het hy na die Oratorium in Rome terugkeer.
Ongelukkig was sy beproewinge nie oor nie. In 1602 vra die hertog van Savoje die pous om biskoppe aan te stel vir twee vakante setels in sy land. Pous Clemens VIII beveel Juvenalis aan met die woorde: “Nou is dit tyd om te gehoorsaam te wees en nie om te vlug nie”. Op 1 September 1602 is Juvenalis tot biskop gewy van Saluzzo (skaars 15 km van sy geboortedorp Fossano). Politieke beroeringe het egter verhoed dat hy onmiddellik na sy bisdom kon vertrek. Hy arriveer eers in die daaropvolgende jaar 1603. Toe het hy dadelik aan die werk gespring as sieleherder van die bisdom Saluzzo. Die voorbeeld van sy eie lewe het as inspirasie vir die geestelikes gedien, maar ongelukkig het hy hom die gramskap van ‘n sekere Franciskaan op die hals gehaal wat in sonde geleef het en nie bereid was om daarvan af te sien nie. Toe biskop Juvenalis noodgedwonge moes intree om die verhouding tussen die priester en non stop te sit, het dit fatale gevolge vir hom gehad. Tydens ‘n groot fees ter ere van Sint Bernard op die 20ste Augustus 1604, het die Franciskaan daarin geslaag om gif in biskop Juvenalis se wyn te gooi. Dit het Juvenalis elf dae van verskriklike pyn geneem om te sterf. Hoewel hy terdeë bewus was van wat gebeur het, wou hy nie toelaat dat sy moordenaar gevang word nie. Hy sterf uiteindelik op 31 Augustus. Sy stoflike oorskot rus onder ‘n altaar wat aan hom gewy is in die katedraal van Saluzza. Hy is op 9 Februarie 1890 deur pous Leo XIII salig verklaar.
VOLG ONS OP FACEBOOK vir die nuutste nuus
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2023 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou