9 Oktober – St. Denys (Denis)

St. Denys (Denis) en metgeselle, martelaars

Volgens dit wat ons meegedeel word deur Sint Gregorius van Tours het Denys in die middel van die derde eeu vanuit Rome in Gallië (die huidige Frankryk) aangekom. Sint Denys was die eerste biskop van Lutetia, die latere Parys. Saam met ‘n priester genaamd Rusticus en ‘n diaken met die naam Eleutherius het St. Denys groot sukses behaal deur die Blye Boodskap van Jesus Christus te verkondig. Die plaaslike Romeinse owerhede het egter te hore gekom van hul aktiwiteite en hulle laat arresteer. En dit was naby dié stad dat hy en twee van sy priesters ʼn marteldood gesterf het. Die plek waar hulle onthoof is, het gou die naam ‘martelaarsberg’ gekry, ‘Montmartre’ in Frans. Hul grafte het vinnig tot ‘n groot en belangrike bedevaartoord ontwikkel. Die eenvoudige kapel wat aanvanklik hul stoflike oorskot gehuisves het, is in die 7de eeu deur die groot abdy van St. Denis vervang.