Sebastiaan Valfrè is op 9 Maart 1629 by Verduno in die suidelike Alpe gebore. Sy ouers was eenvoudige kleinboere en as kind het hy saam met sy sewe broers en susters op die boerdery gewerk en in groot armoede groot geword. Aanvanklik wou sy familie niks daarvan weet dat hy priester word nie omdat hulle hom tuis nodig gehad het. Hy het egter vroeg reeds geroepe gevoel tot die priesterskap en hulle uiteindelik daarvan oortuig. Op die ouderdom van 12 verlaat hy Verduno en gaan eers na Alba en toe na Bra om die nodige skoolopleiding te verkry wat hom in staat sou stel om vir priesterlike studies in aanmerking te kom. Vanweë sy akademiese agterstand het hy baie gesukkel by die skool, asook om die nodige geld te bekom om die boeke aan te koop wat hy nodig gehad het vir sy studies. Uiteindelik is hy na Turyn om sy teologiese opleiding onder die Jesuïete te voltooi.
Die Kongregasie van die Oratorium van Sint Filip Neri in Turyn het in 1649 tot stand gekom, maar kort daarna is die stigter en leiersfiguur oorlede. Sebastiaan se besluit om op die fees van Sint Filip Neri in 1651 by die Oratorium in te tree was nogal eienaardig omdat daar van die vroeëre groep Oratoriane slegs een priester oorgebly het, ene Vr. Cambiani, wat as “onversorgd en eksentriek” beskryf is. In ‘n sekere sin kan Sebastiaan Valfrè dus as die tweede stigter van die Oratorium in Turyn beskou word. Hy is op 24 Februarie 1652 tot priester gewy en in 1671 is hy tot provoos oftewel owerste verkies. Benewens die verskillende ampte wat hy in sy eie kongregasie beklee het, is hy ook aangestel as hofkapelaan vir die koninklike familie van Piedmont (hy het egter geweier om aartsbiskop van Turyn te word). Hy het onvermoeid gewerk om die Koninkryk van God op te bou en het veral klem gelê op kategese, die bieg, geestelike begeleiding en naastediens (hy het baie gedoen om die lot van die armes te verbeter). Deur sy liefde vir die mense van die stad het hy gou begin bekend staan as die Apostel van Turyn. Tussen 1678 en 1680 het Piedmont onder verskriklike hongersnood gebuk gegaan en die oorlog tussen Piedmont en die magtige Frankryk onder Lodewyk XIV het uitgeloop op ‘n beleg van Turyn deur Franse troepe wat 17 weke geduur het en groot ellende veroorsaak het. Deur dit alles het die salige Sebastiaan onverpoos voortgegaan om mense in hul nood by te staan. So hoog is hy op prys gestel dat die stadsbevolking daarvan oortuig was dat dit deur sy voorbidding was dat die Franse beleg tot ‘n einde gebring is.
Sy biegtelinge het verklaar dat hy oor ‘n merkwaardige vermoë beskik het om hulle siele as’t ware te kon lees en hulle so op hul geestelike pad kon aanhelp. Deur die praktiese bystand wat hy aan die soldate tydens die beleg van Turyn gelewer het, word hy vandag nog as beskermheilige van militêre kapelane beskou. Dit was hy wat die Veertig Ure Devosie in Turyn begin het en dit was grotendeels deur sy toedoen dat koning Victor Amadeus II die basiliek van Superga laat bou het. Verder was hy betrokke by die totstandkoming van die pouslike opleidingskool vir Kerklike diplomate in Rome en het hy ook goeie verhoudings met Protestante en Jode opgebou (wat destyds heel ongewoon was). Hy het ook talle boeke geskryf; in die argief van die Turynse Oratorium word daar 22 van sy publikasies bewaar. Sy “Kompendium van Christelike Leerstellinge” is baie lank regdeur Italië vir kategese gebruik.
Hy sterf op 30 Januarie 1710 en selfs voordat sy stoflike oorskot begrawe is, het mense begin rapporteer oor wonderwerke wat op sy voorspraak plaasgevind het. Sy liggaam rus in ‘n bedeskryn in die Oratoriumkerk in Turyn. Sebastiaan Valfrè is in 1834 deur pous Gregorius XVI tot ‘n salige van die Kerk verklaar.
VOLG ONS OP FACEBOOK
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2024 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou