26 September – St. Noël Chabanel

St. Noël Chabanel, martelaar

St. Noël is 1613 in Frankryk gebore. Hy tree as jongman in 1630 by die Jesuïete in Toulouse. In 1643 word hy na Kanada gestuur waar die Jesuïete ʼn groot en moeilike apostolaat onder die Indiane behartig het. St. Noël staan uit as ʼn voorbeeld van iemand wat getrou was tot aan die einde toe. Hy word gestuur om onder die Huron stam te arbei.

Op baie vlakke sou hy seker as ongeskik vir sendeling werk beskou kon word. Hy het geen aanleg vir tale gehad nie en kon nooit werklik die Indiaanse kultuur en gebruike begryp nie. Tog het hy vas geglo dat dit die Wil van God is dat hy hierdie mense (wat vir hom so vreemd voorgekom het) moet liefhê en die blye boodskap van Jesus Christus met hulle moet deel. En hy het letterlik sy lewe aan sy nuwe broers en susters gewy. Onverpoosd het hy gewerk om hul taal en kultuur sy eie te maak. Hoe moeiliker die werk vir hom geword het hoe meer het hy homself daartoe verbind. Hy sterf in Desember 1649 toe hy op pastorale besoek oorval en vermoor word. Hy is in 1930 tot heilige verklaar.