Cesare Baronio (Cesar Baronius) is op 30 Augustus 1538 in die destydse hertogdom van Sora in die koninkryk van Napels (Italië) gebore. Hy was uit ’n adellike familie afkomstig, sy vader was Camillo Baronio en sy moeder Porzia Febonia. Hy ontvang sy skoolopleiding in Veroli en kwalifiseer hom in die regte in Napels. In 1557 sluit hy in Rome aan by die groeiende groepie volgelinge van Sint Filip Neri waaruit die Kongregasie van die Oratorium sou ontstaan. Op 27 Mei 1564 is hy tot priester gewy en hy dien aanvanklik as parogiepriester by San Giovanni dei Fiorentini totdat hy in 1575 die nuwe Oratoriaanse kerk van Santa Maria in Vallicella oorneem. Op aandrang van St Filip Neri bestudeer hy Kerkgeskiedenis en op versoek van pous Gregorius XIII hersien hy die Romeinse Martelaarsboeke. Hy word beskou as die vader van die moderne geskiedskrywing van die Kerk. Tussen 1559 en 1574 het ’n groep Lutherse geleerdes, hoofsaaklik van Magdeburg, ’n Kerkgeskiedenis gepubliseer wat in dertien eeue verdeel is, en die geskiedenis van die Kerk tot en met die jaar 1298 vanuit ’n Protestantse oogpunt vertel het. Dit het talle feitelike foute bevat en die Katolieke Kerk in ’n slegte lig gestel. Baronius het sy beroemde Annales Ecclesiatici in twaalf boekdele uitgege (vanaf die geboorte van Christus tot en met die jaar 1198) as ’n regstelling op die eensydige geskiedskrywing van die sogenaamde Magdeburg Eeue (soos die Lutherse boeke bekend gestaan het). Die eerste boekdeel van die Annales het in 1588 verskyn en ’n sensasie veroorsaak, oornag was Baronius ’n beroemde en bekende persoon. Baronius se werk sou eeue lank die standaard Kerkgeskiedenis van die Katolieke Kerk bly en het ’n enorme impak gehad op ontwikkeling van die Kerkgeskiedenis as ’n wetenskaplike vakgebied. Dit was byvoorbeeld hy wat die term “Donker Eeue” geskep het om te verwys na die tydperk vanaf die Val van die Romeinse Ryk tot en met die herlewing onder keiser Karel die Grote.
Cesare Baronius het oor ’n merkwaardige intellek beskik en hy het ’n natuurlike aanleg vir geleerdheid gehad. Sint Filip het dit opgemerk en hom die kanse gegee om sy potensiaal te ontwikkel. Tog het Sint Filip ook die gevaar raakgesien dat Baronius se natuurlike talente hom die weg van soveel ander begaafde Kerkmanne sou laat gaan om hoë posisies en mag na te streef. Daarom het Sint Filip hom dikwels die nederigste take in die Oratoriaanse gemeenskap laat verrig. Sy liefde vir die heilige Filip het van hierdie formidabele intellektueel ’n baie nederige en beskeie mens gemaak, uitstekend geskik vir sy taak as sieleherder. In 1592 is kardinaal Aldobrandini, wat jarelank ’n biegteling van Sint Filip was, tot pous verkies. Hy neem die naam Clemens VIII aan en aangesien Sint Filip, as gevolg van sy hoë ouderdom, nie die uiters veeleisende en belangrike posisie van pouslike biegvader kon beklee nie, het Filip voorgestel dat Baronius aangestel word. Verder volg Baronius ook St Filip in 1593 op as provoos oftewel owerste van die Oratorium.
In die jaar 1595 sterf St Filip Neri. So oortuig was Baronius dat sy geliefde vader Filip alreeds in die hemel was dat hy, alhoewel hy die verwagte plegtige Dodemis opgedra het, nie homself sover kon bring om die De Profundis vir die siel van Filip Neri te bid nie. Hy het vas geglo dat Filip alreeds die saligheid in God se aanskyn geniet het en dus nie ons gebede nodig gehad het nie. Toe hy egter sy brevier oopmaak vang sy oë die woorde van die Psalm 80:15, “Respice de caelo,” (kyk van u hemel af wat gebeur) ens. Daarna het hy nie gehuiwer om die heilige Filip se voorspraak in die hemel aan te roep nie, en het hy die pen opgeneem om die pragtige gebed te skryf wat vandag nog in die Oratorium gebruik word. Op aandrang van pous Clemens VIII aanvaar hy na baie teenstribbeling die kardinaalshoed en in 1597 word hy ook aangestel as bibliotekaris van die Vatikaan.
Vir die res van sy aardse lewe was Baronius intens bewus van St Filip Neri se hemelse hand oor hom. By verskeie geleenthede het Sint Filip aan hom verskyn om hom in moeilike tye te vertroos. Pous Clemens VII sterf in 1605 en by die daaropvolgende konklaaf was daar soveel stemme vir Baronius dat dit op een stadium gelyk het of hy tot pous verkies sou word. Hy het groot geskrik en hom na sy sel gehaas waar hy vurig gebid het dat hy dié verantwoordelikheid sou vryspring. Tot sy groot vreugde is hy nie tot pous verkies nie. Die nuwe pous, Leo XI, het egter skaars ’n maand regeer, toe hy sterf, en weereens is daar ’n konklaaf byeengeroep. Ook dié keer het soveel van die kardinale vir Baronius gestem dat dit gelyk het of hy tot pous verkies sou word. Weereens het hy hom in gebed tot die Here gewend en weereens is hy op die nippertjie nie verkies nie. Hy was so verlig en dankbaar dat hy die twaalfde en laaste boekdeel van sy Annales aan die nuwe pous, Paulus V, opgedra het. As kardinaal moes hy die Oratorium verlaat alhoewel hy altyd sy kamersleutel by hom gedra het en sy ou kamer in die Oratorium vir sy gebruik oopgehou is. Toe dit vir hom duidelik word dat sy einde nader kom, het hy gevra om na die Oratorium terug te keer. Daar, omring deur sy broers, in die huis vol kosbare herinneringe aan Sint Filip Neri, sterf Cesare Baronius op 30 Junie 1607. Hy is aan die linkerkant van die hoogaltaar in die Chiesa Nuova (Santa Maria in Vallicella) begrawe. Hy is op 12 Januarie 1745 “eerbiedwaardig” verklaar deur pous Benedictus XI
VOLG ONS OP FACEBOOK
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2024 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou