Beeld van ‘n Oratoriaan | Salige John Henry Kardinaal Newman

Beeld van ‘n Oratoriaan

Inleiding

By geleentheid van die saligverklaring van John Henry Kardinaal Newman sal hy as persoon weer van alle kante bekyk word. Daar is ook soveel wat ’n mens oor hom kan sê: die groot intellektueel met sy uitgesproke idees oor die vorming van mense, die geestelike leier van die sogenaamde ‘Oxford Movement’ in die Anglikaanse kerk, die geniale skrywer en prediker, die bekeerling tot die Rooms-Katolieke Kerk, die stigter van die Katolieke Universiteit van Dublin, die filosoof en teoloog met sy sonderlinge en oorspronklike idees wat dikwels in die moeilikheid was by die kerklike owerhede, die verdediger van die rol van die leke in die Kerk ens.

Daar is egter een aspek van Newman as mens wat min aandag kry – die feit dat hy na sy oorgang tot die Katolieke Kerk besluit het om Oratoriaan te word en die Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri in Engeland opgerig het. Dikwels word hierdie aspek van Newman se lewe afgemaak met die opmerking dat hierdie vorm van saamleef deur sekulêre priesters, sonder gelofte en met baie vryheid, groot ooreenkomste vertoon met die lewe van ’n kollege soos Newman dit in Oxford geken het. Oppervlakkig gesien lyk dit dan wel ook so, maar om dit so te aanvaar sou ’n miskenning wees van die baie belangrike rede waarom Newman so ’n keuse vir homself gemaak het – vir hom was dit die beste manier waarop hy homself kon bly en hy die godsdienstige persoon wat hy in die Anglikaanse kerk geword het kon laat voortleef in die Rooms-Katolieke Kerk. Vir Newman was bekering nie die verwerping van ’n ou identiteit om ’n nuwe aan te neem nie. Vir hom was bekering ’n positiewe gebeurtenis waarin ’n mens in die eerste plek iets by leer, meer as wat jy iets afsweer. Vir hom was dit om in die lig van waarheid, wat geskenk is, binne te gaan, wat vanself die skadu’s van onwaarheid laat verdwyn. Dié voortdurende verligting doof nie die lig wat reeds ontvang is uit nie, inteendeel, dit bring dit tot groter helderheid. Hierin lê die merkwaardige eenheid wat Newman se lewe vertoon. Deur al die groot ontwikkeling wat hy as mens en in sy denke en werk deurgemaak het, het hy onmiskenbaar dieselfde persoon gebly. Van begin tot einde het Newman dieselfde persoon gebly, maar ’n merkbare groei in sagmoedigheid, barmhartigheid, wysheid en diepte ondergaan. En tog vertoon die verloop van sy lewe sulke veranderinge dat dit ’n mens verbaas en selfs verbyster. Kom ons kyk kortliks na sy lewensloop.

’n Kort oorsig van sy lewensloop

Hy is in 1801 in Londen gebore. Simbolies gesproke het hy dus in die kulturele, godsdienstige en politieke hartjie van Engeland sy eerste lig aanskou. Wat afkoms betref was hy tot op die been toe Brits en dit sou hy tot sy dood bly. Buite Engeland het hy nooit werklik tuis gevoel nie en behalwe sy moedertaal (wat hy op geniale wyse beheers het) kon hy homself beswaarlik in enige ander lewende taal uitdruk. Hy was wel meer tuis in die klassieke tale as Frans, en Italiaans kon hy ook nooit onder die knie kry nie. Ook sy opvoeding en intellektuele vorming was deur en deur Engels. Hy is na ’n goeie (hoewel nie die beste nie) kosskool gestuur en daarvandaan na die Universiteit van Oxford, waar hy ʼn akademiese posisie met groot prestige verwerf het. Wat godsdiens betref, is hy met die Bybel en die Anglikaanse ‘Book of Common Prayer’ opgevoed en tuis as tipiese Anglikaan geleer om noot ekstreem in enigiets te wees nie. En Rooms-Katolieke is seer sekerlik as ekstreem beskou. Tog het hy in 1845 Rooms-Katoliek geword en die groot verdediger geword van die Kerk se geloof – iets wat selfs later vir Anglikane aanvaarbaar geword het. Hy eindig sy lewe as kardinaal. Indien iemand so ’n toekoms vir hom by sy wieg voorspel het, sou sy ouers dit inderdaad nie as ’n grap nie, maar weliswaar as ’n vloek beskou het

Grondige bekering

Waar lê die oorsprong van dié wending in sy lewe? Newman self het verklaar dat hy op 15-jarige ouderdom ’n bekering ondergaan het. Dit was in die eerste plek ’n geestelike en nie soseer morele ervaring nie. God het vir Hom verander van ’n idee in ’n persoonlike realiteit. God het vir hom Iemand geword met Wie hy ‘van hart tot hart’ ’n gesprek kon voer – Iemand wat van hom ’n antwoord vra waarby sy hele menswees betrokke is. Van daardie oomblik af was geloof vir hom dogmaties, dit wil sê: God beskik oor ’n eie onveranderbare identiteit wat Hy in alle wysheid in die geskiedenis openbaar. Maar sy geloof word daarmee ook kerklik en sakramenteel, want hoe persoonlik dié Openbaring ook is, is dit nie individualisties nie, maar iets wat deur die eeue heen aan ’n geloofgemeenskap toevertrou is. Om God as die Ander te leer ken het vir Newman beteken om Hom ook in die Kerk en haar geloofgemeenskap te leer ken. Hierdie hoogsbegaafde jongman, wat die gevare van selfgenoegsaamheid leer ken het, word van nou ’n nederige dissipel op soek na die volle waarheid. Hierdie soeke vind plaas deur gebed, studie, persoonlike geestelike begeleiding en ʼn openheid teenoor almal wat hom iets kon leer. Opvallend is die feit dat hy van daardie oomblik af besef het dat elke insig in die waarheid oor God en sy Openbaring hom verplig tot die praktiese navolging daarvan. Vir hom was dit nie kennis wat die hoogste goed is nie, maar heiligheid en laasgenoemde het inspanning gekos. Van nader gesien is die verdere verloop van sy lewe die gevolglike belewing en voortsetting van dit wat hy as jongman as sy groot bekering ervaar het.

