31 Augustus – St. Raymond Nonnatus

St. Raymond Nonnatus

Raymond is in die jaar 1204 in Portella, Katalonië in Spanje gebore. Hy het sy eienaardige bynaam Nonnatus (wat ongebore beteken) van die omstandighede van sy geboorte verkry. Sy moeder het tydens sy geboorte skielik afgesterf en hy is deur middel van ‘n keisersnee die wêreld ingebring. Geeneen van sy familie of die vroedvroue het geglo dat dié babatjie sou lewe nie. Bo alle verwagting is St. Raymond dus gebore en bo alle verwagting het hy bly leef.

Sy vader, ‘n baie ambisieuse man, het seker gemaak dat sy seun ‘n baie goeie opvoeding kry met die doel die familie uiteindelik munt sou kon slaan uit sy loopbaan. Sy vader het gehoop dat hy die een of ander pos aan die Koninklike Hof van Aragon sou kry maar St. Raymond het meer belanggestel in die Kerk as in die wêreld. Sy vader het probeer om hom hiervan te laat afsien en hom as bestuurder van een van sy landgoedere aangestel met dié hoop dat hierdie veeleisende taak hom van Godsdienstige dinge sou aflei. Die buitelewe op die platteland het egter die teenoorgestelde effek gehad en St. Raymond die kans gegee om sy gebedslewe verder te ontwikkel. Ten spyte van sy vader se teenkanting besluit Raymond om ‘n monnik te word. Hy het van kleins af ‘n besondere toewyding tot die Heilige Maagd gehad en kies dus in 1221 die Orde van Onse Liewe Vrou van Barmhartigheid (ook bekend as die Mercaderiane). Hierdie orde is kort tevore in de jaar 1218 deur Petrus Nolasco in Barcelona gestig en was aktief regdeur die destydse Middellandse See gebied. Dit was hierdie orde se apostolaat om Christene wat as slawe deur die Moorse seerowers van Noord-Afrika geneem het weer terug te koop en te bevry. Dit was ‘n moeilike en gevaarlike apostolaat en baie van dié orde se lede is gedood en het self as slawe op die galeie van die Moslems opgeëindig. Toe die stigter van die Mercaderiane aftree is St. Raymond in sy plek aangestel as die hoof aalmoesenier en na Algiers gestuur met al die losgeld wat ondertussen ingesamel is om Christenslawe terug te koop. In Algiers het St. Raymond die verskriklike lot van al die Christenslawe gesien en alles in sy vermoë gedoen om soveel van hulle as moontlik hul vryheid te besorg. Toe sy geld opraak het hy homself as gevangene aangebied sodat iemand in sy plek vrygelaat kon word. Sy aanbod is aanvaar en hy is in die gevangenes geplaas. Daar het hy soveel van sy medegevangenes tot die Christelike geloof bekeer dat die goewerneur van die tronk sy lippe deurboor en met ‘n kettinkie laat seël het. Hy wou St. Raymond nie laat doodmaak nie omdat hy gehoop het om ‘n groot losprys vir hom te kry. Hierdie foltering het veroorsaak dat St. Raymond nie sy mond kon oopmaak en praat nie en slegs klein hoeveelhede voedsel kon inneem. Agt maande lang moes hy so in verskriklike pyn lewe totdat Petrus Nolasco met sy losgeld opgedaag het en hy bevry is. Hy wou met alle mag in Algiers agterbly maar sy owerste het hom dit belet en hy is terug na Barcelona. In die jaar 1239 het pous Gregorius IX hom tot kardinaal benoem en na Rome ontbied. Die pous het soveel van dié merkwaardige heilige gehoor en wou hom persoonlik ontmoet. St. Raymond sterf egter onderweg na Rome. Deur die eeue is sy voorbidding veral aangevra deur verwagtende moeders (en vaders) sowel as vroedvroue.