4 Oktober – St. Franciskus van Assisi

St. Franciskus van Assisi, stigter van die Minderbroeder-orde

In om en by die jaar 1181 is daar in die dorpie Assisi in die streek van Umbria in Italië ʼn seun gebore vir ʼn koopman genaamd Pietro Bernadone en sy vrou Pica. Die meeste van Pietro se handelsbelange was in Frankryk en omdat hy tydens sy seun se geboorte in daardie land was, is die kleintjie “Francesco” oftewel “Fransman” genoem, alhoewel sy doopnaam eintlik Giovanni (Johannes) was.

Soos die meeste jongelinge van sy tyd was Franciscus behep met die idee om ‘n ridder te word – die rondswerwende troebadoere was altyd aan die sing oor hoe opwindend en romanties die lewe van ‘n ridder was. Franciscus se ouers was welaf en as jongman was Franciscus redelik onverantwoordelik en uitspattig wat geld betref. Hy het geen belangstelling in studies gehad of die aanleer van sy vader se sake onderneming nie. Al sy tyd het hy saam met sy ligsinnige vriende deurgebring en sy geld het hy uitgegee op modieuse klere en die duur uitrusting wat die ridders gedra het. Italië was ‘n verdeelde land en feitlik elke stad en dorp het in voortdurende vyandskap met sy bure geleef. Op twintigjarige ouderdom neem Franciscus deel aan ʼn skermutseling wat tussen sy tuisdorp Assisi en die nabygeleë Perugia uitgebreek het. Tydens dié geveg word hy deur die vyand gevangene geneem en na Perugia weggevoer waar hy in aanhouding geplaas is. Hier bring hy ʼn volle jaar deur in die gevangenis – hy aanvaar blykbaar sy gevangenskap met ʼn blymoedige gees en gee homself nooit oor aan wanhoop nie. Toe hy egter vrygelaat word en terugkeer na Assisi word hy gevaarlik siek en keer sy kragte eers na ʼn geruime tydjie terug. Tog wil hy nog steeds die roemryke lewe van ʼn ridder lei. Nadat hy aangesterk het, koop hy vir homself die nodige duur uitrusting soos dit ʼn ware ridder betaam en besluit hy om aan te sluit by die leërmag van Walter de Brienne, ‘n huursoldaat wat in die Suide van Italië aan die veg was. En so pak Franciscus die lang tog suide toe aan. Op pad ontmoet hy egter ʼn verarmde edelman en Franciscus word so oorkom deur medelye dat hy sy uitrusting aan die man gee.

By die dorp Spoleto aangekom word hy skielik baie ernstig siek en kon hy nie meer verder nie. Dit is hier waar hy op ʼn dag die stem hoor wat hom aanmoedig om “die meester en nie die mens nie te dien”. Franciscus wil hieraan gehoorsaam wees en hy keer terug na Assisi waar hy minder geesdriftig sy voormalige lewe voortsit. Op ʼn dag toe Franciscus te perd deur die veld net buitekant Assisi ry, gewaar hy ‘n melaatse. Alhoewel dié grusame gesig hom met afsku vervul, klim hy nogtans van sy perd af om die man se gebedel aan te hoor, en toe gebeur die onwaarskynlike: Toe Franciscus sy hand na die melaatse uitsteek om hom ‘n aalmoes te gee vind hy skielik dat hy vorentoe loop en die verminkte man omhels. ʼn Mens moet die vrees in gedagte hou waarmee hierdie ongeneeslike siekte in Franciscus se tyd en vir baie eeue daarna bejeën is. Van nou af was dit asof hy homself nie kon wegskeur van die armes en behoeftiges nie. Hy besoek daagliks die siekehuise en hy begin om sy klere en geld uit te deel aan wie ook al dit benodig. Dit word ‘n gewoonte by hom om die ou vervalle kerk van San Damiano buite die dorpsmure te besoek en daar tyd in gebed deur te bring. Op ʼn dag terwyl hy in dié murasie voor die ou krusifiks kniel hoor hy ‘n stem wat hom driemaal toespreek en sê: “Franciscus, herstel my huis wat aan die omval is’: Aangesien San Damiano niks meer as ‘n bouval was nie, dink die jong heilige toe dat die Here hom opdrag gegee het om dié gebou te restoureer. Hy gaan dus huis toe en neem ‘n wavrag materiaal uit sy vader se stoorkamer en verkoop dit. Toe neem hy die geld na die bejaarde priester wat by San Damiano gewoon het en lê dit by dié ou man se voete en vra hom of hy ook daar mag bly. Die priester weier om die geld te aanvaar, maar sê dat Franciscus gerus daar kan kom bly.

