Filip Neri is op 21 Julie 1515 in die bekende Italiaanse kultuurstad, Florence, gebore. Wat afkoms betref was sy familie ‘n gesiene een in die stad, maar teen die tyd van Filip se geboorte was hulle redelik verarm en glad nie meer prominent nie. Sy vader was ‘n notaris wat blykbaar nie baie suksesvol was nie en sy moeder is dood toe hy klein was. Hy ontvang sy skoolopleiding by die Dominikane van die beroemde San Marco-klooster. Dit was by hulle dat hy ‘n groot agting vir hul vurige prediker Savanarola (wat in 1498 op die brandstapel gesterf het) ontwikkel het. Wat hy by Savanarola waardeer het was dié Dominikaan se vurige en opregte geloof. Hulle persoonlikhede het egter hemelsbreed van mekaar verskil en by Filip sou Savanarola se konfrontasionele manier van die geloof afdwing geen byval vind nie. As jongman is hy na ‘n oom gestuur, wat ‘n ryk koopman was, met die hoop dat hy eendag dié se erfgenaam sou word en so hulle familie fortuin kon herwin. Die oom het by San Germano naby die bekende Benediktynse abdy van Monte Cassino gewoon. Daar het die jong Filip ‘n voorliefde ontwikkel vir die gewyde liturgie en homself begin verdiep in die geskrifte en lewens van die Woestynvaders. Hy het gou besef dat hy geen aanleg of belangstelling het om eendag sy oom se sake onderneming oor te neem nie. Binne ‘n jaar nadat hy in San Germano aangekom het vat hy die pad Rome toe.
In Rome het hy by ‘n Florentynse familie ingewoon en as betaling vir sy losies het hy hulle twee seuns onderrig. Hy het gou die katakombes van antieke Rome ontdek, waar soveel van die vroeë Christene begrawe was, en daar, omring deur die beendere van die martelare, het hy ure in gebed en besinning deurgebring. Hy het ‘n intense belangstelling in die lewens van die eerste Christene gehad. Aanvanklik studeer hy filosofie en teologie aan die Sapienza universiteit en was hy doodtevrede om as gewone leke gelowige sy verhouding met God te verdiep. Hy het geensins belang gestel om enige akademiese kwalifikasies te verwerf nie en hy het dan ook nooit sy studies formeel voltooi nie, maar sy teksboeke verkoop om ander behoeftige studente by te staan. Tydens die Pinksterfees in die jaar 1544 het Filip ‘n intense mistieke belewenis in die katakombes van San Sebastiano gehad. Hy het ervaar hoe die Heilige Gees hom liggaamlik binnedring en dié gevoel van warmte in sy hart (wat hy ook uitgestraal het) sou hom die res van sy lewe by bly. Hy sou egter nooit oor hierdie ervaring praat nie en dit was slegs in sy laaste lewensjare dat hy dit aan sy vriend Pietro Consolini toevertrou het.
Filip het oor ‘n baie innemende persoonlikheid beskik en mense was van nature aangetrokke tot hom. Hy was opgeruimd van geaardheid en lief vir grappe en poetse bak sonder om ooit ligsinnig te raak. Hy kon geen swartgalligheid duld nie en het geglo dat neerslagtigheid enige verhouding met God in die wiele ry. Hierdie Tweede Apostel van Rome, soos hy mettertyd genoem is, was ‘n gereelde gesig op die strate van die stad en hy het die vermoë gehad om mense op vriendelike wyse in gesprekke te betrek oor hul geloofslewe en verhouding met God. Die strate van Rome was berug vanweë die ledige jongmanne wat orals rondgehang het en dikwels by allerhande verkeerde en kriminele aktiwiteite ingetrek is. Filip het hul vriend en vertroueling geword en kon hulle uit hul leeglêery en doellose bestaan na ‘n vriendskap met die Here lok. Een van sy gunsteling gesegdes was: “En wanneer gaan ons begin om iets goeds te doen?” Vyftien jaar lank het Filip so sy apostolaat van vriendskap op die strate en markpleine van Rome beoefen. In hierdie tyd het hy, sonder om dit na te strewe, ‘n groepie volgelinge om hom begin versamel. Aanvanklik was hulle hoofsaaklik Florentyne en ambagslui, maar later het daar howelinge, kunstenaars en musici bygekom. As egte Florentyn was Filip ook ‘n fyn kultuurmens en het hy die waarde van veral musiek besef om mense tot gebed en geestelike verdieping te lei. Hy en sy groepie metgeselle het saamgekom om te bid en die Heilige Skrif en lewens van die Heiliges te bestudeer. Uit hierdie byeenkomste sou die latere Oratorium ontwikkel. Saam het hulle ‘n gereelde stedelike pelgrimstog van die Sewe Basilieke van Rome onderneem wat uiteindelik honderde mense sou trek.
Geïnspireer deur Filip se voorbeeld en onder sy leiding het dié groep gelowige manne maniere verken hoe om die Evangelie daagliks uit te leef. Hy en sy metgeselle wou daadwerklik die Evangelie die hoof aktiwiteit van hul daaglikse bestaan maak en so het hulle begin om die siekehuise te besoek en die dikwels verwaarloosde pasiënte te versorg. Die destydse siekehuise was onhigiënies en vuil en pasiënte moes na hulleself omsien. Hierdie soort barmhartigheidsdiens was veeleisend en het ware opoffering geverg. Filip en sy groepie metgeselle het hulleself al hoe meer toegewy aan ‘n lewe van gebed, geestelike verdieping en naastediens. In die jaar 1550 bring Filip die Broederskap van die Allerheiligste Drie-eenheid op die been om die duisende pelgrims wat na Rome in dié jubeljaar gestroom het te versorg. In daardie selfde jaar is hy ook, redelik teensinnig omdat hy geglo het dat hy dit nie waardig was nie, op aandrang van sy biegvader tot priester gewy. Hy het by die pastorie van San Girolamo ingetrek waar hy die huis met ‘n aantal ander priesters gedeel het. Hier het hy gou tot die besef gekom dat die biegstoel sy persoonlike apostolaat was en hy het ‘n biegvader en geestelike begeleier vir al hoe meer mense begin word. In die jaar 1575 is die Kongregasie van die Oratorium kerkwetlik opgerig, ‘n gemeenskap van sekulêre priesters wat sonder enige geloftes, slegs verenig deur die band van liefde, saam werk, leef en bid. Filip se eie persoonlikheid het ‘n onuitwisbare stempel afgedruk op die kongregasie wat hy gestig het.
Bo alles was Filip bekend vir sy streke en mense het nie altyd mooi geweet hoe om met dié grapjas heilige om te gaan nie. Filip het egter geweet hoe gevaarlik enige vorm van hoogmoed vir die siel is en in ‘n tyd wat behep was met prestige en persoonlike vertoon het hy humor gebruik om mense die waarde van nederigheid aan te leer. Hy het presies geweet hoe gevaarlik dit vir ‘n mens se geestelike vooruitgang is om jouself te ernstig op te neem. Filip Neri het ‘n beduidende rol gespeel om van die redelik dekadente Renaissance Rome die middelpunt van geestelike vernuwing en groei in die Kerk te maak. Hy sterf, alombemind, op 25 Mei 1595. Hy is op 11 Mei deur pous Paulus V saligverklaar en op 12 Maart 1622 deur pous Gregorius XV tot ‘n heilige van die Kerk verklaar.
VOLG ONS OP FACEBOOK
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2024 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou