1 Oktober – St. Thérèse van Lisieux

St. Thérèse van Lisieux. maagd

Per dekreet van die Suider-Afrikaanse Katolieke Biskoppe Konferensie word die herdenking tot die rang van Fees in die Konferensiegebied verhoog (Januarie 1987)

Hierdie welbeminde Heilige van die Nederige en Sagmoedige Liefde is op die 2de Januarie 1873, in die Franse dorpie Alençon gebore. Haar ouers was Louis Martin, ʼn horlosiemaker en sy vrou Azélie-Marie. In 1877 sterf die kleine Thérèse se moeder en verhuis die vader na Lisieux sodat die kinders darem onder die vroulike sorg van hul tante, madame Guérin, kon grootword. Thérèse was nege toe haar oudste suster Pauline besluit om by die Karmelklooster in Lisieux aan te sluit, en net voordat sy die ouderdom van veertienjaar bereik het, tree haar ander ouer suster Marie ook by die Karmeliete in.

Beide hierdie gebeurtenisse het ʼn baie groot en vormende invloed op die jong Thérèse gehad. Dit was om en by hierdie tyd dat sy ʼn diep geestelike ondervinding gehad het waarna sy in latere jare altyd as haar bekering verwys het. Die volgende jaar deel Thérèse haar vader mee dat sy ook by die Karmel wil aansluit. Haar diepgelowige vader, wat al klaar twee dogters so afgestaan het, willig sonder enige teëspraak in. Beide die Karmeliete en die Biskop van Bayeux weier haar egter toegang vanweë die feit dat sy maar nog net vyftien jaar oud was. Thérèse was egter ʼn vasbeslote jong meisie en is glad nie afgesit deur die feit dat sy as nog te onvolwasse vir die kloosterlewe beskou is nie. ʼn Paar maande ná haar mislukte aansoek is sy en haar pa op ʼn bedevaart na Rome by die geleentheid van Pous Leo XIII se jubileum. Saam met al die Franse pelgrims woon hulle ʼn openbare oudiënsie van die Heilige Vader by. Toe dit haar beurt is om te kniel en die Pous se seën te ontvang, verbreek Thérèse die reël van stilte en vra sy die Heilige Vader sommer prontuit of sy nie ter viering van sy jubileum die Karmel op die ouderdom van vyftien mag betree nie.

Pous Leo was duidelik beïndruk deur hierdie vasberade jong gelowige maar hy ondersteun nogtans die besluite van haar biskop en die Karmel owerste. Teen die einde van die jaar gee die Biskop, Monsignor Hugonin, tog sy toestemming en so betree Thérèse Martin die Karmel op die 9de April, 1888. Die volgende jaar was ‘n sware een vir die drie susters in die Karmel toe hul geliefde vader swaksinnig raak ná twee beroerte aanvalle en in ‘n gestig geplaas moes word. Op 8 September 1890, lê Thérèse haar plegtige geloftes af – nou was sy ‘n volwaardige Karmelitiese non. Een van die pligte van ‘n Karmelitiese non is om vir priesters te bid en Thérèse het hierdie taak met ‘n grootse toewyding en liefde nagekom. Sy het veral vir die sendeling priesters gebid wat onder moeilike en dikwels gevaarlike toestande ver van hul vaderlande gewerk het. Alhoewel haar gesondheid vanaf ‘n vroeë ouderdom reeds redelik delikaat was, het Thérèse nogtans daarop aangedring om ten volle aan die veeleisende en streng Karmelitiese lewe deel te hê – hierdie was ‘n kloosterprogram wat groot selfopoffering en ontbering vereis het. Sy was ‘n tyd lank novietmeesteres maar die tuberkulose, wat uiteindelik tot haar vroeë dood sou lei, het dit vir haar onmoontlik gemaak om hierdie taak uit te voer. Binnekort was dié jong suster feitlik bedlêend. Alhoewel haar swak liggaam verhoed het dat sy fisies aktief kon wees, het sy op ‘n merkwaardige innerlike geestelike avontuur begin. Sy was begunstig met mistieke ervarings van die Here en dikwels was sy meer bewus van Christus se teenwoordigheid as van die wêreld om haar. Alhoewel sy geensins die wonderlike geestelike openbarings en ondervindings met die Here aan almal wou bekend maak nie, het dit gou rugbaar geword dat sy wel op ‘n spesiale wyse geseënd was. Haar priores het haar die opdrag gegee om dit wat sy met die Here ervaar het te boekstaaf. Hierdie merkwaardige geestelike outobiografie het haar medesusters in die klooster so geïnspireer dat dit onder die titel van “L’histoire d’une âme” (Die verhaal van ‘n siel) onder die verskillende Karmelkloosters gesirkuleer is.

