3 Oktober – St. Thomas van Hereford

St. Thomas van Hereford, biskop

Thomas de Cantelupe is in die jaar 1218 in Buckinghamshire in Engeland gebore. Sy vader was Guillaume de Cantelupe en sy moeder Millicent de Gournay – hy was dus afkomstig uit die Normandies-Franse adelstand wat vir soveel eeue die heerserklas in Engeland gevorm het. Hy ontvang sy opvoeding onder sy oom, Walter de Cantelupe, biskop van Worcester, aanvanklik in Oxford, maar later gaan hy na Parys en Orleans. Terwyl hy ‘n student in Frankryk was woon hy die belangrike Konsilie van Lyons in 1245 by. Hy keer terug na Engeland en word dosent in Kerkreg aan Oxford Universiteit en in 1262 word hy aangestel as rektor van dié universiteit.

Tydens die sogenaamde Oorlog van die Baronne neem hy die kant van die adel teen koning Hendrik III. Ná die neerlaag van koning Hendrik se magte by Lewes word hy op  22 Februarie 1265, benoem tot kanselier van Engeland. Sy sin vir geregtigheid en geestelike wysheid maak hom geliefd by vyand en vriend. Ná die dood van die adel se groot leier, Simon de Montfort, en die herstel van die koning se gesag verloor hy sy pos as kanselier en gaan hy in ballingskap na Frankryk. Tot en met 1272 doseer hy teologie en Heilige Skrif aan die Universiteit van Parys. Daarna word hy toegelaat om terug te keer na Engeland waar hy weer sy leerstoel in Oxford opneem. In die jaar 1274 neem hy deel aan die Tweede Konsilie van Lyons. In Junie, 1275 word hy aangestel as biskop van Hereford. St. Thomas se persoonlike heiligheid en nederigheid maak van hom ‘n ware sieleherder en hy toon homself net so bekwaam met die uitvoering van sy pastorale pligte as wat hy op akademiese gebied presteer het.

Hy word ‘n getroue en gerespekteerde raadgewer van koning Edward I (1271-1307). Hy doen alles in sy mag om korrupsie en simonie in die Kerk te bestry. Ongelukkig bring sy ingebore sin vir regverdigheid hom in konflik met aartsbiskop Peckham van Kantelberg. Hy tree op as leier van dié groep biskoppe wat aartsbiskop Peckham se beleid teengestaan het. Dit lei daartoe dat hy gedwing word om pad te gee na Normandië waar hy in die jaar 1282 die hartseer nuus verneem dat hy deur sy aartsbiskop onder die ban geplaas het. Daarop gaan St. Thomas na Rome om sy saak voor pous Martin IV te bepleit. Die hitte van die Italiaanse somer en die uitputting ná die lang reis ondermyn sy gesondheid en hy sterf in dieselfde jaar voordat die pous ‘n besluit kon maak. Hy is aanvanklik in Orvieto begrawe maar later is sy relieke teruggeneem na Engeland waar sy graf ‘n bedevaartoord geword het. Thomas is op 17 April 1320 deur pous Johannes XXII tot heilige verklaar.