9 Oktober – St. Johannes Leonardi

St. Johannes Leonardi, priester

Johannes Leonardi is in 1541 in Lucca in Toskane gebore. As ʼn jongman het hy homself voorberei om ʼn loopbaan as ʼn apteker te volg. Later sien hy egter hiervan af en besluit hy om priester te word. As priester raak hy veral bekend as prediker en hy spits homself toe op die Godsdiensonderrig van kinders. Hy is die stigter van die Orde van die Reguliere Klerici van die Moeder Gods. Hy bring ook ʼn genootskap van priesters tot stand met as doel die verspreiding van die geloof. Dit was hierdie laasgenoemde organisasie wat die grondslag gevorm het van die huidige Propaganda Fide Kollege in Rome. Sint Johannes sterf in 1609 aan ʼn siekte wat hy opgedoen het terwyl hy besig was om na die slagoffers van die plaag om te sien. Hy is in 1938 heilig verklaar en sy feesdag is in 1941 by die Algemene Romeinse Kalender gevoeg.