Geskiedenis

Die Kongregasie van die Oratorium in Oudtshoorn het sy ontstaan te danke aan die herlewing wat daar aan die einde van die tagtigerjare van die 20ste eeu in die Afrikaanstalige Apostolaat van die Katolieke Kerk ontstaan het.

In die vyftiger- en sestigerjare van die 20ste eeu het die Katolieke Kerk, deur veral die Nederlandssprekendes priesters van die Domikanerorde, baie uitgereik na Afrikaanssprekendes. In Pretoria is daar ʼn Katolieke Afrikaner Sentrum gestig en heelwat publikasies het die lig gesien. Mettertyd sou al die tyd en energie wat aan hierdie taal apostolaat bestee is egter ʼn geringe oes oplewer. Verskeie redes kan hiervoor aangevoer word: In ʼn sekere sin was die tyd nie ryp vir enige grootskaalse bekering van Afrikaanssprekendes tot die Katolieke geloof nie; die politieke klimaat het die tradisionele wantroue onder Afrikaners teenoor die “Roomse gevaar” aan die brand gehou en verskerp.

Ondertussen sou die Katolieke Kerk se toenemende betrokkenheid by die stryd om maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika blanke Afrikaners se posisie binne die Kerk bemoeilik – talle Katolieke blanke Afrikanergesinne sou binne ʼn geslag of twee verengels omdat hulle dit net te moeilik gevind het om binne die Kerk hul Afrikanerskap te behou (gesien in die lig van wat blanke Afrikaners besig was om aan die land te doen), of binne Afrikanergeledere hul Katolieke geloof uit te oefen (waar hulle al te dikwels as volksvreemdes of nog erger volksverraaiers uitgekryt en verstoot is). Verder is befondsing wat aanvanklik vir Afrikaans binne die Katolieke gebruik is al hoe meer na ander projekte (wat op daardie tydstip belangriker gelyk het) gekanaliseer. ʼn Aantal van die Nederlandse priesters wat prominent betrokke was by die Afrikaanstalige bediening het afgesterf of is na gebiede verplaas waar Afrikaans nie in die plaaslike Kerk gebruik is nie. Uiteindelik is die uitstekende Afrikaanse Katolieke maandblad “Die Brug” gestaak en het die Katolieke Afrikaner Sentrum het sy deure gesluit.

Die Soweto-opstande het die Afrikaanse taal binne die Katolieke Kerk gestigmatiseer as die blanke onderdrukkerstaal. ʼn Groot gebrek van die destydse Katolieke Afrikanersentrum, sowel as die houding onder ʼn groot gedeelte van die Katolieke Kerklui was dat ‘n baie beduidende feit totaal geïgnoreer is: die feit dat daar met die verloop van meer as ‘n eeu wel ‘n inheemse Afrikaansprekende Katolieke bevolking ontstaan en gegroei het. In die Wes en Noord-Kaap, sowel as regdeur Namibië was en is Afrikaans die moedertaal van derduisende Katolieke. In talle bisdomme (soos Keetmanshoop, Keimoes-Upington en Oudtshoorn) maak Afrikaanssprekendes die oorgrote meerderheid van die Katolieke bevolking uit. Die K.A.S. (Katolieke Afrikaner Sentrum) se aktiwiteite was hoofsaaklik gemik op die bekering en bediening van blanke Afrikaanssprekendes. Net so was die uitgangspunt van baie anti-Afrikaanse elemente binne die Katolieke Kerk dat Afrikaans alleenlik die taal van die blanke apartheidsregime was. Die feit dat daar alreeds ʼn lewende Afrikaanstalige Katolieke Kerkkultuur onder die bruin mense was, is deur min mense binne of buite die Kerk raakgesien. ʼn Groot uitsondering hier was die Duitse Pallotini-priesters en broeders en susters wat hoofsaaklik in die Suid-Kaap werksaam was, sowel as die Oblate van die Heilige Frans van Sales wat veral in die Noord-Kaap en Namibië hul bediening deur middel van Afrikaans uitgelewe het.

Na afloop van die Tweede Vatikaanse Konsilie (1962-65) het die gebruik van die volkstaal in die liturgie en kerklewe al hoe meer op die voorgrond getree. Die feit dat basiese liturgiese tekste in Afrikaans ontbreek het, was ʼn struikelblok wat nie langer geïgnoreer kon word nie. Aartsbiskop Dennis Hurley van Durban (destydse voorsitter van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie) het ʼn Afrikaanssprekende priester in sy bisdom, Vr. J. N. Johnson, genader en hom gevra om ʼn vertalingspan op die been te bring om die Romeinse Altaarmissaal en Leksionarium in Afrikaans oor te sit. Vr. Johnson was destyds die administrateur van Durban se katedraal en onder sy leiding is ʼn kantoor met ʼn voltydse sekretaresse (Me. T. Currin-Vieyra) aldaar ingerig. Die vertalingstaak was moeilik en vol slaggate: binne Katolieke geledere was daar min mense wat oor beide die nodige Afrikaanse taalvaardigheid sowel as kennis van Katolieke Kerktaal (om nie eers van die brontale te praat nie) beskik het, terwyl gekwalifiseerde Afrikaans vertalers buite die Kerk onmoontlik die spesifieke vereistes en nuanserings van die Kerktaal sou kon begryp. Ten spyte van al hierdie probleme het werk egter goed gevorder. ʼn Baie positiewe newe-effek van hierdie vertalingsaktiwiteit was die feit dat Afrikaanssprekende Katolieke oor ʼn wye spektrum mekaar ontmoet en leer ken het.

Uiteindelik is ʼn Afrikaanse Taal Pastorale Streek as ʼn onderdeel van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie in die lewe geroep. ʼn Uitvoerende bestuur onder die voorsitterskap van Biskop Edward R. Adams van Oudtshoorn is opgerig en gereelde vergaderings is belê (waar Afrikaanse Katolieke en mense gemoeid met die Afrikaanse bediening van die Kerk) van regoor Suid-Afrika en Namibië bymekaar gekom het. Onder talle van dié mense het die gedagte ontstaan aan ʼn nuwe Afrikaanse sentrum (inklusief dié keer) waar daar benewens vertaalwerk ook die eeue oue Katolieke religieuse lewe binne die raamwerk van ʼn gemeenskap beoefen kon word. Dit was hierdie idee wat die saad bevat het vir die totstandkoming van die Oratorium in Oudtshoorn. Ondertussen het die eerste groot liturgiese publikasies begin verskyn – groot was die vreugde toe die Afrikaanse Sakramentarium (Romeinse Altaarmissaal) in 1989 verskyn het, gevolg deur die eerste deel van die driedelige Leksionarium in Afrikaans in 1992.

Op die 1ste Julie 1992 het Vrs. Johnson en P F. Vietri saam met ʼn seminaris D. W. Dettmer hul intrek in Oudtshoorn geneem waar hulle met die toestemming van Biskop Adams die tradisionele gemeenskapslewe van die Kerk begin lewe het. Daar was al op hierdie stadium besluit dat die Kongregasie van die Oratorium met sy unieke charisma die ideale gemeenskap sou wees om ʼn kernpunt vir die breër Afrikaanstalige apostolaat te vorm. Belangstellendes het gekom en ʼn paar het gebly. In 1993 het L. D. Mostert en J. H. Boshof by die gemeenskap aangesluit wat ondertussen toestemming van die Prokurator-generaal van die wêreldwye Konfederasie van Kongregasies van die Oratorium van St. Filip Neri verkry het om as proto-Oratorium te funksioneer. Hierdie was ʼn tyd van groeipyne en voete vind. Daar is fluks gevorder met verdere publikasies (deel II van die Leksionarium in 1995 en deel III in 1997). Daar is begin gemaak aan die vertaling van die Liturgiese Gebedsure en so gou doenlik sou dié gemeenskap se kapel weerklink met die eeue oue gebede van die Kerk in Afrikaans.

Op 15 de Augustus 1997 is die Kongregasie van die Oratorium in Oudtshoorn kerkwetlik opgerig. Vr. Johnson is verkies tot eerste provoos (owerste) en Vr. Dettmer tot vikaris. Die ander stigterslede was Vr. Vietri, Vr. A. V. Cox, Br. Mostert (seminaris), Br. V. D. M. Meyer (seminaris), Br. P. C. Shitima en Br. Boshoff (lekebroeder). Vr. Johnson se ampstermyn het in 2000 verstryk en Vr. Dettmer is tot provoos verkies. In November 2002 verlaat Vrs. Johnson, Vietri en P. Chanda (noviet) en Br. Shitima (noviet) die Oudtshoorn Oratorium om ‘n nuwe Oratorium in die bisdom Port Elizabeth te stig. Op 15 Augustus 2003 word Vr. Dettmer weereens tot provoos verkies.

In 2004 begin die Oratorium met ‘n spesiale uitreiking na behoeftige jeugdiges en kinders in die township van Oudtshoorn. Die voormalige biblioteek in die Oratoriumhuis word as studie en aktiwiteitskamer ingerig. Op Sondag 24 Oktober 2004 word die stuk grond in Bridgton wat as die Kloof bekend staan (aangrensend aan Wolfweg) met ‘n prosessie toegewy aan die spesiale beskerming van die heilige Luigi Scrosoppi. ‘n Gedeelte van die grond is deur die Oudtshoorn Munisipaliteit aan die Oratorium toegeken vir die oprigting van die St. Luigi Scrosoppi Sorgsentrum.

Na etlike jare van onderhandeling arriveer die eerste Susters van Voorsienigheid (die kongregasie wat deur die Oratoriaanse priester en heilige, Luigi Scrosoppi gestig is) op 24 Februarie 2005 in Oudtshoorn. Die Kongregasie van die Oratorium en die Kongregasie van die Susters van Voorsienigheid gaan ‘n ooreenkoms aan om in vernootskap te tree vir die vestiging van die voorgenome Sorgsentrum in Bridgton.

Op 15 Augustus 2006 word Vr. Dettmer vir ‘n derde termyn tot provoos verkies. In Desember 2006 neem die Oratorium gemeenskap besit van hul nuwe huis (‘n voormalige fabriek in Wolfweg) wat stuk vir stuk tot die Oratoriumhuis omskep word. Op 15 Augustus 2007, die tiende herdenking van die kerkwetlike oprigting van ons kongregasie, is die nuwe Oratorium amptelik deur hoogeerwaarde biskop Adams ingewy.