Binne en buite die Karmelitiese orde het dié boek ‘n groot impak gehad en dit word vandag onder die groot geestelike klassieke van alle tye gereken. Dit is ‘n pragtige werk vol varsheid, lewenskrag en onverwagse kennis wat terselfdertyd getuig van ‘n diepgrondige geestelike wysheid en skoonheid. In 1893 is die Martin meisies se dierbare vader oorlede en kort daarna sluit die vierde dogter Céline haar ook by haar susters in die Karmel aan. Die brose Thérèse se gesondheid begin egter nou geheel en al ingee. Sy ly verskriklik aan bloeding en teen Junie 1897 is sy na die siekeboeg verskuif. Hierdie tyd van pynlike fisiese lyding was ook ‘n tyd van verstommende geestelike groei vir dié pragtige siel omhul deur ‘n uitgeteerde liggaam. Oplaas, met God se Naam op haar lippe, sterf Thérèse op die 30ste September van dieselfde jaar. Sy was ‘n sieklike kind wat tot ‘n sieklike jong volwassene opgegroei – nie eintlik baie belowende materiaal vir iemand wat so ‘n ontsaglike impak op die wêreld sou hê nie. Van kindsbeen af het Thérèse egter een groot passie in haar lewe gehad – om as non haar Here te dien. Hierdie passie sou haar nooit verlaat nie. As jongmeisie het sy soos ‘n tipiese verliefde tiener opgetree en op die oppervlak gesien lyk baie van die dinge wat sy geskryf het na die romantiese liefdesbriefies van ‘n lawwe tienermeisie – daar was egter ‘n verskil – dit was geen aardse liefde wat haar aangevuur het nie. Die liefde van haar lewe was haar Here. By haar was daar ‘n absolute hartstogtelike verlange na God en sy het haar kinderlikheid in al sy fasette gebruik in haar verhouding met die Here. Hierdeur het sy ‘n diep geestelike waarheid ontdek – om waarlik Christen te wees, is om waarlik ‘n kind voor God te wees. Haar kloosternaam, Thérèse van die Kind Jesus, het ook haar spesifieke kinderlike liefde en verhouding met haar Here opgesom. Haar kloosterlewe het maar nege kort jare geduur! Wat kan ons by ‘n jongmeisie leer wat haar hele kort lewetjie lank óf in die veilige omarming van haar ouerhuis óf agter die hoë mure van die klooster deurgebring het? Verbasend genoeg – ontsettend baie!

‘Ek verkies ‘n vervelige lewe van opoffering bo alle ekstases.
Ek wil liewers onbekend bly en vergete bly.
Om ‘n speld met liefde van die grond af op te tel kan ‘n siel red’.
Hierdie is geen gewone woorde nie – die mond wat hierdie woorde geuiter het, was dié van ‘n jongmeisie – eintlik maar nog ‘n bog kind, maar watter grootse wysheid skuil daar nie agter hierdie uitsprake nie! Hier het ons nie met soetsappige sentimentele gediggies en mooi woordjies te doen nie. Watter moed en durf skuil daar nie agter hierdie woorde nie. In haar sieklike tenger liggaampie het Thérèse die grootste krag in die heelal gedra – die krag van CHRISTUS SE WARE LIEFDE. Thérèse wou klein wees in die oë van die wêreld, sy wou ‘n kind wees in haar verhouding met God. Juis in haar eenvoudige kindwees het Thérèse ‘n pad na Christus ontdek. – ‘n klein paadjie na die hemel toe. Elkeen van ons is onderweg op ons eie klein paadjie. Om geestelik weer kind te word – om Jesus se opdrag om soos kindertjies te word ernstig op te neem en so die Koninkryk van die Hemel te beërwe – St. Thérèse het ons gewys dat so iets in die moderne wêreld moontlik is. Om weer te leer om onsself klein te maak voor God – om nie bang te wees vir vernedering of verkleinering nie maar om hierdie as nuttige middels in ons verhouding met die Here te gebruik. Ons lewe in ‘n wêreld en ‘n samelewing wat dikwels so vol is van homself – wat eintlik so suf is van sogenoemde sofistikasie, van die leë en verwaande aanstellerigheid van mense. Die Here weet, hoe nodig elkeen van ons dit het om weer kind te word voor God.

