6 Oktober – St. Bruno

St. Bruno, priester en stigter van die Kartuisers

Dié groot geestelike en Stigter van die Kartuiserorde is in die jaar 1030 in Keulen gebore – hy was afkomstig vanuit ʼn gegoede familie. Hy voltooi sy skoolopleiding aan die beroemde Katedraalskool in Rheims en keer na Keulen terug waar hy as priester gewy is en ʼn kanunnikskap by die Kerk van Sint Kunibert gegee is. In 1056 keer hy op uitnodiging terug na Rheims waar hy as professor in grammatika en teologie aan sy ou skool doseer. Hier bou hy spoedig ʼn reputasie op as ʼn heilige Godsgeleerde wat sy fenomenale intellek geheel en al tot Gods beskikking gestel het.

Vir die volgende agtien jaar was hy werksaam by die Katedraalskool en jongmanne van oor die hele Europa het gekom om onderrig by hom te ontvang. Bruno se suksesvolle akademiese loopbaan bring roem en rykdom in sy lewe, tog was hy ʼn eenvoudige mens wat veral toegewy was aan sy gebedslewe. Oplaas besluit hy om die welvarende en gemaklike akademiese wêreld vaarwel toe te roep, veral toe hy hoor dat die Katedraal van Rheims hom tot aartsbiskop wou laat verkies. Hy bedank dus van sy benefies en pos by die skool en gaan die wildernis in, vergesel van ʼn paar vriende. Bruno en sy metgeselle plaas hulself onder die geestelike leiding van Sint Robert, die Ab van Molesmes en hulle bou vir hulself ʼn kluisenary by Speche-Fontaine. Hier bring hulle ʼn geruime tyd deur in gebed en diepe bepeinsing Hier kom hulle ook tot die besef dat hulle graag ʼn georganiseerde en gereguleerde kolonie kluisenaars op die been sou wou bring. Gevolglik lê hulle hul planne voor Sint Hugo, die Biskop van Grenoble. Hierdie heilige had groot begrip en simpatie vir hul strewe en besluit om hulle van hulp te wees.

In 1084 skenk Sint Hugo aan Bruno en sy groepie ernstige manne die wildernis van Chartreuse en maak al die regte vir hierdie verlate gebied aan hulle oor. Vol ywer en besiel met ʼn Goddelike vreugde het Bruno-hulle onmiddellik hul woud betrek en ʼn kapel omring met ʼn paar baie primitiewe selle gebou. Van hierdie tydstip af word die oorsprong van die Kartuiserorde, wat sy naam aan die plek Chartreuse ontleen, gedateer. Die hele gebied is verbode verklaar vir enige buitestaanders. Die monnike het daagliks in hul baie eenvoudige kerk byeengekom vir die Oggend- en Aandgebed terwyl hulle die ander Liturgiese Gebedsure alleen in hul selle gebid het. Eenmaal per dag het hulle almal saam hul maaltyd in die refektorium genuttig. Algehele armoede was die goue reël van dié gemeenskap – selfs die kerk was ʼn sober eenvoudige vertrek sonder enige versiering – slegs die kelk wat tydens die Heilige Mis gebruik is, was silwer. Die monnike het hul dae opgedeel tussen gebed en hande arbeid. Hulle het ook baie kopieskrywery gedoen en laasgenoemde aktiwiteit het weldra in hul grootste bron van inkomste ontwikkel. Hul eremitiese lewe is sonder ‘n geskrewe reël gelei alhoewel hulle leefwyse baie ooreenkomste met die Reël van Sint Benediktus vertoon het. Eers in 1127 het die vyfde ab van Chartreuse, ene Guido, vir die Kartuisers ʼn reël neergepen. In die jaar 1090 is die gemeenskapslewe van Chartreuse onderbreek toe Bruno deur Pous Urbanus II na Rome ontbied is. Bruno stel Landewyn in sy plek aan as owerste maar meeste van die monnike en later Landewyn self het Bruno in elk geval na Rome gevolg. Bruno oorreed hulle egter om terug te keer en die gemeenskapslewe te hervat terwyl hy in Rome agtergebly het en vir homself ʼn kluisenary in die ruïnes van die Baddens van Diocletianus opgerig het. Hier was Bruno vir baie jare die getroue raadgewer van die hoë kerklui van sy tyd. Sint Bruno sterf op Sondag 6 Oktober, 1101. Aangesien die Kartuisers enige vorm van publisiteit geheel en al vermy, is Bruno tot vandag toe nog nie formeel tot Heilige verklaar nie. Pous Leo X het die Kartuisers egter in 1514 toestemming gegee om Sint Bruno se feesdag te vier en in 1674 het pous Clemens X dié fees toepaslik op die hele Westerse Kerk gemaak.