Wat is ‘n Oratorium

Soos enige persoon met selfs ‘n beperkte kennis van Latyn sal kan aflei, hou die woord ‘oratorium’ duidelik verband met gebed; die Latynse woord ‘orare’ beteken dan bloot ‘om te bid’. Dus is ‘n ‘oratorium’ ‘n plek waar daar gebid word, in welke geval elke kerk of kapel of vertrek waar gebed plaasvind, by regte ‘n ‘oratorium’ genoem kan word. Tog sal die menigte Afrikaanse mense wat Londen al besoek het, bewus wees dat daar ‘n baie groot en beroemde kerk digby die Victoria en Albert Museum is, wat bekend staan as die Brompton Oratory oftewel Brompton Oratorium. Ons het hier dus duidelik met ‘n eienaam te make en wel met ‘n naam wat vir vierhonderd jaar al ‘n amptelike en byna gespesialiseerde tipe plek, of gebou, of groep mense aandui.

Die Kongregasie van die Oratorium van Sint Filip Neri is die amptelike naam van ‘n organisasie wat volgens Kerkreg as ‘n Genootskap van die Apostoliese Lewe omskryf word. By die aanhoor hiervan sal baie Katolieke geneig wees om te sê: “O, dit is dan ‘n tipe orde soos die Dominikane of Jesuïete”. Nee, dit is definitief nie die geval nie – ‘n Oratorium (met ‘n hoofletter gespel) is ‘n groep sekulêre priesters en lekebroers wat saam in ‘n gemeenskap woon. Oratoriane is dus nie religieuse of kloosterlinge of ordepriesters nie. ‘n Oratorium het eintlik nie ‘n reël in dieselfde sin as byvoorbeeld die Reël van Sint Benedictus of die reëls van die verskillende ordes nie. Alhoewel elke Oratorium in die wêreld onderhewig is aan die Konstitusies en Algemene Verordeninge van die Kongregasie van die Oratorium soos deur die Pouslike Stoel goedgekeur, word elke huis as ‘n outonome entiteit bestuur en het elke huis dan ‘n selfopgestelde reël of soos dit bekend staan, Eie Verordeninge. Dié Eie Verordeninge is eerder ‘n samestelling van huisgebruike as ’n kloosterreël. Elke kerkwetlik opgerigte Oratoriaanse gemeenskap is dus ’n aparte en outonome kongregasie.

Iemand wat by ‘n Oratorium aansluit word ‘n Oratoriaan genoem en alhoewel hy in wese ‘n lekebroer of ‘n sekulêre priester sal wees besit sy lewe sekere eiesoortige kenmerke wat hom heel duidelik van religieuse oftewel lede van ordes, sowel as van sy mede-bisdomspriesters onderskei. ‘n Oratoriaan sluit by ‘n betrokke huis aan met die ernstige voorneme om die res van sy lewe in dié gemeenskap te bly en om in die besondere bediening van dié huis waarby hy aangesluit het te arbei. Ooreenkomstig die bedoeling van St. Filip Neri om ‘vrye mense in ’n vrye huis’ te hê, word hierdie voornemens egter nooit deur ‘n formele eed of gelofte of selfs tydelike beloftes bekragtig nie. In troue navolging van hul Stigter, Sint Filip Neri, word Oratoriane slegs deur die band van broederlike liefde aan mekaar en aan hul huis gebind.

Hier het ons dan die twee basies beginsels wat die Oratoriaanse lewe uniek maak en van alle ander bedieninge in die Kerk onderskei: eerstens is elke Oratorium ‘n selfregerende eenheid; en tweedens is elke Oratoriaan volkome vry in die sin dat hy ter eniger tyd sy gemeenskap kan verlaat en byvoorbeeld by ‘n bisdom of religieuse orde kan aansluit.

Sint Filip Neri en die ontstaan van die Oratorium

Sint Filip Neri is op die 21ste Julie 1515 in Florence, Italië gebore en daar word vertel dat hy tot aan die einde van sy lewe nog as ‘n tipiese Florentyn geëien kon word; soos sy stadsgenote was hy bekend vir sy fynsinnige kultuursmaak asook sy groot liefde vir vryheid. As ‘n jongman het hy die kans om ‘n ryk erfporsie te bekom verruil vir ‘n onsekere en armoedige bestaan in die groot stad Rome waar hy in 1535 arriveer en waar hy tot en met sy dood sou woon. Die onervare jongeling verdien aanvanklik sy skamele brood deur die twee seuns van ‘n mede-Florentyn te onderrig.

Daar was ‘n tipe baldadigheid in Sint Filip se karakter wat van vroeg af al tot uiting gekom het in sy voorliefde vir grappies en sy lekker lag. Sy innemendheid en sjarme het hom gou laat vriende maak. Sy aantreklike en selfs aanloklike persoonlikheid het hom altyd in situasies geplaas waar mense hom om raad kom vra het of bloot onder sy vriende gereken wou word. Filip het hierdie situasies en al sy menseverhoudinge met soveel deernis tot die groter eer van God gebruik dat selfs die ongelowigste mense hom nie daarvoor verkwalik het nie. Op die strate en pleine van Rome het hy gou bekend geword as Pippo Buono, oftewel, “Goeie ou Filip”. Hy was net so bemind om sy persoonlike heiligheid as vir sy vrolike streke waaraan niemand, ongeag rang of stand, ontkom het nie. Die mense van Rome kon partykeer maar net oopmond staar wanneer Filip, oënskynlik onverskillig, met iemand se opgeblase waardigheid die draak gesteek het. Dié ongehoorde kombinasie van grapjas en heilige had ʼn onwaarskynlike, maar gewenste uitwerking, want spoedig het almal met wie hierdie plesierige Florentyn in aanraking gekom het, hulself weer in alle erns tot God gewend. Bo alles was Filip se lewe gevul met opregte menseliefde en het hy oor fyn en diep mensekennis beskik. Filip het ‘n verbasende insig in die menslike karakter gehad en hy was maar net al te bewus van hoe dikwels dié basiese empatie met menswees die kerklike gebruik van sy tyd ontgaan het. Daar word vertel dat Filip, toe hy alreeds ’n ou man was, by geleentheid deur sy getroue dissipel Baronius (later die beroemde kardinaal) daarop attent gemaak is dat daar buite op straat ‘n groep raserige seuns aan die speel was. Filip se antwoord op hierdie klagte was: ” Solank as wat hulle nie met sonde besig is nie, kan hulle selfs hout op my rug kom kap.”

Daardie vroeë jare in Rome was vir Filip ‘n tyd van groei in dié diep bewustheid van God wat hy reeds as kind gehad het. Met alle erns het Filip homself daaraan toegewy om die duisternis en oënskynlike doelloosheid van ons aardse bestaan te probeer begryp. Hy het veral lang ure, partykeer selfs dae, in gebed deurgebring. Filip was ‘n mistikus – iemand wat waarlik die grootste genot daaruit geput het om alleen met God te verkeer. Een van sy geliefkoosde gebedsplekke was die antieke katakombes met hul bloedige geskiedenis van hoe die Christengeloof moeisaam ’n vastrapplek in die ou heidense Rome van die keisers gevind het. Deur sy vasberade soeke om die doel van sy eie lewe te ontdek en veral deur sy volharding in gebed het Filip stadigaan bewus geword van die rol wat hy geroepe was om te speel in die groter Godsbestel. Sy eeu was, net soos ons s’n vandag, behep met die tydelike en verbygaande aardse vreugdes en kwellinge, sonder enige besef dat dié komplekse en verwarrende wêreldse bekoring totaal oorskadu word deur die eenvoudige en ewige waarhede van die lewe en die dood. Ná ’n aantal jare, waartydens sy lewe veral deur sy alleenheid en gebed gekenmerk is, het die teruggetrokke aard van Filip se bestaan begin plek maak vir ‘n daadkragtige Woordgerigte bediening wat weldra op groot skaal mense na hom toe aangetrek het: Filip word nou ‘n mistikus in aksie.

