22 September – St. Maurits

St. Maurits, martelaar

Volgens oorlewering (soos geboekstaaf deur biskop Eucherius van Lyon in 445) was Maurits die primicerius (offisier) van ʼn legioen Romeinse soldate uit Egipte. Hierdie legioen uit Thebes in Egipte was almal Christene en hulle was besig met hul diensplig in Gallië (moderne Frankryk). Terwyl hulle by Agaunum (moderne Saint-Maurice en Valais in Switserland) gestasioneer was, is hulle deur die medekeiser Maxmianus opdrag gegee om offerandes aan die heidense gode op te dra (volgens ʼn ander tradisie is hulle opdrag gegee om Christene te vervolg). St. Maurits het sy soldate aangemoedig om getrou aan hul geloof te bly en die hele legioen het geweier om deel te neem aan sulke praktyke. Daarop is die hele legioen omgebring. Die plek van hul marteldood is van vroeg af vereer en in die 6de eeu is ʼn klooster daar opgerig.