24 September – St. Rupert

St. Rupert, biskop

Dit wil voorkom asof Rupert van Frankiese afkoms was. Hy was aanvanklik biskop van Worms, waarna hy sendingwerk rondom die huidige Regensburg in Beiere gaan doen het. Hy behaal aansienlike sukses daar en ook in Altötting. Daarna verskuif hy na die huidige Salzburg wat voortaan sy tuisbasis sou wees. In Salzburg stig hy die Benediktynerklooster van St. Petrus en ook die vroueklooster op die Nonnberg, waarvan sy niggie, Esentrud, die eerste abdis word.

As rondreisende prediker in Oostenryk stig hy kerke in Seekirchen am Wallersee, Pongau, Bischofshofen en Maxglan. Volgens oorlewering het hy die ontginning van sout by Salzburg hervat, nadat die myne sedert die val van Rome onbenut was. Hy was ‘n rondreisende biskop sonder ‘n vaste setel en word beskou as een van die groot apostels van die moderne Oostenryk en Suid-Duitsland. Hy sterf op die 27ste Maart 718. Hy word vereer as die Beskermheilige van soutmyners.