Luigi Scrosoppi is op 4 Augustus in die jaar 1804 in die stad Fruili, in die noordooste van Italië, gebore. Hy het in ‘n diep gelowige huisgesin groot geword. Sy halfbroer, Carlo Filaferro het in 1806 by die Kongregasie van die Oratorium in Udine ingetree. Hierdie Oratorium is in 1650 opgerig en het die kerk van Santa Maria Maddalena pastoraal versorg. Carlo is in 1809 tot priester gewy, maar in die daaropvolgende jaar is die Kongregasie van die Oratorium in Udine deur die owerhede gesluit en moes die twaalf priesters en drie leke-broeders hul tuiste en kerk verlaat. Hierdie was die woelige jare toe Napoleon groot gedeeltes van Europa verower en kortstondige rewolusionêre republieke oral opgerig is. Dikwels was die Katolieke Kerk die teiken van die nuwe politieke bewindhebbers soos in die geval van die sluiting van die Oratorium in Udine. Vr. Carlo moes noodgedwonge na sy ouerhuis terugkeer waar hy sy moeder, stiefvader en hul kroos bygestaan het. Een van sy halfbroers was die klein Luigi.
Vrede sou eers in 1814 na Italië terugkeer. Luigi was op ‘n jong ouderdom al daarvan oortuig dat hy geroepe was om priester te word. In 1817 begin hy sy studies aan die aartsbisdomlike seminarie van Udine. Hy was ‘n uitblinker student met ‘n uitstekende akademiese rekord. Op 31 Maart, 1827, is hy in die katedraal van Udine tot priester gewy. Sy eerste Heilige Mis vier hy in ou Oratoriaanse kerk van Santa Maria Maddalena, wat nog onder die sorg van die voormalige Oratoriaanse priesters was en waar hulle baie van die ou Oratoriaanse praktyke bewaar het. Vr. Luigi het gou betrokke geraak by die ‘Casa delle Derelitte’, ‘n weeshuis vir meisies wat in 1816 deur die Oratoriaanse priester Vr. Gaetano Salomoni opgerig is. Sy broer, Vr. Carlo, was alreeds sedert 1817 daarby betrokke. Vr. Luigi het homself hart en siel aan die versorging van dié weesmeisies toegewy. Dit het beteken dat hy dikwels letterlik op straat en van huis tot huis moes gaan bedel om kos op die tafel te kry. Teen 1840 is ‘n nuwe gebou bekom en kon die weeshuis in beter omstandighede funksioneer, teen dié tyd was Vr. Luigi aan die stuur van sake by die weeshuis en het hy die instituut begin uitbrei om op ander plekke ook huise vir weesmeisies, asook armoedige meisies en doofstommes op te rig. Hy het ‘n paar onderwyseresse betrek om hom met dié groeiende taak by te staan. Hieruit sou die Kongregasie van die Susters van Voorsienigheid ontwikkel. Op Kersdag, 1845, is 15 van hulle geklee met Sint Cajetanus van Thiene as hul patroonheilige.
Intussen is daar probeer om die Oratorium in Udine weer op te rig. In 1842 het van die priesters op nie-amptelike wyse weer begin met die Oratoriaanse gemeenskapslewe en in 1846 is die Kongregasie van die Oratorium weer amptelik opgerig. Die voormalige Oratoriane kon terugkeer en Vr. Carlo is as provoos verkies. Vr. Luigi het nou by die Oratorium ingetree en as deel van sy pastorale pligte die kategese van die werkende jeug asook studente in Udine behartig. Gedurende die rewolusie van 1848 het hy onvermoeid die gewondes bygestaan.
