27 September – St. Vincent de Paul

St. Vincent de Paul, priester

Vincent is in 1580 by Ranquine in Gascogne in die suidweste van Frankryk gebore. Sy ouers was kleinboere. Hy studeer onder die Franciskane by Dax en word in 1600 tot priester gewy. Daarna gaan hy vir verdere studies na die universiteit van Toulouse. In 1605 onderneem hy ‘n skeepsreis maar die skip waarop hy was, word deur seerowers oorval. Twee verskriklike jare lank was hy ‘n slaaf voordat hy daarin kon slaag om te ontsnap.

Nadat hy sy vryheid herwin het gaan hy eers na Rome en daarna na Parys waar hy onder die invloed van die groot Franse geestelike, kardinaal Pierre de Bérulle kom. Die kardinaal het hom aangemoedig om geestelik te groei deur naastediens te verrig. Vir ‘n ruk lank het hy baie goeie werk in die parogie van Clichy gedoen. In 1613 word hy egter aangestel as kapelaan in die huishouding van die magtige edelman, die Comte de Gondi. Dié graaf van Gondi was die admiraal van ‘n vloot galeie en Vr. Vincent het gevolglik baie tyd op dié skepe deurgebring. Daar het hy eerstehands kennis gemaak met die aaklige lot van die roeiers en het hy baie gedoen om hulle te probeer help. Toe hy terugkeer na Paryshe hy weer onder die armes begin werk. Hy was veral besorg oor die getalle siekes wat in haglike omstandighede, en sonder enige versorging, hul lyding moes verduur. Hy het geld gaan bedel by die adellikes en groepe mense begin oplei om die siekes en armes te versorg. Soos sy eie gebedslewe gegroei, word hy al hoe meer bewus van die behoeftes van andere. Dit was vir hom duidelik dat die oorgrote meerderheid mense van sy tyd ʼn akute behoefte gehad het aan geestelike sowel as liggaamlike voedsel.

In 1625 stig hy die Kongregasie van die Sendinge ook bekend as die Lasariste of Vincentiane. Die genootskap van priesters was gemoeid met sendingwerk en die opleiding van priesters. Saam met Sint Louise de Marillac stig hy in 1633 die Kongregasie van die Dogters van Liefdeswerk om onder die armes te arbei. Dié kongregasie van Susters was die eerste om buite die klooster te werk. Teen dié tyd was Vr. Vincent ‘n baie bekende en geliefde persoon in die koninkryk van Frankryk – die koningin, Anna van Oostenryk, benoem hom tot die Raad wat toesig gehou het oor die lewe van die jong koning Lodewyk XIV. Toe ‘n verskriklike burgeroorlog uitbreek (bekend as die Frondé), was dit die heilige Vincent wat noodhulp op die slagvelde georganiseer het. Deur al hierdie jare was hy letterlik die ‘gewete’ van Frankryk. Onverpoosd het hy gewerk om mense tot die besef te bring dat die Christelike geloof iets is wat gedoen word, uitgeleef word deur middel van naastediens en liefdeswerke. Hy moes baie teenkanting van die rykes en die adelstand verduur en tog het hy nooit bitter of mismoedig geword nie. Hy wou altyd onder gewone leke-Katolieke die besef vestig dat elkeen van ons iets moet doen – as Christene kan ons nie op die kantlyn sit en toekyk hoe ander ly nie – so was sy lewe en werk die besieling van die latere organisasie wat ons vandag as die Genootskap van Sint Vincent de Paul ken. Vincent de Paul sterf op 27 September 1660 in Parys. In 1737 word hy deur pous Clemens XII tot heilige verklaar.