5 Oktober – St. Luigi Scrosoppi

St. Luigi Scrosoppi, priester en stigter van die Susters van Voorsienigheid

Word as PLEGTIGHEID deur die Kongregasie van die Susters van Voorsienigheid en die Kongregasies van die Oratorium van St. Filip Neri gevier.

Luigi Scrosoppi is op 4 Augustus 1804, in die Noord-Italiaanse stad, Udine, gebore. Sy vader, Domenico was ʼn juwelier en sy moeder, Antonia, ʼn huisvrou. In 1806 tree sy ouer broer Carlo in by die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Udine. In die daaropvolgende jaar sou die troepe van Napoleon dié gebied van Italië egter beset en talle kloosters en religieuse huise, waaronder ook die Oratorium, dwing om te sluit. St. Luigi se kinderjare tuis was gelukkig, maar die ellende wat die langdurige oorloë van Napoleon agtergelaat het kon nie anders as om ʼn diep indruk op die jong Luigi te maak nie. Daar was grootskaalse armoede in sy tuisdorp en baie mense was sonder werk en heenkome. Luigi se familie was diep godsdienstig en hulle het nie net hul godsdiens beoefening tot Sondae in die kerk beperk nie, sy moeder veral het baie gedoen om die armes by te staan. Hy het dus in ‘n huis grootgeword waar hy eerstehands ervaar het dat ‘n mens se geloof in Jesus Christus die manier hoe jy leef en jou omgang met ander mense beïnvloed. Ondertussen is die Oratorium weer toegelaat om as religieuse gemeenskap in Udine te funksioneer. Luigi se broer was ʼn Oratoriaan en Luigi het aanklank gevind by die charisma van die Heilige Filip Neri. Op ʼn redelike vroeë ouderdom het hy dus besluit om ʼn priester in die Oratorium te word.

Op 31 Maart 1837, is Luigi tot priester gewy in die katedraal van Udine. Die volgende dag vier hy sy eerste Heilige Mis in die kerk van St. Maria Magdalena, weerskante van hom was sy twee broers Vr. Carlo en Vr. Giovanni Battista (wat die vorige jaar tot priester gewy is). Dit was dan ook in hierdie kerk, wat onder die sorg van die Oratoriaanse vaders was, dat Vr. Luigi sy priesterlike bediening begin het. Sy broer, Vr. Carlo het die beheer van ʼn weeshuis vir jong hawelose meisies geërf by ene Vr. Cajetanus Salomoni, wat dié tehuis geopen het in die jaar van die groot hongersnood, 1816. Vr. Luigi het sy broer bygestaan met die bestuur van dié weeshuis. Soos die ekonomiese situasie van die hele provinsie egter verswak het, was dit al hoe moeiliker om dié weeshuis te onderhou. St. Luigi het letterlik uitgespring en gaan bedel, deur die strate van Udine het hy geloop en met ʼn eselkarretjie is hy die omliggende platteland in om voedsel vir die weeskinders te bedel. Tydens die bedeltogte het Vr. Luigi allerhande ervarings gehad – op ʼn dag het sy gebedel iemand so geïrriteer dat die persoon hom vir ʼn dief en niksnuts uitgesekel en hom toe sommer ʼn oorveeg gegee het, vr. Luigi het dié man vriendelik aangekyk en geantwoord: “Dit was dan vir my, maar het u dan nie ietsie vir my weeskindertjies nie?” Sy aanvaller was so van stryk gebring dat hy om verskoning gevra het en hom hulp aangebied het. Vr. Luigi het ʼn baie diep geloof in die Goddelike Voorsienigheid gehad en nooit is hy dan ook in dié vertroue teleurgestel nie.

Met hierdie onwrikbare vertroue in die Goddelike Voorsienigheid het Vr. Luigi en sy broer Carlo ʼn verband uitgeneem en ʼn huis gekoop wat hulle die Huis vir die Behoeftiges genoem het. Hier het hulle ‘n tuiste gebied aan behoeftige jongmeisies. Die jongmeisies wat hier kom woon het, is ook opgelei en die een of ander ambag aangeleer sodat hulle eendag selfversorgend kon wees. Mettertyd het Luigi ‘n groepie vroue om hom versamel wat na die jongmeisies omgesien het – uit hierdie groepie toegewyde vroue sou daar uiteindelik die Kongregasie van die Susters van die Voorsienigheid groei. Pous Pius IX teken op 22 September 1871 die dekreet waarby hierdie nuwe kongregasie kerkwetlik opgerig is. Beproewinge het nie uitgebly nie. Die eenwording van Italië het ʼn regering aan bewind gebring wat die rol van die Kerk in die samelewing wou beperk. Talle kloosters en Kerklike instellinge is daartoe gedwing om te sluit. Die Oratorium van St. Filip Neri in Udine sou ook in die slag bly. As ʼn welsynsorganisasie kon die Huis vir die Behoeftiges en die Kongregasie van die Susters van die Voorsienigheid gelukkig bly voortbestaan. Alhoewel St. Luigi dus ʼn nuwe kongregasie gestig het wat oorleef het, was sy eie kongregasie se tyd in Udine nou verby. Die sluiting van die Oratorium was vir hom ʼn sware teenslag – tot aan die einde van sy lewe sou hy egter ʼn getroue seun van St. Filip Neri bly. Die getalle van die Susters het gegroei en weldra is nuwe gemeenskappe regoor Italië tot stand gebring. Hoe ouer hy geword het hoe meer het Vr. Luigi soos sy geestelike vader, St. Filip, geword. Teen die einde van sy lewe het Vr. Luigi aan die susters gesê dat hy ʼn klop geluid van die reliek van St. Filip gehoor het en dat dit sy naderende einde beteken. Hy sterf dan ook op 3 April 1884. Vandag werk die Susters van die Voorsienigheid dwarsoor die wêreld en word St. Luigi se idee van ʼn Huis vir die Behoeftiges op talle plekke met groot sukses gebruik.