1 September – St. Giles

St. Giles, kluisenaar

Oor hierdie gewilde heilige uit die Middeleeue is feitlik niks bekend nie alhoewel daar in Brittanje alleen meer as 150 kerke na hom vernoem is. Hy was waarskynlik ‘n kluisenaar in die omgewing van Arles (by die bedevaartoord wat na hom vernoem is – Saint-Gilles) in Frankryk. Hy het vermoedelik in die 9de eeu geleef. Volgens oorlewering het hy ‘n takbok as troeteldier aangehou. Op ‘n dag het die Wesgotiese koning, Wamba, in die woud waar St. Giles gewoon het gaan jag. Die koning se jaghonde het op die spoor van ‘n takbok gekom en die dier na ‘n digte ruigte gevolg. Die koning het ‘n pyl die ruigte ingeskiet en toe hy en sy manne ingaan vind hulle dat hulle die heilige Giles self raakgeskiet het terwyl hy sy takbok probeer beskerm het. In die Middeleeue is daar talle wonderwerke met St. Giles verbind en hy word reeds eeue lank aangeroep as die Beskermheilige van kreupeles.