Toe Pietro, grootliks verontwaardig, daar opdaag, gaan kruip Franciscus weg en bring hy die volgende paar dae in gebed en vas deur. Die volgende keer dat die dorpenaars weer vir Franciscus te siene gekry het, was sy klere in so ‘n gehawende toestand en het hy so armlastig daar uitgesien dat hulle hom vir mal uitgeskel het. Franciscus se vader was woedend toe hy dié nuus hoor en het onmiddellik na San Damiano gegaan en sy seun met geweld daar weggesleep en hom tuis in ‘n kamer opgesluit. Op ‘n dag toe sy vader uithuisig was, het sy moeder hom vrygelaat. Franciscus het onmiddellik die pad San Damiano toe gevat. By sy vader se tuiskoms het hy Franciscus soontoe agtervolg en in die openbaar onterf. Pietro dring egter daarop aan dat Franciscus die geld wat hy verkry het deur sy vader se kledingstowwe te verkoop aan hom teruggee. Franciscus antwoord dat dié geld nou aan God behoort. Daarop sleep Pietro sy seun voor die Biskop van Assisi, Giudo. Toe die biskop hom beveel om dit wat hy van sy vader geneem het terug te besorg, neem Franciscus hom heel letterlik op en trek hy net daar en dan al sy klere uit en gee dit aan sy verstomde vader. Die gehawende klere van een van die Biskop se knegte is toe aan die jong Heilige gegee: Met groot dankbaarheid het hy dié klere ontvang; en nadat hy met kryt ‘n kruis op die materiaal getrek het, het hy dié klere aangetrek. Vir ‘n hele ruk lank het Franciscus nou as ‘n arm bedelaar deur die platteland geswerf en orals God geloof en sy blydskap met almal gedeel. Oplaas keer hy terug na San Damiano waar hy onmiddellik self begin om die ou kerkgebou te herstel.

Daarna is hy na ‘n verlate kapel ongeveer twee myl buite Assisi wat as die Portiuncula bekend gestaan het. Hierdie kapel is baie jare gelede deur die Benediktynse monnike van Monte Subiaso gebou, maar het teen Franciscus se tyd in onbruik geraak en was erg vervalle. Hierdie kapel was toegewy aan Onse Liewe Vrou van die Engele en dit het nou Franciscus se woonplek geword – hy restoureer die kapel by homself. Dit was hier op die Fees van Sint Mattias in die jaar 1209 dat Franciscus se besondere roeping aan hom openbaar is. Destyds is die Skriflesing vir dié fees uit die Evangelie van Sint Matteus (Hoofstuk 10) geneem. Die woorde: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom … Moenie vir julle goud of silwer of koper in julle beurse aanskaf nie; geen reissak vir die pad of twee kledingstukke of skoene of ‘n stok nie; want die arbeider is sy voedsel werd”; het Franciscus baie diep getref. Onmiddellik het hy sy gordel, sy skoene en sy reisstok weggegee. Dit het hom gelos met net die ongekleurde wolkleed wat die drag van die arm kleinboere in daardie kontrei was en dit was dan ook dié kleredrag wat hy sy volgelinge as py sou gee. Daar was teen die tyd al ‘n groot bewondering vir Franciscus, veral onder die jongmense van Assisi. Die eerste twee persone wat alles gelos het om by dié kluisenaar van die Portiuncula Kapel aan te sluit was ‘n koopman genaamd Bernard da Quintavalle en ‘n kanunniek van die Katedraal met die naam Pietro van Cattaneo. Op 16 Apri, 1206 ontvang dié twee manne hul eenvoudige pye van Franciscus. Binnekort was daar ʼn groepie van ongeveer ʼn dosyn ernstige toegewyde manne om Franciscus vergader. Franciscus het daarop vir hulle ‘n informele reël opgestel wat gebaseer was op die evangeliese vermaninge.

In die jaar 1210 neem hy dié reël Rome toe en lê dit voor Pous Innocentius III vir Kerklike goedkeuring. Die pous het later vertel dat hy ‘n droom gehad het waarin hy gesien het hoe Franciscus die Kerk van Sint Jan Lateraan stut en ‘n ander droom waar hy ‘n palmboom by sy voete sien uittroon het. Met dié amptelike goedkeuring van die Kerk was Franciscus en sy groepie volgelinge nou uiteindelik gevrywaar van die kleinsielige vervolging waarmee die siviele en kerklike owerhede van Assisi hulle geteister het. In 1212 handig die Ab van Monte Subiaso die Portiuncula-kapel ook formeel oor aan Franciscus en sy metgeselle. Om hierdie beskeie kapelletjie het hy en sy medebroeders vir hulself nederige hutte van riet en klei gebou om in te leef. Van sy volgelinge het St. Franciscus algehele armoede vereis – hierdie uiterlike armoede moes ook innerlik deur ‘n berouvolle en nederige gees en leefwyse weerspieël word. Hyself het nooit verder as die diakonaat gevorder nie omdat hy homself nie waardig geag het om die priesterskap aan te neem nie. Teen die herfs van 1212 was Franciscus besiel met die idee om die Woord van God aan die Moslems te gaan verkondig. In die hawe van Ancona, aan die kus van Italië, het hy en een metgesel aan boord gegaan van ‘n vaartuig wat bestem was vir Sirië. Aan die kus van Dalmasië lei hulle egter skipbreuk en aangesien die twee van hulle nie geld gehad het om verder aan te reis nie, was hulle verplig om as verstekelinge na Ancona terug te keer. Nadat hy vir ‘n jaar lank in Sentraal-Italië gepreek het wend Sint Franciscus nog ‘n poging aan om die Moslemlande te bereik. Hierdie keer probeer hy om Marokko via Spanje te bereik, maar weereens geluk dit hom nie – hy raak baie siek en moes noodgedwonge terugkeer na Italië.

St. Franciscus se opregte en ingebore nederigheid sien ‘n mens in die naam wat hy gekies het vir die orde wat hy gestig het: Die Orde van die Minderbroeders. Hy het sy broeders gemaan om altyd die mees beskeie posisie in die samelewing in te neem en daarin was hy altyd hulle grootste voorbeeld. Vanweë die wonderlike werk wat hulle verrig het en hul opregte toewyding aan hul eiesoortige bediening raak Franciscus se minderbroeders weldra in groot aanvraag en word daar etlike klein gemeenskappe dwarsoor Italië gestig. Dit was nie lank nie of die Franciskaanse Minderbroeders was ook ‘n bekende gesig op die paaie van Frankryk en Engeland; asook Duitsland, Spanje en Hongarye. Teen 1217 was dié nuwe orde al so groot dat ‘n Algemene Kapittel by Portiuncula gehou is. In die jaar 1219 word Franciscus se droom om die Moslems te bearbei uiteindelik bewaarheid toe hy en twaalf metgeselle met die Kruisvaardervloot na Egipte seil. Hulle arriveer in die Nyldelta voor die stad Damiëtta wat onder beleg was deur ‘n Kruisvaarderleër. Sint Franciscus was geskok deur die selfsug van sommige van die Kruisvaarders – dit was ongelukkig so dat baie manne die Kruistogte slegs gesien het as geleenthede om hulself te verryk. Franciscus dring daarop aan om die Moslem aanvoerder Malek al-Kamil te besoek en kry dit eindelik reg om ‘n onderhoud met dié man te bekom. Hy spandeer ‘n paar dae in ernstige godsdienstige gesprek met dié hoogs intelligente en beskaafde man en keer toe terug na die Christenkamp. Daar wag egter ‘n dringende boodskap op hom om so spoedig moontlik na Italië terug te keer. By sy terugkoms vind Franciscus dat sy twee vikarisse Matteus van Narni en Gregorius van Napels sekere nuwighede onder die Minderbroeders begin invoer het om hulle meer in lyn met die gebruike van die ander ordes te bring. Franciscus was geskok om te vind dat die Minderbroeders in Bologna nou in ‘n gemaklike klooster gehuisves was – hy weier volstrek om daar by sy eie medebroeders tuis te gaan en vertoef by die Dominikane. Sint Franciscus het toe sy reël hersien om die aspekte van evangeliese armoede en ootmoed nog meer te beklemtoon maar dit was ongelukkig so dat sy laaste jare oorskadu is deur die feit dat van sy eie volgelinge sy uitdruklike wense verontagsaam het en voortgegaan het om die Franciskane in ‘n konvensionele orde te omskep.

In die jaar 1224 om en by die Fees van Maria-Tenhemelopneming onttrek Franciscus hom na Monte Alvernia waar hy homself nou met slegs een metgesel afgesonder het. Dit was hier dat die wonderwerk van die stigmata hom te beurt geval het. Hierna sou hy altyd sy hande en voete bedek hou omdat sy beskeidenheid hom genoop het om hierdie spesiale gawe van God vir die nuuskierige oë van mense te verberg. Bo en behalwe die pyn wat die stigmata hom besorg het, was sy gesondheid aan die faal en was hy ook besig om blind te word. In 1225 besoek hy vir ‘n laaste keer Sint Clara en haar nonne by San Damiano en dit was by hierdie geleentheid dat hy in groot pyn die pragtige Loflied van Broeder Son gekomponeer het wat hy aan die kinders geleer het om te sing. Hy keer terug na sy geliefde Assisi en toe die geneeshere hom meedeel dat hy sterwend was, sê hy verheug: “Welkom, Suster Dood !”. Op sy sterfbed het hy om ʼn brood gevra en toe dit aan hom gebring is, het hy stukkies afgebreek en aan die omstaanders gegee en gesê: “Ek het my deel gedoen, mag Christus julle help om ook julle deel te doen.” Daarna het hy sy seën oor al sy volgelinge uitgespreek en toe gevra dat die Passie van Onse Here uit Sint Johannes se evangelie gelees moes word. Hierna het hy stilweg en rustig gesterf – dit was op Saterdagaand, 3 Oktober 1226.

In die jaar 1228 is hy tot Heilige verklaar. Min manne in die geskiedenis het die verbeelding van alle gelowiges en ook duisende nie-gelowiges so aangegryp soos hy. Sy nederigheid, sy liefde vir al God se skepsels reik deur die eeue en maak van hom een van die mees beminde heiliges wat die kerk van Christus nog ooit opgelewer het.