30 Augustus – Salige Juvenalis Ancina

Salige Juvenalis Ancina, priester

Salige Juvenalis word, omrede hy onder andere ook ʼn Geneesheer was, tesame met Sint Lukas en die Heilige Cosmas en Damianus, gereken as een van die Beskermheiliges van die Mediese Beroep. Dit wil voorkom asof die naam Juvenalis aan hom gegee is, omdat sy geboorte te Fossano in Piëmont plaasgevind het, onderwyl die dorpenaars gebede aan die opoffer was aan Sint Juvenalis van Narni (d.369), die antieke beskermheilige van Fossano. Juvenalis se familie was van Spaanse oorsprong. Nadat hy voldoende Latynse studies agter die rug gehad het, gaan hy op vyftienjarige ouderdom na die Universiteit van Montpellier.

Hierdie inrigting was veral bekend vir die sy beroemde mediese skool wat in 1180 gestig is deur Arabiese uitgewekenes van Spanje. Hier is Juvenalis nie net ʼn goeie student nie, maar hier ontwikkel hy ook in ʼn jongman van uitsonderlike vroomheid. Hy het nooit nagelaat om daagliks die Heilige Mis by te woon nie. Op daardie stadium was Montpellier ʼn vesting van Hugenote bedrywighede. Dinge het so erg geraak dat die Hertog van Savoje al sy onderdane beveel het om uit die hele suide van Frankryk pad te gee, alvorens hulle ook met die Calvinistiese kettery, wat nie na verdraagsaamheid maar na oorheersing gestreef het, besmet sou word. Juvenalis het dus sy verdere studies aan die Universiteit van Padua voortgesit. Nadat hy sy Ph.D en M.D. grade behaal het, is Juvenalis aangestel as Professor in Medisyne aan die Universiteit van Turyn.

Hy sou hierdie belangrike pos egter net vir ʼn korte wyle beklee, aangesien die Here ander planne vir hom had. Daar word gesê dat Juvenalis van sy lewensdoel bewus geword het, toe hy ʼn begrafnis in Savigliano bygewoon het en diep onder die indruk van Gods roeping gekom het toe die Dies Irae tydens die Requiem gesing is. Juvenalis begin sy Teologiese studies in Rome onder die befaamde Robert Bellarmine. Aanvanklik het hy belanggestel om by die Kartuisers aan te sluit, maar dit was voordat hy in aanraking met Sint Filip Neri en sy Oratorium gekom het. En binnekort is Juvenalis as noviet geklee in die Romeinse Oratorium. Daar word gesê dat die troue Baronio toe hy hoor wie by hul gemeenskap aangesluit het uitgeroep het: “Vandag moet ons dankbaar wees teenoor God, want Hy het vir ons ʼn tweede Sint Basilius gestuur!” Selfs as noviet het Juvenalis se preke aandag begin trek en bekerings tot gevolg gehad. In 1586, nadat hy as priester gewy is, is hy na Napels gestuur as Provoos van die eerste Oratoriaanse stigting daar. Napels was ʼn stad geskeur deur faksiegevegte en familie vendettas – Juvenalis het homself gou bewys as ʼn uitmuntende vredebewerker wat as’t ware die karakter van die hele stad verander het.

Na die afsterwe van Sint Filip is Juvenalis na Rome ontbied om die Provoosskap van die Romeinse Oratorium oor te neem. Hy was egter te bekend en gesog en dit het weldra geblyk dat die Pous hom in ʼn meer verhewe hoedanigheid wil laat arbei. Ten spyte van Juvenalis se teenkanting is hy op 26 Augustus 1602 deur Pous Clemens VIII tot Biskop van Saluzza benoem. Op die 1ste September van dieselfde jaar is hy deur Kardinaal Borghese (die latere Pous Paulus V) in die Oratoriaanse kerk van Santa Maria in Vallicella tot biskop gewy. Juvenalis het sy nuwe bisdom in ʼn haglike toestand gevind. Hierdie streek was soos meeste ander in die noorde van Italië vir baie jare die slagoffer van die bittere oorloë tussen die Keiser Karel V en Koning Francois I van Frankryk. Ketterse invloede vanuit Switserland en Duitsland het baie daartoe bygedra dat die bevolking ontmoedig en selfs wanhopig teenoor godsdiens gestaan het. Die klerici was oor die algemeen skuldig aan wangedrag, nalatigheid en luiheid. Die meeste kerke was slordig en onversorg. Van die staanspoor af het Juvenalis besef dat gebed die kragtigste wapen en middel is wat hy tot sy beskikking het. Sy eerste bevel was ʼn dekreet aan al die parogieë om onmiddellik met die devosie van die Veertigure te begin. Dit het hy opgevolg met ʼn opleidingsprogram (geestelik en akademies) van al die klerici in sy bisdom. In 1604 roep hy ʼn bisdomlike sinode byeen wat riglyne neerlê om al die priesters in sy bisdom se leefwyses te reguleer, en rig hy ook ʼn seminarie op sodat studente plaaslik op ʼn deeglike wyse opgelei kan word. In alles het Juvenalis egter altyd self die voorbeeld gestel en was hy die getrouste navolger van al die nuwe reëls wat hy ingestel het. Hy het as biskop nooit opgehou om sy kudde te besoek nie, en hy kon altyd op pad gevind word waar hy tot die verste en mees afgeleë gedeeltes van sy bisdom gereeld besoek het.

Dit is nou maar ongelukkig eenmaal so dat iemand wat ʼn vroom lewe lei altyd vyande in hierdie wêreld sal hê. Daar was in dié tyd ʼn Franciskaanse minderbroer in Saluzza, wat berug was vir sy slegte lewe. Hierdie bose man was bewus dat sy biskop van plan was om dissiplinêre stappe teen hom te neem. Haat het hierdie skepsel van alle rede ontneem. Op ʼn dag in Augustus 1604, net soos Salige Juvenalis die Franciskaanse Kerk van Sint Bernard binnekom, gee hierdie moordenaar vir hom ʼn beker waarvan die inhoud vergiftig is. Met sy gewone hoflikheid het die biskop dié aangebode beker gevat en geledig. Onse Salige het onmiddellik begin siek raak en binnekort was dit duidelik dat Juvenalis vergiftig is en aan die sterwe was. Hierdie ontsettende misdaad het groot opspraak verwek en die Pous het sy Nuncio gestuur om die religieuse huise wat hieraan deel gehad het te onderdruk en die moordenaar te straf. Salige Juvenalis het sy einde vol geloof en vrede tegemoet gegaan. Hy sterf op 31 Augustus 1604 – hy was maar 59 jaar oud. Juvenalis se invloed in Saluzza het na sy dood steeds toegeneem. Hy is in die Katedraal begrawe en gou het sy laaste rusplek ʼn bedevaartoord geword. Alhoewel die saak vir sy heiligverklaring reeds kort na sy dood aanhangig gemaak is, het Pous Leo XIII hom eers op 9 Februarie 1889 tot Salige verklaar.