Die stigter van die Kongregasie van die Oratorium, St. Filip Neri, het as jongman, toe hy sy roeping oorweeg het, geworstel met die gedagte of hy, soos so baie van die jong Jesuïtiese priesters van sy tyd, na Indië moes gaan. Die sestiende eeu waarin hy geleef was ’n opwindende tyd toe die groot ontdekkingsreise van die Portugese en Spaanse seevaarders ’n ‘nuwe’ wêreld vir die mense van Europa laat oopgaan het. Indië was destyds die versinnebeelding van die fabelagtige Ooste met sy rykdom, speserye en eksotiese heidense kulture. Die Christene van Wes-Europa is gekonfronteer met antieke samelewings en ’n hele kultuurwêreld wat vreemd gestaan het teenoor die Evangelie – hierdie ‘nuwe’ wêreld was blykbaar onbewus van Christus en het dus groot uitdagings gestel aan dié waarhede waarop die Christelike geloof aanspraak gemaak het. Dit was veral die nuutgestigde die Jesuïte-orde, vol ywerige jong priesters, wat op dinamiese wyse dié groot sendingveld hul eie gemaak het. Jong manne in Europa wat priester wou word is aangegryp en begesteer deur die verhale van iemand soos St. Franciskus Xavier en sy metgeselle wat in lewensgevaarlike situasies die Evangelie aan die heidene verkondig het en derduisende mense tot Christus bekeer het. Toe St. Filip Neri God se roepstem in sy eie lewe ervaar, het hy outomaties daaraan begin dink om sy roeping as ’n sendeling priester in die Ooste uit te leef. Omdat hy nie doodseker was nie het hy egter ’n heilige ou monnik gevra om vir hom hieroor te bid. Uiteindelik het hy die antwoord gekry: ‘Rome sal jou Indië wees’, en voortgegaan om die Oratorium in Rome te stig, ’n stad wat hy nooit weer sou verlaat nie.
En tog het God op merkwaardige wyse St. Filip Neri se droom oor Indië ná sy dood verwerklik. Op die 21ste April, 1651, is Josef Vaz by Benaulim, naby Goa aan die weskus van Indië gebore. Die stad Goa was die sentrum van die Portugese se uitgebreide handelsryk in die Ooste. Hier was daar ook al ’n groeiende aantal 2de en 3de generasie Christene onder die plaaslike bevolking. Josef Vaz se ouers was Christoforo Vaz en Maria de Miranda; Christene wat tot die Konkani Brahmaanse kaste binne die Indiese samelewing behoort het. As kind is hy skool toe gestuur waar hy Portugees en Latyn onder die knie gekry het en uiteindelik is hy na die Jesuïte universiteit van Goa waar hy ’n deeglike opvoeding bekom het. Hy het geweet dat God hom roep om priester te word en gevolglik het hy sy teologiese studies aan die St. Thomas van Aquino Akademie in Goa voltooi. In 1676 is hy tot priester gewy. Hy begin ’n Latynse skool in Sancoale vir jong seuns wat later priester wou word. Soos alle werklike Christosentriese mense het Vr. Josef ’n groot toewyding gehad tot Maria, die Moeder van sy Here, en in 1677 het hy homself daartoe verbind om ’n ‘slaaf van Maria’ te wees. Dit was in hierdie tyd dat hy van die jammerlike lot van die Katolieke in Ceylon te hore gekom het. Wat godsdiens betref was hierdie groot eiland aan die kus van Indië hoofsaaklik Bhoedisties, maar ’n eeu vantevore het Portugese sendelinge ’n aansienlike gedeelte van die bevolking tot die Katolieke Christelike geloof bekeer. Later is die Portugese egter deur die Calvinistiese Hollanders verdryf wat onmiddelik begin het om die Katolieke te vervolg. Die Calviniste was meer daaroor begaan om die Katolieke Kerk wortel en tak uit te roei as om die plaaslike Bhoediste tot die Christelike geloof te bekeer. Teen die tyd dat Vr. Josef oor die situasie op Ceylon ingelig is, was daar al meer as vyftig jaar lank geen Katolieke priester op die eiland gewees nie. Vr. Josef het sommer onmiddelik geweet dat hierdie die apostolaat was wat God vir hom in gedagte het: Om na die geestelik verhongerde en vervolgde Katolieke van Ceylon om te sien.