St. Filip het nie op die straathoeke gestaan en preek en skreeu nie – dit was nie in sy geaardheid of roeping nie. Hy was wel deurentyd op straat waar hy mettertyd ’n bekende en beminde gesig geword het. Op straat het hy letterlik met almal gesels – met die bejaardes het hy die sonkolletjies uitgesoek en lank gesit en na hul lewensverhale geluister; die siekes en sterwendes het groot vertroosting uit sy besoeke geput; met die jonges en kleintjies het hy grappies gemaak en deelgeneem aan hul speletjies. Gou het daar om St. Filip ’n groepie jong metgeselle ontstaan – ’n klomp jongmanne (onder wie etlikes uit die welgestelde en opgevoede laag van die bevolking) wie se lewens, wat voorheen redelik doelloos was, nou betekenis gekry het. Filip het bekend geraak as die Romeinse Sokrates vanweë sy gemaklike manier met jongmense en sy wonderlike vermoë om diepsinnige waarhede by die jonger generasie ingang te laat vind. Filip had die gawe om tot die mees selfgerigte en materialisties-georiënteerde jongmensharte te spreek en hulle as’t ware met ‘n Godsbesef te oorrompel. Hierdie ywerige Godsbende, wat net soos Filip almal leke was, het daagliks vir geselsies en gebed byeengekom. Hulle was vroom in die beste sin van die woord, sonder om dweperig of oordelerig te wees. Uit hul gedeelde vriendskap en liefde vir hul mentor sou daar nou ’n beweging ontstaan met verreikende gevolge vir die hele Kerk.

Rome was die hoofsetel en hart van die Christendom, maar dié hart het by tye bra flou geklop. Die Christelike geloof was deel van die hele Europese kultuur en samelewing, maar by baie het dit nie veel verder as dit gestrek nie. Soos in ons eie tyd was die Christelike geloof by talle mense nie veel meer as ’n aantal oulike kulturele gebruike nie. Ná soveel eeue waartydens die Christelike geloof letterlik die aangesig van Europa onherroeplik verander het, was die persoonlike belewenis van Christus as Verlosser, dikwels begrawe en verdoesel onder konvensies en gebruike wat mense net nie meer op ‘n persoonlike vlak uitgedaag het nie. Die ongesonde vermenging van Kerklike gesag met staatsmag en die meegaande korrupsie wat dit teweeggebring het, het groot skade aangerig aan die manier hoe baie mense die doel van Christus se Kerk op aarde beskou het. Ver in die noorde, vanuit Duitsland het onrusbarende gerugte gekom van ’n grootskaalse verset teen die Kerk. Die Protestantse Hervorming het die Christendom geskeur en baie opgevoede mense sinies gemaak oor hul geloof. Gou het die sogenaamde hervormers onder mekaar begin stry en sonder die sentrale gesag van die Opvolger van St. Petrus het die Protestantse beweging versplinter in honderde groeperinge wat onderling baklei het. Van Christeneenheid en veral van geloofseenheid was daar nie meer sprake nie. Die drukkuns het vir die eerste keer die Heilige Skrif toeganklik gemaak vir alle geletterde mense, maar sonder ’n gesaghebbende struktuur om die Bybel te interpreteer het elke Jan Rap en sy maat nou ’n pous in eie reg geword met dikwels bisarre gevolge. Die Kerk Konsilie van Trente (1545-1563) het die onbetwisbare waarhede van die Christelike geloof in ’n moderne idioom vasgelê en so die vloed van kettery gestuit, maar dit sou nog ’n aantal jare duur voordat dié hoë teologie op voetsoolvlak mense se lewens sou begin aanraak.

As St. Paulus die Eerste Apostel van Rome was wat dié heidense wêreldstad tot kern van die Christendom omskep het, dan was St. Filip Neri die Tweede Apostel van Rome wat die korrupte Renaissance pouslike hof deur sy invloed tot model van godvresendheid sou omskep. Deur hul beoefening van verskillende volksdevosies, waaronder die nuwe Veertigure, en hul stedelike pelgrimstogte in en rondom Rome (veral die besoek aan die Sewe Basilieke van die Heilige Stad) het St. Filip en sy volgelinge ’n massa beweging onder die gewone mense begin wat mettertyd die adel en hoë klerus betrek het. Vir die Heilige Jaar van 1550 het St. Filip-hulle die Genootskap van die Heilige Drie-eenheid opgerig om na die arm pelgrims, waarvan Rome so vol was, om te sien. Tydens die Veertigure wat in al die groot kerke van Rome gehou is, was dit die gebruik dat Filip kort prekies sou lewer en hieruit het die geestelike oefeninge gegroei waaruit daar later die eerste kongregasie van die Oratorium sou ontstaan. En so het agtien jare van Filip se lewe verby gesnel.

Op aandrang van sy biegvader het Filip (wat homself as totaal onwaardig daarvoor beskou het) uiteindelik ingestem om tot priester gewy te word. Na sy wyding het hy sy pastorale bediening by die kerk van San Girolamo begin. Nou was hy nog meer as ooit tevore in aanvraag en gou moes ‘n spesiale vertrek op die solder van die kerk ingerig word om die geestelike oefeninge van sy groep te huisves. Dit was aan hierdie gebedsvertrek oftewel oratorium dat die latere Kongregasie sy naam ontleen het. Behalwe die aanhoor en uitlê van die Heilige Skrif, is daar musiek gemaak en het dié byeenkomste ’n groot menige mense gelok wat lede van die Pouslike Hof, sowel as die plaaslike werkloses en studente ingesluit het. As biegvader was Sint Filip so gewild dat hy saans voor hy gaan slaap het, sy kamersleutel onder sy deur geplaas het sodat die eerste biegteling hom vroeg in die oggend kon wakker maak en hy sy lange ure in die bieghokkie kon begin.

Die oratorium of geestelike oefeninge het daagliks plaasgevind. Gewoonlik was dit in die namiddag, wanneer die jongmense van Rome daarvoor berug was om vir kwaadgeld in die lome somerdae deur die strate rond te slenter. Daar is gewoonlik met ’n voorlesing uit die een of ander geestelike boek begin, en hieruit het die onderwerp gekom vir die middag se gesprek. Dit is opgevolg deur die lewensverhaal van ‘n heilige, waarna daar ‘n stuk Kerkgeskiedenis voorgelees is. ‘n Mens moet in gedagte hou net hoe ongewoon hierdie oefeninge was in ‘n tyd toe preke berug was vir hul hoogdrawende en bombastiese barok-redevoering. Die hele atmosfeer van dié samekomste was gemoedelik en opgeruimd. Daar was altyd musiek op Sondagmiddae en musici en komponiste van die statuur van Palestrina en Victoria was ten nouste gemoeid met dié gebeurtenisse. Sint Filip had ‘n absolute renons in tweegesigte of enige aanstellerigheid. Hy kon dit nie verdra dat godsdiens met swaarmoedigheid beoefen word nie en het altyd gesê dat hy geen melankolie of gewetensbeswaardheid in sy huis sal duld nie. Na dié samekomste het Sint Filip en sy volgelinge gewoonlik hospitale en inrigtings vir siekes besoek, waar hul aansteeklike vrolikheid en vroomheid groot in aanvraag was. Binnekort het Filip van sy metgeselle ook tot priesters laat wy aangesien die werklading vir hom net te veel geraak het. In 1575 bewillig Pous Gregorius XII die ou kerk van Santa Maria in Vallicella aan Sint Filip-hulle. In dieselfde jaar is die gemeenskap wat om Sint Filip tot stand gekom het, amptelike erkenning gegee deur ‘n Pouslike Bul wat op die 15de Julie uitgevaardig is en waarvandaan die stigting van die Kongregasie van die Oratorium gedateer word. Ook in dié jaar is die ou kerk gesloop en is daar begin met ‘n nuwe kerk oftewel “Chiesa Nuova” op Italiaans, ‘n naam wat die kerk vandag nog dra en die plek wat steeds die setel van die Romeinse Oratorium is.

Die groei en verspreiding van die Oratorium

Sint Filip het sterk klem gelê op die belangrikheid van gebed; sowel privaat- as liturgiese gebed; die lees van geestelike lektuur, veral die evangelies; ‘n gereelde gebruik van die Bieg en ontvangs van Heilige Kommunie en ‘n daaglikse aanhoor van die Woord van God. Hierdie kenmerke van die Oratorium het bygedra tot die vinnige verspreiding van die idees en leefwyse van Sint Filip se gemeenskap. Tog wou hy nooit hê dat die Oratorium in nog ‘n religieuse orde of kloosterliggaam moes ontwikkel nie. Sint Filip het dié onder sy volgelinge wat ‘n roeping daarvoor aan die dag gelê het na die betrokke orde of klooster gestuur wat hy as geskik vir hulle geag het.

Maar in sy eie huis het hy geen kloosteragtigheid geduld nie, en die sekulêre aard van sy priesters en lekebroers altyd sterk benadruk. ‘n Mens moet altyd in gedagte hou dat die Oratorium in die eerste instansie as ‘n groep leke gefunksioneer het, en dat priesters later vanuit hierdie oorspronklike kerngroep gewy is.

Tydens Sint Filip se leeftyd al was hy en sy volgelinge verantwoordelik vir ‘n geestelike hernuwing in die stad Rome. Dit is nie vir niks dat Sint Filip as die Apostel van Rome bekend staan nie. Stadigaan is die laksheid en ontaarde leefwyse wat so ‘n kenmerk van Renaissance Rome was, plek gemaak vir ‘n geestelikheid en ‘n diepsinnigheid soos ‘n mens van die hoofstad van die Christendom sou verwag. En hierin het Sint Filip en sy Oratorium nie ‘n geringe rol gespeel nie. Mense van die kaliber van Sint Ignatius van Loyola, Sint Karel Boromeo en Sint Frans van Sales was nie net bevriend of bekend met die Oratorium van Sint Filip nie, maar had ook groot agting vir die werk wat daar gedoen is. Sint Karel Boromeo het Sint Filip probeer oortuig om na Milaan te gaan en het die gebruike van die Romeinse Oratorium in sy bisdom ingevoer. Alreeds in 1586 is daar begin met Oratoriaanse geestelike oefeninge en byeenkomste in Napels, en weldra is Filip oorval deur versoeke om Oratoria in verskeie Italiaanse sentra te vestig. Sint Filip het self baie belang gestel in sendingwerk en wou graag na die Ooste toe gaan, hy is egter meegedeel dat Rome sy Indië sal wees en tot en met sy dood op die 26ste Mei 1595 het hy Rome nooit verlaat nie – hy is in sy geliefde Chiesa Nuovo begrawe. Sint Filip is op die 12de Maart 1622 in die geselskap van Sint Ignatius van Loyola, Sint Franciskus Xavierus, Sint Isidorus van Seville en Sint Teresa van Avila tot heilige verklaar. In die strate van Rome is daar gegrap dat daar op daardie dag vier Spanjaarde en ‘n heilige tot die altaar verhef is.

Die verdere geskiedenis van die Oratorium

Die Oratorium het ‘n bloeityd in die 17de en 18de eeu beleef toe nuwe gemeenskappe dwarsdeur die destydse Katolieke wêreld gestig is. Tot en met die Franse Rewolusie is daar 104 huise in Italië opgerig; sowel as 28 in Spanje en Portugal; 5 in Pole; 4 in Duitsland; 3 in België; 7 in Amerika en 5 in Indië. Dit was ‘n Oratoriaan, ene Vr. Josef Vaz van Goa in Indië, wat as die Apostel van Ceylon/Sri-Lanka bekend staan nadat hy in doodsgevaar ‘n Oratorium in die geheim op dié eiland gevestig het en so die vervolgde Katolieke bevolking getrou aan hul geloof gehou het ten spyte van al die pogings van die Nederlandse Calvinistiese bewindhebbers om die Kerk van Christus uit te roei. Dit is ongelukkig so dat baie Oratoria in die afloop van die Franse Rewolusie vernietig en onderdruk is. Al die huise in Portugal is deur die Markies de Pombal gesluit. In Frankryk het die Oratorium sy eie koers ingeslaan nadat Kardinaal de Bérulle ‘n huis in 1611 gestig het. Die Franse Oratoria het ontwikkel in ‘n gesentraliseerde liggaam wat vandag heeltemal afsonderlik van die Kongregasie van die Oratorium van Sint Filip Neri staan.

In die 19de eeu het die Oratorium ‘n baie belangrike vastrapplek in die Britse eilande verkry toe die vername Engelse bekeerling tot die Katolieke geloof, John Henry Newman, besluit het op die Oratoriaanse model as die doeltreffendste manier om die Katolieke Kerk weer in Engeland te vestig. In 1848 stig Newman ‘n Oratorium te Maryvale naby Birmingham (later sou dié huis na Edgebaston in Birmingham self verskuif).

Vanuit dié huis het nog ‘n groepie Engelse priesters, wat meestal uit bekeerlinge bestaan het, in 1849 onder leiding van Vr. Faber ‘n huis in Londen opgerig – dit is natuurlik vandag die heel bekende Brompton Oratorium. Behalwe die alreeds genoemde Newman, wat natuurlik vandag wêreldwyd aandag geniet as geestelike skrywer van formaat, was Vr. Faber self ‘n digter en skrywer wat veral in sy vaderland bekend was, ook vir die pragtige gesange wat hy geskryf het. Dié twee huise van Sint Filip het baie gedoen om Engelssprekende Katolieke se waardigheid as ‘n minderheid in hul eie land te vestig en te ontwikkel. Vandag is daar ook ‘n Oratorium in Oxford wat werksaam is in die studente bediening.

In hierdie eeu is die verdere verspreiding en ontwikkeling van Oratoriaanse Kongregasies meegehelp deur die vestiging van ‘n oorhoofse infrastruktuur. Tot in 1933 was daar net ‘n paar outonome en onafhanklike Kongregasies van die Oratorium wat almal gebruik gemaak het van die Konstitusie wat in 1612 deur Pous Paulus V goedgekeur is. Wat dit beteken het, was dat ander huise behalwe Rome die toestemming verkry het om die Konstitusie wat spesifiek op die Romeinse huis betrekking het, te kon gebruik. In 1933 is daar vir die eerste keer ‘n Algemene Kongres in Rome gehou en is daar ‘n Konstitusie vir die Oratorium as ‘n wêreldwye geheel opgestel. Die Oratorium het nou ‘n liggaam geword of soos daar Kerkregtelik gesê word ‘n “regspersoon”. Daar is besluit om dié geheel die “Instituut van die Oratorium” te noem, ‘n naam wat tot en met 1969 in gebruik was toe daar besluit is dat die benaming voortaan “Die Konfederasie van Kongregasies van die Oratorium van Sint Filip Neri” sal wees. Dié Konfederasie word deur die Pouslike Stoel as sulks erken en dien as ‘n middel waarby individuele huise mekaar doeltreffend kan bystaan sonder om aan die eie outonomie in te boet.

Die Algemene Kongres vergader elke ses jaar. Hierdie liggaam kan net die Konstitusies met die toestemming van die Pouslike Stoel hersien of verander en die Kongres het geen magte wat die bestuur van individuele huise betref nie. Dit is hoogstens ‘n adviserende liggaam wat die Visitator, die Prokurator-generaal en die ander beamptes van die Konfederasie vir ‘n vasgestelde tydperk verkies. Die Visitator is die amptelike besoeker van die Pouslike Stoel en voer sy amp uit soos neergelê in die Algemene Verordeninge.

Sedert die Tweede Wêreldoorlog het die Oratoriaanse familie uitgebrei in onder meer Duitsland (waar Oratoriane op die voorgrond van die Liturgiese vernuwing gestaan het) en die Verenigde State van Amerika (waar nuwe veelsydige aanpassings veral m.b.t. die Oratoriaanse pastorale bediening gemaak is, sowel as in die universiteit bediening).

Die lewe van ‘n Oratoriaan

Sint Filip se antwoord op die godsdienstige onverskilligheid en wêreldlikheid van die sestiende eeu was om die ou en beproefde wapens van die Katolieke Kerk tot diens van die gewone mens te stel. Hy het veral daarop aangedring dat elke Christen, wat ookal sy kwalifikasies, homself tot ‘n aktiewe lewe in die Kerk moet toewy. Daar was iets verfrissend nuut en spontaan omtrent die geestelike bymekaarkomste van Sint Filip.

Vandag nog is hierdie opgewekte en aktiewe meelewing van die Oratorium in leke se lewens iets eiesoortig en eg Filippyns. Daar word nooit vergeet dat die Oratorium oorspronklik deur leke en vir leke gestig is nie.

Elke Oratoriaanse huis word bestuur deur ‘n Provoos wat vir ‘n drie-jaar periode deur die stemgeregtigde lede in die huis verkies word. Die Provoos word kragtens Kerkreg erken as ‘n hoër-owerste alhoewel sy funksie in die huis meer van ‘n administratiewe aard as ‘n wetgewende een is. Alle belangrike besluite in ‘n gemeenskap word deur die Algemene Beraad geneem. Dié beraad bestaan uit al die vaders en broeders in ‘n huis wat hul drie-jaar proeftyd voltooi het. ‘n Persoon wat by ‘n Oratorium aansluit doen so met die voornemens om die res van sy lewe in dié betrokke huis deur te bring. Dit is ‘n kenmerk dat elke huis of soos dit in Kerktaal bekend staan, elke Kongregasie aan ‘n spesifieke bediening toegewy is. Alle lede in die huis werk dan na gelang van hul eie bevoegdhede saam aan dié oorkoepelende oogmerk van hul besondere huis. Iemand wat tot die Oratoriaanse lewe geroepe voel is eerstens ‘n persoon wat aangetrokke voel tot die heel unieke karakter van Sint Filip en veral die besonderse manier hoe hy sy eie sterk vryheidsdrang en individualiteit met ‘n opbouende en ondersteunende gemeenskapslewe versoen het. Veral vandag, waar sekulêre priesters dikwels gedoem is om in akute eensaamheid te arbei, is die wonderlike sin van samehorigheid wat in ‘n Oratorium te vinde is ‘n ware voorbeeld van die veelbesproke “Klein Christelike Gemeenskap” waarvan die voortbestaan van die Kerk vandag so afhanklik is. In teenstelling met die eenselwigheid wat baiekeer die charisma van ‘n religieuse huis of orde tipeer, is Oratoriane uit die aard van die saak baie meer individualisties, sonder om ooit afbreuk te doen aan die geestelike eendrag wat te vinde is in die liefdesband wat die lede van ‘n huis aan mekaar bind.

‘n Kenmerk van die Konstitusies van die Oratorium is hul demokratiese aard, met klem op vryheid, persoonlike verantwoordelikheid, selfdissipline en desentralisasie. Die Oratoriaanse lewe word gekenmerk deur ‘n afwesigheid van geloftes en allerhande opgelegde reëls. Sint Filip leuse was natuurlik altyd : “Vrye mense in ‘n vrye huis!”.

Oratoriane deur die eeue

‘n Bejaarde Oratoriaan het eenmaal dié opmerking gemaak: “Ons is maar ‘n kanttekening in die geskiedenisboek van die Kerk.” Dit is waar dat Sint Filip en sy volgelinge hul bes gedoen het om uit die kollig te bly. Daar is die welbekende staaltjie wat vertel word van dié dag toe die pous die rooi hoed (as teken dat hy hom tot kardinaal wou maak) aan Filip gestuur het: Filip het dié gesogte kleinood aan die straatjongens gegee om daarmee bal te speel. Sint Filip het dan ook nooit enige kerklike amp aanvaar nie. Talryk was die Oratoriane nog nooit nie, en groot getalle sou die aard van ‘n Oratoriaanse huis onteenseglik van sy gesinsaspek ontneem. Net soos Sint Filip was sy seuns deur die eeue maar sku vir die aanvaarding van openbare eer en het dié tipe van lae profiel werklik ‘n deel van die Oratoriaanse leefwyse geword. Tog het dit die Kongregasie nog nooit aan leiers op alle vlakke van die geestelikheid en Kerkleer en dies meer ontbreek nie. Dit is eintlik merkwaardig dat die Oratorium in elke eeu en dit ten spyte van geringe getalle en die afwesigheid van ‘n groot oorhoofse infrastruktuur tog sovele manne van formaat opgelewer het.

Een van Sint Filip se getrouste dissipels, Césare Baronius het een van die eerste volledige Kerkgeskiedenisse saamgestel – hy is later as’t ware geforseer om die rooi hoed te aanvaar.

Die Franse Oratoria wat deur daardie geestelike reus van sy tyd, Kardinaal de Bérulle op die been gebring is en in 1613 deur ‘n Pouslike Bul as ‘n aparte entiteit erken is, het gedurende die 17de eeu mense van die formaat van Nikolaas de Malebranche, Charles de Condren, Jean-Baptiste Massillon en Richard Simon opgelewer. Sint Jean Eudes was ook ‘n tyd lank ‘n Oratoriaan voordat hy weg is om sy eie kongregasie te stig. Die Franse Oratoria het veral ‘n geestelike en filosofiese herlewing in die akademiese instellings van hul land teweeggebring en was teen die einde van die 18de eeu, toe hulle wreed tydens die Franse Rewolusie onderdruk is, die onbetwiste toonaangeërs aan die universiteite van Frankryk. In die 19de is die Franse Oratoria weer opgerig en het dié kongregasie mense soos Louis Bouyer opgelewer, een van die mees vername geestelike skrywers van ons tyd.

Daar is vyf Oratoriaanse saligverklaardes, Juvenalis Ancina (1545-1605), Antonius Grassi (1592-1671), Sebastiaan Valfré (1629-1710) en Josef Vaz (1651-1711) en John Henry Kardinaal Newman (1801-1890). Die Oratoriaanse priester Luigi Scrosoppi (1804-1884) uit die stad Udine, in die noorde van Italië, is in die jaar 2000 deur Pous Johannes Paulus II tot heilige verklaar. St. Luigi was die Stigter van die Kongregasie van die Susters van Voorsienigheid. Manne van die kaliber van Biskop Arista van Acireale; asook Biskop Huix-Miralpeix van Lérida, wat albei tydens die Spaanse Burgeroorlog ‘n martelaarsdood gesterf het, het as seuns van Sint Filip onwrikbaar hul geloof bely. Nou meer onlangs was daar Kardinaal Bevilaqua van die Brescia Oratorium wat ‘n getroue raadgewer van Pous Paulus VI was. Die erns van die Oratoriaanse roeping bestaan egter nooit uit faam nie, maar om op ‘n beskeie en eenvoudige manier die Skepper te dien.

Die Oratorium hier ter plaatse

Die Oratorium hier in Suid-Afrika is uniek in vele opsigte. Dit is die eerste Kongregasie wat nog ooit in Afrika die lig gesien het, en dit is maar een van twee huise in die Suidelike Halfrond. Die huis het in 1992/92 ontstaan toe agt mans ‘n gemeenskapslewe op uitnodiging van die Biskop van Oudtshoorn in sy bisdom begin het. Die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Oudtshoorn is op die 15de Augustus, 1997, kerkwetlik opgerig as ’n outonome gemeenskap. Die spesifieke bediening van dié gemeenskap is om na die behoeftes van die snelgroeiende aantal Afrikaanssprekende Katolieke regdeur Suid-Afrika en Namibië om te sien. Die Oudtshoorn Oratorium behartig die vertalingskantoor van die A.T.P.S. (die Afrikaanse Taal Pastorale Streek van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie). Die A.T.P.S. se doel is om al die nodige liturgiese tekste vir kerklike aanbidding en die sakramentele lewe in Afrikaans beskikbaar te stel. In 2004 het die Oudtshoorn Oratorium ook ’n eie uitgewery op die been gebring: Die Oratorium Uitgewery spits homself toe op geestelike en devosionele boekies in Afrikaans en ’n aantal publikasies het al die lig gesien. Wat dié Kongregasie van die Oratorium so uniek maak is die feit dat die tradisionele Katolieke gemeenskapslewe hier in en deur Afrikaans uitgeleef word: Die Daaglikse Liturgiese Gebedsure van die Kerk word hier in Afrikaans gebid! In 2005 is ’n gemeenskap van die Susters van Voorsienigheid in Oudtshoorn gestig om in vennootskap met die Oratoriane die beplande St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum in Bridgton in Oudtshoorn te vestig. Hierdie beoogde projek het ten doel die geestelike en sosiale verheffing van die township gemeenskap op die wyse wat St. Filip Neri sy tyd se probleme so sukses in Rome aangespreek het. Dié beplande sorgsentrum sal uiteindelik opvoedkundige, sport en mediese fasiliteite aan die breër gemeenskap bied. Dit is dan ons opregte hoop en bede as die lede van dié (nog) enigste huis van Sint Filip in Afrika, dat ons Heilige Stigter se lewenslustige en byna uitspattige Goddelike uitbundigheid in en deur ons voorbeeld, ook hier onder die warm Suiderson ‘n vrugbare teelaarde sal vind vir dié grootse gawe van Liefde waarmee Christus sy Kerk so mildelik geseën het.

Bronnelys:

  • Addington, Raleigh, Wat is die Oratorium, (Afrikaanse Vertaling), Oudtshoorn, 1994.
  • Addington, Raleigh, The Idea of the Oratory, Burns & Oates, 1926.
  • Addington, Raleigh, St. Philip Neri, Catholic Truth Society, 1984.
  • Afrikaanse Vertaling van Die Konstitusies en Algemene Verordeninge van die Oratorium, Oudtshoorn, 1994.
  • Bouyer, Louis, The Roman Socrates, (Engelse Vertaling), Chapman, 1958.
  • Capecelatro, Alfonso, The Life of St. Philip Neri, (Engelse Vertaling), Burns & Oates, 1926.
  • Direktorium voor die spiritualiteit van de Heilige Filip Neri, (Nederlandse Vertaling), Rome, 1993.
  • Dawn, Peter, St. Philip Neri, Catholic Truth Society, 1989.
  • Finotti, Giorgio, Die Charisma van die Oratorium van Sint Filip Neri, (Afrikaanse Vertaling), Oudtshoorn, 1993.
  • Ponelle en Bordet, St.Philip Neri and the Roman Society of his times, (Engelse Vertaling), Sheed &Ward, 1932.
  • Türks, Paul, Das Oratorium, Aachen, 1984.
  • Vogl, Franz, Philipp Neri, Geschichte eines ungewönlichen Lebens, Pfarrgemeinderäten, Pfarrei Herz-Jesu, Pegnitz.