Thérèse het ‘n metode uitgewerk, ‘n metode wat die basis van haar lewe gevorm het en wat berus het op klein-wees, op nietig word, om God in en deur die onbenullige dinge van ons daaglikse lewens te dien. Wat behels hierdie paadjie, hierdie eenvoudige kind-word: hier volg ‘n paar waarhede, meestal in haar eie woorde, wat bedoel is om uitgeleef te word:
* ons harte is gemaak vir liefde en liefde alleen – enigiets anders wat ons in ons harte probeer instop is vreemd en verkeerd,
* ek stel nie belang om liefde te voel nie, solank as Jesus die liefde wat ek vir Hom het voel is ek self tevrede,
* dit maak eintlik nie saak as God nie my goeie dade raaksien nie, ek is so onsettend lief vir God dat ek my plesier daarin vind om Hom vreugde te gee. Die feit dat ek liefde en blydskap kan gee is vir my voldoende,
* Jesus se liefde is soos ‘n gloeiende oond – en daarin wil ek myself verbrand – opbrand totdat daar niks van myself oorbly nie,
* wanneer ek klein is en klein voel en weet dat ek nietig en niks is dan is alles wat ek ontvang so ‘n groot en wonderlike genadegawe. Vir kindertjies is alles wat hulle ontvang goed, want hulle ken nie iets anders nie – so wil ek wees – alles wat ek ontvang moet vir my ‘n wonderlike gawe wees,
* moenie bekommerd wees as jy lafhartig en moedeloos voel nie – moed en druf is dinge wat van God af kom – vertrou net dat Hy jou dié dinge op die regte tyd sal gee en dan sal jy dit alles en nog soveel meer ontvang,
* laat ons roekeloos wees in ons vertroue in God, laat ons alles waag, alles op die spel plaas om God te vertrou,
* ons moet leer om geduldig met onsself te wees, elke keer as ons aan ons eie foute dink dan help dit ons om nederig te wees en nederigheid is die beste pad na die hemel,
* gebed is die wonderlikste gesprek want ek weet dat God my nooit sal misverstaan nie, ek weet dat Hy altyd luister en nooit verveeld raak met my nie,
* toe ek nog kleiner was het dit my baie ontstel dat ek so dikwels in die kerkbank aan die slaap geraak het, maar nou weet ek dat klein kindertjies, of hulle nou slaap of wakker is altyd dierbaar is vir hulle ouers, hoeveel te meer is ons nie dierbaar in die oë van God nie,
* liefde word altyd deur liefde en nogmaals liefde beloon -wat meer kan ʼn mens vra….

Dit is moontlik om klein te wees maak nie saak hoe ‘n hoë of verantwoordelike posisie ‘n mens in die samelewing beklee nie – klein-wees is ‘n ingesteldheid. ‘n Houding teenoor jouself en die lewe waarin jy absoluut op God aangewese is vir alles wat jy dink, doen of sê. Soos ‘n klein kindjie so half onhandig alles wat die groot mense doen probeer na-aap – so boots ons op ons swak en partykeer sondige onhandige en lomp manier die lewe van Onse Here Jesus Christus na. Want in sy lewe, in sy manier van dinge doen, lê elke moontlike riglyn vir ons eie lewens opgesluit. Dit is wat ons Christene maak – volgelinge, nabootsers van Jesus Christus omdat Hy die Weg, die Waarheid en die Lewe is. Kort ná haar dood is daar berigte vanuit etlike Karmelitiese huise ontvang van nonne in wie se lewens Sint Thérèse se belofte van: “ Je vais faire tomber un torrent de roses” ‘n werklikheid geword het. Dié gesegde van Sint Thérèse vertaal letterlik as: “Ek sal ‘n stortvloed rose laat neertuimel”; en dit dui op ‘n fenomeen waaroor daar al dikwels sedertdien berig is, naamlik dat diegene wat haar voorspraak aangevra het, weet hul gebede is verhoor wanneer hulle ‘n roosgeur ruik.

So groot was die bewondering wat daar onder die gelowiges posgevat het t.o.v. hierdie nederige meisie dat die vasgestelde periode van vyftig jaar wat moet verloop alvorens iemand volgens die Kerkreg salig verklaar kan word in hierdie geval opsy geskuif is. Thérèse is op 25 April 1923, tot Salige verklaar deur Pous Pius XI. Op 17 Mei 1925, is sy onder die naam “Sint Thérèse van die Jesuskind en die Heilige Aangesig” heiligverklaar. Devosie tot dié “Jesus-blommetjie” soos sy weldra genoem is, het so gegroei dat daar in 1926 ‘n groot basiliek oor haar graftombe in Lisieux opgerig is. Haar populariteit kan veral toegeskryf word aan die feit dat sy die lewende bewys was dat ‘n mens al op ‘n baie vroeë ouderdom heiligheid en volmaaktheid in die aardse lewe kon verkry. In 1929 het Pous Pius XI haar ook tot die Beskermheilige van Sendelinge benoem (en in die besonder sendingpogings in Rusland). In 1947 is sy saam met Sint Jeanne d’Arc (Johanna van Arkel) tot Beskermheilige van Frankryk uitgeroep. In 1997 het Pous Johannes Paulus II het merkwaardige stap geneem deur haar ‘n Kerkleraar te verklaar (m.a.w. iemand wie se lering van so ‘n diepsinnige aard is dat die hele Kerk daarby kan baat).