3 September – St. Gregorius die Grote

St. Gregorius die Grote, pous en kerkleeraar

Gregorius is as edelman in ongeveer 540 in Rome gebore. Reeds vroeg in sy lewe word hy lid van die invloedryke Romeinse magistratuur en teen sy dertiger jare was hy al Stadsprefek van Rome. In om en by 575 vind daar ‘n groot geestelike inkeer in sy lewe plaas en besluit hy om ʼn monnik te word. Die stilte en tyd vir besinning in die klooster word hom egter nie lank gegun nie. Hy word tot diaken gewy en as Pouslike Gesant van 580 tot 585 na Konstantinopel gestuur. Hierdie ondervinding aan die keiserlike hof in wat toe die middelpunt van die beskaafde wêreld was, sou hom in latere jare goed te staan kom. Op die 3de September, 590 word hy tot pous verkies. Ten spyte van sy konstante swak gesondheid het hy so goed en wys die Kerk van Christus bestuur dat hy as een van die grootste van Sint Petrus se opvolgers beskou word.

Die Rome van sy tyd was maar net ‘n vae refleksie van die eens glorieryke wêreld hoofstad. Gregorius onderneem die herbevolking van Rome en sien veral om na die hordes armlastiges wat in die vreeslikste ontbering geleef het. Hy stuur sendelinge na die Lombarde, die eiland van Sardinië en Engeland en dra so ontsettend baie by tot die verspreiding van die geloof en die kerstening van die heidense stamme wat die ou Romeinse Ryk binnegeval en oorgeneem het. Hy was veral gemoeid met die instelling van die kloosterlewe in die Weste en het die fondasies gelê vir die latere opbloei van dié besondere geestelikheid wat vir baie eeue en deur moeilike jare die draer van die Christelike Boodskap in Europa sou wees. Sy geskrifte sou vernaamlik in die Middeleeue groot invloed uitoefen. Hy was ʼn bedrywige skrywer wat oor talle aspekte van die Christelike lewe sowel as die teologie geskryf het. Sint Gregorius het baie gedoen om die gehalte van priesters en monnike te verbeter en hoog te hou. Hy sterf op 12 Maart 604.