Hoewel die Oratorium van Fermo vandag nie meer bestaan nie sal dié Italiaanse stadjie altyd bekend wees vanweë die Oratoriaanse priester, salige Antonio Grassi, wat daar gebore is en sy hele lewe daar deurgebring het. Die Oratorium daar was een van die oudste Oratoriaanse gemeenskappe en is in 1586 gestig. Antonio is op 13 November in die jaar 1592 gebore. Sy vader is oorlede toe hy maar tien jaar oud was, maar van hom het Antonio ‘n lewenslange voorliefde vir die Maagd Maria en die Heilige Huis van Loreto geërf. Van kindsbeen af het hy die Heilige Mis in die kerk van die Oratoriane bygewoon en op 17-jarige ouderdom het hy op 11 Oktober 1609 by die Oratorium ingetree. Hy is op 17 Desember 1617 priester gewy.
In die Jubeljaar 1625 gaan hy op bedevaart na Rome waar hy veral inspirasie put uit sy besoeke aan dié plekke wat verband gehou het met die lewe en werksaamhede van Sint Filip Neri. Antonius het sy lewe en bediening geskoei op dié van die heilige stigter van die Oratorium. Hy is in 1635 tot provoos van die Fermo Oratorium verkies en hy sou sy gemeenskap in dié hoedanigheid vir die res van sy aardse lewe dien.
Antonius was ‘n man van gebed en hy was ook bevoorreg om etlike mistieke ervarings te beleef. Net soos sy geliefde Filip Neri het hy van die biegstoel sy persoonlike apostolaat gemaak. Hy het altyd verklaar dat die biegstoel by uitstek dié plek van vertroosting was waar ‘n priester Christus se medelye aan die berouvolle sondaar moes deurgee. Hierdie werk van versoening tussen God en sondaar het sy eie bediening oorheers en in Fermo het hy weldra bekend begin staan as die “Engel van Vrede” omdat hy oor die merkwaardige gawe beskik het om vyande met mekaar te versoen. ‘n Ander bynaam wat hom gegee was, was dié van “Vader van die Armes” omdat hy die heeltyd besig was om arm en behoeftige mense by te staan. Hoewel hy selde Fermo verlaat het, het hy tog gereeld op pelgrimstog na die Heilige Huis van Loreto gegaan – hy het altyd na Maria as die “Moeder van ons Huis” verwys. Dit was in Loreto waar hy op 4 September 1621 deur weerlig getref is en alhoewel sy klere aan sy lyf verbrand het, en hy vir ‘n ruk lank bewusteloos was, was sy liggaam ongedeerd. Hy het dié verbrande kledingstukke aan die Heilige Huis van Loreto geskenk en altyd gesê dat hy op voorspraak van die Maagd Maria gespaar gebly het.
Ten spyte van hierdie wonderbaarlike gebeurtenis was Antonius se lewe dié van ‘n doodgewone Oratoriaanse priester in ‘n doodgewone provinsiale stadjie, besig met doodgewone normale dinge. Hy het altyd vir sy medebroeders gesê: “Hoe pragtig is dit nie om as ‘n seun van Sint Filip te sterf nie.” Die eenvoudige Oratoriaanse leefwyse in gemeenskap, besig met gebed en normale huishoudelike take, gefokus op die aanbidding van God en naastediens, was vir hom die mooiste in die lewe. En dit is dan ook hoe hy op 13 Desember 1671 gesterf het, omring deur sy mede-Oratoriane, asook die aartsbiskop van Fermo. Die reputasie wat hy agterlaat het was dié van sagmoedige heiligheid. Hy is op 30 September 1900 deur pous Leo XIII tot salige verklaar. Vanaf 1966 word sy stoflike oorskot onder die hoogaltaar van die Karmeliete-kerk in Fermo bewaar.
VOLG ONS OP FACEBOOK vir die nuutste nuus
Die Oratorium, Wolfweg 29, Bridgton, Oudtshoorn, Suid-Afrika
Kopiereg © 1997-2023 Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn - Alle Regte Voorbehou