Toe hy in 1681 sy biskop om toestemming vra om na Ceylon te gaan is hy egter toestemming geweier en opdrag gegee om hom by die afgeleë Katolieke sendingstasie in Kanara te gaan aanmeld. Hier sou hy onder baie moeilike omstandighede pastorale werk verrig en terselfdertyd baie goeie ervaring opdoen. Ondertussen het ’n groepie priesters in Goa begin belangstel om die gemeenskapslewe te lei. Hulle was besiel met die Oratoriaanse ideaal van St. Filip Neri. Hul tuis basis was die Kerk van die Heilige Kruis van Wonderwerke en dis by hulle dat Vr. Josef uiteindelik sou aansluit. Hierdie groepie priesters is onder Vr. Josef se bekwame leiding tot ’n selfstandige Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri opgerig. Vr. Josef word verkies tot die eerste provoos oftewel owerste. Hy het veral klem daarop gelê dat lede van dié Oratorium hulleself as sendelinge moes bekwaam. In 1686 bedank hy as owerste en gaan hy na Ceylon. Omdat die Hollanders alle inkomelinge deursoek het en streng wette gehad het teen die binnekoms van enige Katolieke priester moes hy homself as ’n gewone handarbeider vermom. So land Vr. Josef dan op Paasfees, 1687 by die hawe Tutikorin in die noorde van Ceylon.
Hy vind huisvesting by ’n simpatieke Katoliek en begin onmiddelik met sy lewensgevaarlike bediening. Hy het gou die Sinhalese taal bemeester en nou kon hy homself totaal toewy aan sy lewensdroom. En so het hy deur die land beweeg, van die een Katolieke nedersetting na die ander en die mense het na hom toe gestroom om die Sakramente te ontvang en die Woord van die Here te hoor. Die owerhede het gou uitgevind dat ’n Katolieke priester die land ingesluip het en het ’n groot soektog na hom begin. Met die owerhede kort op sy hakke en altyd aan die vlug kon Vr. Josef egter man alleen daarvoor sorg dat daar ’n groot geestelike oplewing onder die Katolieke gelowiges gekom het. In 1690 besluit hy om na die enigste gedeelte van Ceylon uit te wyk wat nog onafhanklik van die Hollanders was, die Bhoedistiese koninkryk van Kandy. Die Calviniste het egter daarin geslaag om die plaaslike regeerder daarvan te oortuig dat Vr. Josef eintlik ’n Portugese spioen was. Skaars was Vr. Josef binne die grense van dié koninkryk of hy word gearresteer en in die tronk gegooi. Binne die gevangenis het hy ’n hut ingerig as ’n kapel en dit aan ons Onse Liewe Vrou toegewy – gou was hy besig om op groot skaal sy medegevangenes tot die Katolieke geloof te bekeer. Selfs as gevangene het hy bekendheid verwerf deur die hele koninkryk. In die jaar 1696 het daar ’n verskriklike droogte oor die hele land uitgebreek. Die koning het al die Bhoedistiese kloosters en tempels opdrag gegee om vir reën te bid, maar die droogte het voortgeduur. Toe nader die koning vir Vr. Josef en vra hom om tot sy God te bid vir reën. Op dramatiese wyse het Vr. Josef God se almag vertoon. Hy het ’n altaar in die middel van dorpsplein opgerig met ’n prominente kruis en begin bid; gou het dit begin reën, nie net liggies nie maar ’n ware stortvloed, en tog het hy en die altaar op wonderbaarlike wyse droog gebly. Hierdie wonderwerk het die koning so beïndruk dat hy aan Vr. Josef die vryheid verleen het regdeur die koninkryk van Kandy die Christelike evangelie te verkondig.
Die Calvinistiese owerhede in die naburige Hollandse kolonie was woedend maar kon niks doen nie. Vr. Josef het nou van sy mede-Oratoriane uit Goa laat kom om hom by te staan en in 1697 stel die Biskop van Cochin, onder wie se gesag Ceylon geval het, hom aan as Vikaris-generaal oor die hele eiland. Vr. Josef het nooit die vervolgde Katolieke onder die Calvinistiese bewind vergeet nie en dikwels die grens van Kandy oorgesteek om hulle in die geheim te gaan bedien. Teen dié tyd was sy aansien so hoog by die koninklike hof dat hy die amptelike vertaler van die koning geword en talle werke uit Portugees in Sinhalees vertaal het. Oral is Katolieke kerke gebou en ten spyte van die teenkanting van die Bhoedistiese monnike het die geloof veld gewen. Vr. Josef se gesondheid het ná al die jare van ontbering en harde werk egter begin ingee maar tot op die einde was hy nog steeds besig om sy beminde kudde dwarsdeur die eiland te besoek. Hy sterf op die 16de Januarie, 1711, in Kandy. ’n Reuse skare het by hierdie heilige priester se lyk kom waak. Hy is in die kerk wat hy gebou het begrawe. Op die 21ste Januarie, 1995 is hy deur Pous Johannes Paulus II tydens ’n seremonie in Colombo, die hoofstad van Ceylon (nou Sri-Lanka genoem) tot salige verklaar. Op 14 Januarie 2015 het pous Franciskus hom tydens ‘n buitelug Heilige Mis in Colombo tot heilige verklaar. Hy word alom vereer as die Apostel van Ceylon.
VOLG ONS OP FACEBOOK
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2024 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou