ohn Henry Newman word beskou as een van die belangrikste Christen intellektuele van die moderne tyd. Hy is op 21 Februarie 1801 in Londen gebore. Sy vader John Newman was ‘n bankier en sy moeder Jemina Fourdrinier het uit ‘n Hugenote familie gestam. Sy agtergrond was gerieflik middelklas en wat geloof betref binne die ‘Evangeliese-stroom’ van die Anglikaanse kerk. Sy skoolopleiding ontvang hy aan ‘n privaat kosskool in Ealing. Op die ouderdom van 15 jaar het Newman ‘n diep persoonlike geestelike bekering ervaar wat die grondslag gevorm het van sy onwrikbare en lewenslange geloof in God.
Hy studeer aan die Trinity-kollege in Oxford, waar hy geleer het om meer krities na te dink oor teologie. Hy was ‘n skrander student wat geweldig baie gelees het. Ná afloop van sy studies word hy verkies tot ‘fellow’ van Oriel Kollege, ‘n heel gesogte posisie. Hy word op 29 Mei 1825 tot priester in die Anglikaanse kerk georden. Anvanklik werk hy as kuraat oftewel hulppriester en later word hy aangestel in die belangrike posisie van vicar by die Uniiversiteitskerk, St Mary’s. Hier oefen hy deur sy preke ‘n baie groot invloed uit op die groeiende aantal studente en ander mense wat toegestroom het om na hom te luister. Hy werk ook as kollege tutor en doen veral navorsing oor die Kerkvaders. Die heersende liberale teologiese atmosfeer by Oriel Kollege, asook sy pastorale werksaamhede, word ‘n uitdaging vir sy Calvinistiese opvattings oor die geloof. Hy kom al hoe meer tot die besef dat die Protestantisme verarm geraak het omdat die bestudering van die eerste 1500 jaar van die Kerk se geskiedenis en die uiters belangrike teologiese ontwikkelings wat daar plaasgevind het, afgeskeep en geïgnoreer is. Saam met John Keble en Edward Pusey word hy een van die leiersfigure van die sogenaamde Oxford-beweging in die Kerk van Engeland. Deur middel van die skryf en uitgee van traktate wou hierdie beweging mense bewus maak van die ‘apostoliese geloof’ en die Anglikaanse kerk teen staatsinmenging beskerm. Hulle het gepoog om meer klem op die liturgie en sakramente te lê en die Anglikaanse kerk beskou as een van die drie takke van die Oerkerk (die ander twee was die Rooms-Katolieke en Ortodokse Kerke), met die Anglikaanse teologie wat ‘n via media (middeweg) vorm tussen Katolisisme en Evangeliese Protestantisme. Newman het egter mettertyd daaraan begin twyfel of die Anglikaanse posisie wel ‘n geldige een binne die Christendom was. Hy verdiep homself al hoe meer in die geskiedenis van die Vroeë Kerk en in 1843 bedank hy uit sy posisie by die universiteitskerk.In Februarie 1843 publiseer hy onder ‘n skuilnaam ‘n advertensie in die Oxford Conservative Journal, waarin hy al sy vorige kritiese uitsprake oor die Katolieke Kerk terugtrek. Hy lewer in September van daardie selfde jaar sy laaste preek as Anglikaan. Hy het tot die besef gekom dat die Katolieke geloof, die geloof van die Kerkvaders en van die Vroeë Christene was en hy het maar al te goed geweet wat dit vir hom sou inhou om as prominente Anglikaanse priester, skrywer en intellektueel na die Katolieke Kerk oor te gaan. In 1845 bedank hy ook as ‘fellow’ van Oriel Kollege.
Op 9 Oktober 1845 word Newman by Littlemore (waar hy as Anglikaanse priester ‘n kerk laat bou het), en waar hy sedert 1843 saam met ‘n paar volgelinge en geestesgenote ‘n gemeenskaplike lewe van gebed en studie gelei het, deur ‘n Italiaanse priester, Vr. Domenico Barbieri, in die Katolieke Kerk opgeneem. ‘n Paar weke later publiseer hy sy beroemde “Essay on the Development of Christian Doctrine”. Daarna is hy Rome toe om sy studies vir die priesterskap te voltooi. Op Drie-eenheid Sondag in die jaar 1847 word hy in Rome tot priester gewy. In Rome het hy die Oratoriium van Sint Filip Neri leer ken en diep onder die indruk gekom van dié baldadige Italiaanse heilige se besonderse apostolaat. Op 46- jarige ouderdom keer hy terug na Engeland en in Februarie 1848 stig hy ‘n Kongregasie van die Oratorium in Birmingham. Gou sluit ‘n aantal bekeerlinge uit die Anglikaanse kerk hulle by hom aan. Een van hulle was die bekende Vr. Wilfrid Faber wat in Mei 1849 deur Newman na Londen gestuur is om ook daar ‘n Oratorium te stig (die latere Brompton Oratorium).
Sint John Henry Newman kon die Engelse taal op meesterlike wyse beheers en hy word met reg beskou as een van die groot skrywers van Engeland. Sy gepubliseerde briewe, artikels, preke en boeke het ‘n geweldige invloed uitgeoefen en hy kan gesien word as een van die voorlopers van die Tweede Vatikaanse Konsilie in die Katolieke Kerk. Dikwels is hy egter misverstaan en hy moes in sy eie lewe baie negatiwiteit en persoonlike aanvalle verduur. Soos te verwagte het baie mense in die Anglikaanse kerk hom verwyt dat hy sy rug op die Nasionale Kerk van sy vaderland gedraai het, maar hy is selfs binne die Katolieke Kerk daarvan verdink dat hy onortodokse menings gehuldig het. Hy was ‘n baie fyngevoelige mens en die wantroue waaronder hy gebuk gegaan het, was baie pynlik vir hom. Erkenning sou uiteindelik tog kom en in 1879 op die ouderdom van 78 jaar is hy kardinaal gemaak deur pous Leo XIII. As leuse kies hy “Cor ad cor lquitur” (hart spreek tot hart). Hy het die kardinaalshoed aanvaar op voorwaarde dat hy nie ook (soos gebruiklik) tot biskop gewy sou word nie en toegelaat sou word om die res van sy lewe in sy geliefde Oratorium in Birmingham deur te bring. Dit is dan ook wat gebeur het. Hy sterf op 11 Augustus 1890. Sy begrafnisstoet vanaf die Birmingham Oratorium na die begraafplaas by Rednal het meer as 15 000 mense getrek.
Die saak vir sy heiligverklaring is in 1958 geopen. In 1991 het die Vatikaanse Kongregasie vir Heiligverklaring toestemming verleen dat sy lewe van heldhaftige deugsaamheid die titel van ‘eerbiedwaardige’ verdien. Op 19 September 2010 het pous Benedictus XVI hom tydens sy staatsbesoek aan Engeland in Birmingham tot salige verklaar. Op 13 Oktober 2019 verklaar pous Franciskus hom in Rome tot ‘n amptelike heilige van die Kerk. heiliges
VOLG ONS OP FACEBOOK vir die nuutste nuus
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2023 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou