8 Oktober – St. Demetrius

St. Demetrius, martelaar

St. Demetrius is en van die gewildste heiliges in Oos-Europa waar hy tradisioneel vereer word as Demetrius Megalomartyrius (die Groot Martelaar). Hy was waarskynlik ‘n soldaat aangesien hy van die vroegste tye af as beskermheilige van die militêr vereer is. Sover bekend het hy tydens die vervolgings van die Christene onder keiser Maximianus die marteldood in Sirmium (Mitrovica) gesterf. Sy vader was blykbaar die baie bekwame aanvoerder van die plaaslike Romeinse garnisoen.

By sy afsterwe was sy prestige so groot dat sy laaste versoek, naamlik om sy geliefde seun Demetrius as sy opvolger aan te wys, toegestaan is. Die jong Demetrius het gou laat blyk dat hy waardig was om sy vader se skoene vol te staan. Wat nie bekend was nie was die feit dat hy ‘n Christen was. Solank as wat die uitvoer van sy pligte nie met sy geloofsoortuiging gebots het nie kon Demetrius as ‘n baie begaafde en bevoegde aanvoerder funksioneer. Toe die keiser egter die leërmag se hulp inroep met die vervolging van Salonika se Christenbevolking het hy geweier en sy eie Christenskap in die openaar bely. Die geskokte keiser het hom onmiddellik laat teregstel. Hy is volgens oorlewering in Salonika begrawe waar daar in die 5de eeu ‘n reuse basiliek oor sy graftombe opgerig is. Dié basiliek was een van die bekendste in die destydse Christelike wêreld en is deur Leontius, die Prefek van Illyrcum laat bou. In die Oosterse Kerke en veral in die Balkanlande word sy voorspraak ingeroep as beskerming teen die bose en as helper in alle noodgevalle. Sy graftombe het gedurende die Middeleeue duisende pelgrims vanuit die Weste en Ooste gelok en daar bestaan ooggetuie weergawes dat sy relieke somtyds n spesiale olie afgeskei het (vandaar sy Griekse titel Myrobletes wat verwys na iets of iemand wat olie afskei). Vandag nog word sy fees op grootskaal deur die Christene van die Balkan gevier.