23 September – Padre Pio

St. Pio beter geken as Padre Pio, priester

Hierdie besonderse moderne heilige is op 25 Mei 1887 in die dorpie, Pietrelcina gebore, naby die stad Benevento in die suide van Italië. Hy is Francesco gedoop en sou altyd onder sy familie en vriende as “Franci” bekend staan. Sy agtergrond was dié van eenvoudige plaasmense wat naby aan die aarde geleef het en wie se geloof net so aards en opreg was.

In die somer van 1902, op vyftienjarige ouderdom, het hy uiteindelik oor voldoende skoolopleiding beskik om aansoek te kon doen vir die novisiaat van die Kapusynerorde. Groot was sy blydskap die dag toe hy die brief ontvang om te sê sy aansoek is goedgekeur en dat hy moet aanmeld by die fraterhuis van Morcone. Op die laaste oomblik het daar ʼn hewige innerlike stryd in hom gewoed oor hierdie verreikende besluit om sy ouerhuis en geliefde tuisdorp te verlaat. In ʼn visioen het hy egter die krag ontvang om sy besluit deur te sien. Op die 22ste Januarie, 1903, ontvang Franci Forgione die Kapusynse py en hierna sou hy as Br. Pio bekend staan. Die naam Pio is die Italiaans vir Pius en hy het dit as sy eie geneem in herinnering aan die heilige pous Pius V. Met groot ywer het Br. Pio homself toegewy aan die streng dissipline en sober leefwyse van die Franciskaanse Reël.

Op 22 Januarie 1904, het dié 16 jarige noviet sy eerste geloftes van armoede, kuisheid en gehoorsaamheid afgelê. Nou het die ses jaar lange voorbereiding en opleiding vir die priesterskap begin. Tydens sy studentejare het daar ‘n mistieke ervaring in sy lewe plaasgevind wat later in die besonder met sy eiesoortige spiritualiteit en charisma verbind sou word – bi-lokasie, oftewel die gawe om terselfdertyd op twee plekke aanwesig te wees. Regdeur sy lewe sou mense hom op verskillende plekke ontmoet, terwyl hy eintlik op daardie spesifieke tydstip in die fraterhuis gevind kon word.

Op 18 Januarie 1905 was Br. Pio fisies, saam met ʼn getuie in die kapel. Skielik het hy homself in ʼn verafgeleë huis bevind waar ‘n man aan die sterf was, terwyl sy vrou op daardie selfde tydstip besig was om geboorte te skenk aan ‘n baba dogtertjie. Onderwyl Br. Pio vol verwondering hierdie situasie bekyk het, het Onse Liewe rou aan hom verskyn en hom meegedeel dat dié dogtertjie aan sy geestelike sorg toevertrou word. Agtien jaar later sou hierdie dogtertjie, nou ‘n jongvrou genaamd Giovanna Rizzani, na San Giovanni Rotondo reis om die bekende Padre Pio te sien. Tot haar groot verbasing moes sy uitvind dat hulle mekaar alreeds ontmoet het. Dié vorige ontmoeting het as volg geskied: In die somer van 1922 het sy en ‘n vriendin die St. Petruskerk in Rome besoek. Op daardie stadium het sy ‘n groot behoefte daaraan gehad om met iemand oor sekere geloofskwellinge te praat. Binne die basiliek het sy besluit om na een van die vele bieghokkies toe te gaan en haar hart oop te maak. Dié betrokke bieghokkie is deur ‘n Kapusyner priester beman wat ‘n merkwaardige insig in haar geloofsprobleme getoon het en deur sy advies al haar kwellinge opgelos het. Toe sy die daaropvolgende jaar San Giovanni Rotondo besoek het Padre Pio haar onmiddellik in die skare raakgesien en nader geroep. Sy was stomgeslaan toe hy haar meedeel dat hy aanwesig was by haar geboorte. Toe sy die volgende by hom gaan bieg, het sy skielik ook besef dat hy die Kapusyner priester in die Basiliek van St. Petrus was wat haar die vorige jaar van sulke goeie raad bedien het (en dit terwyl daar genoeg getuies was om van die feit getuig dat hy op daardie stadium by San Giovanni Rotondo was). Met die verloop van jare sou talle mense getuie word van dié merkwaardige gawe van bi-lokasie waaroor Padre Pio beskik het. Ten aanskoue van baie mense was Padre Pio onder meer teenwoordig by die heiligverklarings van St. Thérèse van Lisieux in 1925 en dié van Don Bosco in 1934, en dit terwyl hy inderdaad tuis was.

Padre Pio het ook op ‘n heel besondere wyse gedeel in die Lyding van Onse Heiland deur die stigmata wat hy ontvang het. Dit was asof die Persoon van Jesus Christus op alle vlakke gestalte aangeneem het deur die liggaam en lewe van hierdie nederige Kapusyn. Sonder dat hy hom ooit in die minste aan enige publisiteit gesteur het en sekerlik nooit daarvoor gesoek het nie, het Padre Pio die bekendste en bemindste heilige van die twintigste eeu geword. Die Tehuis vir die Verligting van Lyding, wat hy tot stand gebring het sou groei tot ‘n reuse inrigting waar liggaamlike lyding vandag nog deur mediese versorging én vernaamlik deur geestelike bystand aan bande gelê word. Rondom dié merkwaardige instelling het hy ‘n hospitaal stad opgerig waar sy eie ervaring van lyding – ‘n mens kan praat van sy lewensfilosofie van lyding as werktuig van genade – die grondbeginsel van alle mediese behandeling gevorm het.

Hierdie groot Christelike waarheid kan as die lewensapostolaat van Padre Pio omskryf word. Sy eie lyding – en hy het onteenseglik baie fisiese sowel as geestelike pyn verduur – het hy deur langdurige en onophoudelike gebed laat omskep tot ‘n lewe waarin God se werk sy eie werk geword het. Padre Pio was ‘n lewende bewys van die waarde en waardigheid wat daar in menslike lyding kan skuil. Sy begrafnis in 1969 is deur 100 000 mense bygewoon en jaarliks besoek meer as ‘n miljoen mense sy graf. Die laaste aardse rusplek van dié liggaamlik swakke ou mannetjie het een van die grootste gebedsplekke op ons planeet geword. Padre Pio is op 16 Junie 2002, deur pous St. Johannes Paulus II tot heilige verklaar.