In 1856 is Vr. Luigi tot provoos van die Oratorium verkies (sy halfbroer, Vr. Carlo, is in 1854 oorlede). Ongelukkig het dinge al hoe slegter begin gaan vir die Oratorium. Daar was geen plaaslike roepinge nie en Oratoriaanse priesters van ander huise moes ingevoer word om die gemeenskap se werksaamhede te laat voortgaan. Met die vereniging van Italië in 1860 is anti-kerklike wette deurgevoer wat gelei het tot die sluiting van baie religieuse kongregasies. Dit het tot die ondergang van talle Oratoriaanse gemeenskappe gelei, Udine inkluis. Vr. Luigi het hard probeer om die Oratorium te red, maar uiteindelik kon hy slegs die Kongregasie van die Susters van Voorsienigheid van sluiting weerhou. In 1867 moes die Oratorium in Udine finaal sy deure sluit. Dit was ‘n geweldige slag vir Vr. Luigi, maar alhoewel dit die einde van die Oratoriaanse gemeenskapslewe beteken het, sou Vr. Luigi voortgaan om as seun van Sint Filip Neri te leef. Tot aan die einde van sy lewe sou hy by sy handtekening Vr. Luigi van die Oratorium skryf en in sy testament het hy ook bepaal dat sy besittings aan die Oratorium nagelaat word indien daar ooit weer ‘n kongregasie in Udine opgerig sou word. Vir sy grafsteen het hy gevra dat die woorde ‘Presbyter Oratorii’ daarop gegraveer moet word. Sy laaste lewensjare het hy gewy aan die uitbreiding van die werksaamhede van die Susters van Voorsienigheid. Hy sterf op 3 April 1884 en is in Udine begrawe.
Net soos sy geliefde St Filip Neri, was Luigi opgeruimd en vrolik van aard, met ‘n ingebore nederigheid en voorliefde om onbekend te bly. Op sy sterfbed het hy aan die Susters gesê: “Hierdie armsalige ek moet tog nie onthou word nie.” Dit sou egter nooit gebeur nie. Kort na sy dood is wonderwerke op sy voorspraak aangemeld. Hy is op 12 Junie 1978 deur pous Paulus VI eerbiedwaardig verklaar en op 4 Oktober 1981 deur pous St. Johannes Paulus II tot salige verklaar. Die laaste wonderwerk wat nodig was vir sy heiligverklaring het in ons Oratoriaanse gemeenskap hier in Oudtshoorn plaasgevind. Dit het so gebeur: In 1995 het Peter Chungu Shitima van Zambië ‘n noviet in ons gemeenskap geword. Hy het goed gevorder, Afrikaans baie gou onder die knie gekry en hy was ‘n baie belowende kandidaat vir ons gemeenskap. Vroeg in 1996 het hy egter baie siek geword. Daar is toe uitgevind dat hy alreeds in die laaste stadia van VIGS-verwante siektes verkeer het en dat daar medies gesproke geen hoop meer vir hom was nie. Die plaaslike dokters het aanbeveel dat hy terug na sy ouerhuis in Zambië gestuur word sodat hy daar omring deur sy eie familie kon sterf. Salige Luigi Scrosoppi was Br. Chungu se gunsteling Oratoriaanse figuur en sy voorspraak is dus voortdurend in ons gemeenskap asook in die katedraal parogie, wat destyds onder ons sorg was, ingeroep. Br. Chungu is terug Zambië toe, vergesel deur Vr. David Dettmer. Op daardie tydstip was hy alreeds feitlik blind en kon hy nie meer loop nie, maar moes met ‘n rolstoel rond gestoot word. Vr. David het hom by sy familie besorg en hartseer afskeid geneem, vas onder die indruk dat ons hom nooit weer sou sien nie. Intussen is daar voortgegaan met die inroep van salige Luigi se voorspraak. In Zambië het Br. Chungu in die nag van 9 Oktober 1996 ‘n merkwaardige droom oor salige Luigi gehad en toe hy die volgende oggend wakker word het hy sommer baie beter gevoel. Uiteindelik kon hy terugkeer na Oudtshoorn en sy lewe en studies in die Oratorium hervat. Hy is deur talle dokters en spesialiste ondersoek en hulle almal was dit eens dat sy herstel medies en wetenskaplik onverklaarbaar was. Op 10 Junie 2001 was ons hele gemeenskap, Br. Chungu inkluis, aanwesig toe pous St. Johannes Paulus II op ‘n stampvol Sint Pietersplein, ons eie Luigi Scrosoppi tot ‘n heilige van die Kerk verklaar het.
VOLG ONS OP FACEBOOK vir die nuutste nuus
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2023 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou