10 Oktober – St. Franciskus Borgia

St. Franciskus Borgia

Hierdie agterkleinseun van die berugte pous Alexander VI sou uiteindelik aan die Borgia familienaam groot eer besorg. Sy vader was die hertog van Gandia in die Spaanse provinsie Valencia. As jongman tree Franciscus in die huwelik met Elenore de Castro, ‘n gelukkige huwelik waaruit daar 8 kinders gebore sou word. In 1539 word hy in die gesogte en belangrike amp van keiserlike onderkoning in Katalonië aangestel.

Hy was ʼn uitstekende goewerneur wat in alles die belange van al sy onderdane op die hart gedra het. Hy wis korrupsie in die staatsdiens uit en maak van sy administrasie ʼn toonbeeld van die Christengeloof soos toegepas in die praktyk. In 1546 sterf sy vrou en in die daaropvolgende jaar tree hy in by die Jesuïete. Hy bemaak sy titel aan sy oudste seun en deel al sy besittings onder sy kinders uit. In 1551 word hy tot priester gewy. Dit was sy ernstige voorneme en begeerte om as nederige Jesuïet priester nooit weer aan sy voormalige hoë posisie en adellike afkoms herinner te word nie.

Die vaardighede wat hy deur die jare opgebou het moes egter in diens van die Jesuïete ontplooi word. St. Ignatius stel hom aan as Jesuïet kommissaris vir Spanje en Portugal en deur St. Franciscus se harde werk brei dié jong orde op fenomenale wyse uit in dié twee lande. In 1565 word St. Franciscus aangestel as owerste-generaal van die Jesuïet – sy invloed op dié vormingsjare van die Jesuïet was so groot dat hy deur baie as die tweede stigter (naas St. Ignatius self) van die Jesuïet beskou word. Sy hoë afkoms en briljante intellek ten spyt is St. Franciscus al in sy eie leeftyd deur die gewone volk as heilige vereer. Hy was ʼn besielende prediker en groot skares het saamgedrom om hom te hoor. Hy sterf in 1671 omring deur sy kinders en kleinkinders