Salvio Huix-Miralpeix is op 22 Desember 1877 in die dorpie Santa Margarida de Vallors naby die stad Gerona in Spanje gebore. Sy familie was diep gelowige mense en dus was hulle geensins verbaas toe hy op jeugdige leeftyd verklaar het dat hy tot die priesterskap geroepe gevoel het. Op 10-jarige ouderdom is hy by die plaaslike klein-seminarie ingeskryf, waar hy hom as hardwerkende en pligsgetroue skolier bewys het. Dit was veral sy opgeruimde geaardheid, vrygewige gees, gehoorsaamheid en sy vermoë om geweldig hard te werk wat sy medestudente en leerkragte beïndruk het.
Salvio is op 19 September 1903 priester gewy en sy eerste pastorale aanstelling was dié van hulppriester by ’n plattelandse parogie. In 1906 tree hy in by die Oratorium in Vic (Katalonië). Die Oratoriane in Vic het ‘n druk daaglikse program gevolg. Hulle het soggens om 4:30vm opgestaan (behalwe op Sondae en feesdae wanneer hulle ’n halfuur vroeër uit die bed is). Nà ’n uur van stilgebed in die kerk was hulle beskikbaar vir bieg en nadat die laaste biegteling weg is, het elkeen van die priesters sy Heilige Mis by een van die sy-altare in die kerk gevier. Smiddae was hulle terug in die biegstoel of besig met een van die talle lekegroepe wat verbonde was aan die Oratorium.Verder het hulle die siekes besoek en kategese onderrig. Vr. Salvio het gou agtergekom dat daar min getroude jongmanne was wat betrokke was by die Kerk. Hy het ’n groep begin wat hy onder die beskerming van St Josef geplaas het. Hierdie groepie jong getroude manne het onder sy leiding gegroei en hulle het o.a. die siekes besoek en hulle ook op materiële gebied bygestaan en versorg.
In 1927 is Vr. Salvio tot provoos van die Oratorium verkies en kort daarna is hy aangestel as biskop van Ibiza. Dié eiland was 69 jaar lank sonder ’n biskop en hy is met groot blydskap deur die plaaslike bevolking verwelkom. Dit het egter beteken dat hy sy geliefde Oratoriaanse gemeenskap moes verlaat. Hy is op 28 April 1927 biskop gewy maar sou vir die van sy lewe in sy hart nog altyd ’n seun van Sint Filip Neri bly. In die jaar 1931 is die monargie afgeskaf en is Spanje tot republiek verklaar. Die eeue oue alliansie tussen troon en altaar het daarmee tot ’n einde gekom. Die feit dat die Katolieke Kerk soveel eeue lank die staatskerk was en soveel voorregte geniet het, het uiteraard ook soms tot misbruike gelei (aardse mag en godsdiensbeoefening is nie altyd ‘n gesonde kombinasie nie). Die nuwe Spaanse republiek wou egter die diepgewortelde Katolieke volkskultuur vernietig en het begin om kloosters te sluit en met geweld alle tekens van godsdiens in die land te vernietig. In Madrid is kloosters en kerke geplunder, kerkskole is toegemaak, die Jesuïete-orde is uit die land verban, die aartsbiskop van Toledo is verjaag en tot begraafplase is gesekulariseeer en Christelike begrafnisse verbied. Kruisbeelde wat eeue lank deel van die Spaanse landskap was, is verwyder en vernietig. Op Ibiza het die gelowiges die reuse kruisbeeld wat buite gestaan het na die katedraal gedra waar biskop Salvio dit self in die heiligdom ingedra het om daar bewaar te word. Biskop Salvio het die gelowiges deur sy preke en pastorale briewe aangemoedig om nie deur die anti-godsdienstige regime geïntimideer te word nie. Agt jaar lank was hy ’n voorbeeldige herder op die eiland van Ibiza en toe word hy oorgeplaas na die bisdom Lerida op die Spaanse vasteland.
In Julie 1936 breek die verskriklike Spaanse Burgeroorlog uit, wat gekenmerk is deur verskriklike wreedhede aan albei kante. In die tydperk tussen Julie 1936 en Maart 1937 is duisende Christene vermoor. Teen die einde van die oorlog het 6 832 priesters en religieuse, waaronder 12 biskoppe en 283 religieuse susters, hul lewens opgeoffer. In Julie 1936 val die stad Lerida in die hande van die Republikeinse magte, wat onmiddellik die katedraal en ander kerke aan die brand gesteek het. Binne die bestek van ’n paar maande is 80% van al die priesters in die bisdom vermoor. In die nag van 21 Julie, nadat die katedraal in puin gelê is, moes biskop Salvio en sy personeel inderhaas uit die biskopshuis vlug en het hy aanvanklik skuiling gevind in die huis van die tuinier. Toe hy egter besef aan watter groot gevaar hy die tuinier en sy gesin blootstel het die biskop hom aan die polisie gaan oorgee met die woorde: “Ek is die biskop van Lerida en ek plaas myself onder u beskerming”. Die polisie het hom summier oorgegee aan die Republikeinse magte wat hom in die gevangenis gesit het. Baie van sy stadsgenote, sowel as ander geestelikes, was alreeds daar in die tronk. Biskop Salvio het met sy tipiese opgeruimde persoonlikheid hulle vertroos en moed ingepraat. Hy kon met ingesmokkelde brood en wyn vir hulle op die Fees van Sint Jakobus die Heilige Mis in die geheim vier.
Vroeg in die oggend van 5 Augustus (die Fees van Onse Liewe Vrou van Smarte) is die biskop en twintig ander gevangenes ingelig dat hulle vir hulle verhoor na Barcelona geneem sou word. Net buitekant die stad, by die begraafplaas, het die vragmotors egter gestop en is die gevangenes aangesê om uit te klim. Hulle het besef dat hulle tereg gestel sou word en het die biskop gevra om hulle te seën. Soos hulle gedwing is om hul eie grafte te grawe het biskop Salvio hulle gelei in die bid van die Geloofsbelydenis en het hy hulle met die volgende woorde geseën: “Hou moed, ons sal binne die volgende uur weer saam wees by die Here!” Die bevelvoerder van die soldate het vir die biskop gesê dat hy gespaar sou word indien hy bereid was om sy geloof af te sweer. Biskop Salvio het geweier en soos elke gevangene doodgeskiet is sy hand gelig en hulle geseën. Een van die soldate het woedend geraak en die biskop deur sy hand geskiet, maar biskop Salvio het aangehou om sy bloeiende hand op te lig en elke veroordeelde geseën soos dié gesterf het. Die briesende soldaat het aanhou skiet totdat die biskop se hand in flarde was. Laastens is die 58-jarige biskop Salvio ook vermoor.
Hy was nie die enigste Oratoriaan wat in dié verskriklike vervolging van die Kerk sy lewe afgelê het nie. Vier priesters van die Barcelona Oratorium en vier priesters van die Gracia Oratorium, asook die provoos van die Vic Oratorium is vermoor. Salvio Huix-Miralpeix is op 13 Oktober 2013 in die katedraal van Tarrgona tot salige verklaar en hy tel onder die 522 salig verklaarde martelare van die Spaanse Burgeroorlog.
VOLG ONS OP FACEBOOK
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2024 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou