2 Oktober – Beskermengele

Beskermengele, Herdenking

Die vroegste verwysing na ʼn liturgiese verering van die Engele word gevind in die Koorgebed van die Toewyding van die Aartsengel Migaelkerk in die Via Salaria in Rome – dié fees is altyd op die 29ste September gevier. Die oudste nog bestaande Romeinse Sakramentarium, die sogenoemde Leonynse, verwys indirek na die engele as individuele en persoonlike bewakers. Alkuin (735-804), die belangrike kerkgeleerde en adviseur van Keiser Karel die Grote maak op twee plekke in sy korrespondensie melding van ʼn Votiefmis opgedra aan die Engele (Missa ad suffragia angelorum postulanda).

Die Westminster Missaal wat in ongeveer 1375 in Engeland geskryf is, plaas dié Votiefmis altyd op die tweede weeksdag, naamlik Maandag. In Spanje was daar ʼn gebruik om stede en nie soseer individue nie aan die bewaking van Beskermengele op te dra. ʼn Koorgebed is hiervoor in 1411 in Valencia saamgestel. In 1518 oorreed François d’Estaint, Biskop van Rodex, Pous Leo X om ʼn bul uit te vaardig waarby ʼn spesiale Liturgiese Gebedsuur vir ʼn herdenking van die Beskermengele goedgekeur is – dié jaarlikse herdenking het op 1 Maart plaasgevind. Later het Pous Paulus V (1552-1621) op versoek van Keiser Ferdinand II van Oostenryk ʼn spesiale Heilige Mis en Liturgiese Gebedsuur goedgekeur wat dwarsdeur die Habsburg gebiede gevier is. In 1670 verbrei Pous Clemens X hierdie viering na die hele Westerse Kerk as ʼn verpligte herdenking en verskuif hy die datum na die huidige (dit was die eerste oop dag na die Fees van Sint Migael). Die idee dat elke mens ʼn persoonlike beskermengel het wat oor hom waak is algemeen deur die ou klassieke wêreld geglo. Ook die Joodse volk het in die tyd van die Ou Testament hierin geglo. Die Boek van Henog; ʼn sogenoemde pseudepigrafiese geskrif wie se outeurskap toegeskryf is aan vader van Metusalem; maak melding van Beskermengele wat aan gelowiges toegewys word. In die Nuwe Testament het ons die verwysing in Handelinge 12.15: “Maar hulle sê vir haar: Jy is van jou verstand af. Maar sy het volgehou dat dit so is. Daarop sê hulle: Dit is sy engel.” Hierdie geloof word bevestig in die Evangelie van Sint Matteus (18.10), waar Jesus heel duidelik van die kinders sê: “Pas op dat julle nie een van hierdie kleintjies verag nie; want Ek sê vir julle dat hulle engele in die hemel altyd die aangesig sien van my Vader wat in die hemele is.” Die Boek Openbaring (veral Hoofstuk 8) huldig die Kerk se opvatting en verwoord die Kerk se geloof dat Beskermengele daar is om ‘n mens na liggaam en siel te beskerm en om ook voorspraak by God te doen vir individue. Hierdie geloof dateer vanuit die vroegste jare van die Kerk en is deur talle van die Kerkvaders bevestig. Vandag is dit tragies dat hierdie oortuiging amper in onbruik verval het – dit is tog immers ‘n baie ou en waardevolle deel van die Kerk se geloof en een wat groot vertroosting bied.