Oxford

Tydens sy studies in Oxford het hy besluit om sy hele lewe aan God te wy en so word hy priester in die Anglikaanse kerk. Hy kombineer sy intellektuele arbeid met ’n intense geestelike lewe en ’n volledige toewyding aan die holistiese (menslike en gelowige) vorming van sy studente. Sy werkwyse is gekenmerk deur sy persoonlike invloed op hulle deur hulle die wysheid te laat ontdek om self keuses te maak en hul talente geleidelik te ontwikkel. Nie almal het egter met hom saamgestem nie. Baie wou net prestasie sien, nie heiligheid nie. Newman wou beide in sy studente aanwakker – hy het daarna gestrewe om by hulle ’n geheiligde kultuur en goed gevormde intellek te skep wat vroom en gevolglik ware Christen mense aan die samelewing sou skenk. Sy ideaal was ’n heilige gentleman. Omdat hy self so geleef het, het hy mense aangetrek. Selfs diegene wat met hom verskil het oor die opleiding van die studente het diep onder die indruk van die egtheid van sy preke gekom. Sy persoonlike soeke na die waarheid het stadig ontvou en met die tyd het sy insig ryker en breër geword. Dit was veral sy bestudering van die Kerkvaders wat sy teologiese uitkyk diep beïnvloed het. Hy het tot die besef gekom dat die ware Kerk katoliek en apostolies van aard is en dat die Kerk geen nasionale instelling kan wees nie, maar ’n Godgewilde universele gemeenskap. Dié ontdekking het daartoe gelei dat hy saam met ’n groep vriende nuwe lewe probeer inblaas het in die, volgens hom, aan die slaap geprotestantiseerde Anglikaanse kerk. Dit was die begin van die sogenaamde Oxford-beweging, waarvan hy gou die geestelike leier geword het. Hiermee het hy die hoogtepunt van sy invloed op die Anglikaanse kerk en op die universiteitswêreld van Oxford bereik. Maar so het hy ook in konflik gekom met die Protestantse vleuel van sy kerk. Uiteindelik het hy met homself in konflik gekom. Was sy kerk en daarmee hyself wel gegrond in die waarheid? Of was dit wat vir hom so lank ondenkbaar was waar – dat die Kerk van die Vroeë Vaders eerder in Rome as in Kantelberg gesoek moes word?

Oorgang na die Katolieke Kerk

Vanaf 1843 trek hy homself, saam met ’n aantal eensgesinde volgelinge, dikwels terug na die dorpie Littlemore by Oxford. Daar bring hulle hul dae in ’n kloosterlike atmosfeer van gebed, boetedoening en studie deur om te probeer onderskei waarheen die lig van die waarheid hulle voer. In 1845 het sy hart, verstand en wil die punt bereik waar hy nie anders kon as om die stap na Rome te neem nie. Hiermee verloor hy sy inkomste, akademiese posisie, en ook al die mense wat hy moes agterlaat in die Anglikaanse kerk. Talle van sy studente het egter alreeds Katoliek geword of sou binnekort daarna dié stap neem. Hierna volg daar twee jaar van soeke en onderskeiding om te probeer sien waar hy sy roeping binne die Katolieke Kerk moes uitleef. Newman het besef dat hy nie net vir homself ’n keuse moes maak nie, maar ook vir die groep vriende met wie hy reeds in Littlemore ’n soort gemeenskap begin vorm het. Hy het in die eerste plek dus na ’n lewensvorm en nie soseer na ’n bepaalde spiritualiteit gesoek nie. Die latere Kardinaal Wiseman was die eerste wat hom oor die Oratorium van St. Filip Neri ingelig het. Tydens sy verbly in Rome het Newman egter stelselmatig begin om te ondersoek of die Jesuïete, Dominikane of Redemptoriste hom ’n lewensvorm kon bied waarbinne hy en sy volgelinge hul roeping sou kon uitleef. Uiteindelik keer hy terug na die eerste voorstel wat aan hom gemaak is: die Kongregasie van die Oratorium. Daarin het hy vir hom en sy vriende die lewensvorm raakgesien wat hulle die meeste in staat sou stel om hulleself te bly. Die uitgangspunt hier was die keuse om as priesters in ’n vrye lewensgemeenskap te woon, gedra deur hul toewyding aan God en onderlinge vriendskap, in diens van die Kerk en om deur gebed, studie, prediking en formasie by te dra tot die vestiging van God se Koninkryk. Hierby moes daar aan elke lid van die gemeenskap die ruimte gegee word om sy eie talente op sy eie verantwoordelikheid te ontwikkel sodat die behoeftes van die tyd aangespreek kon word. In hierdie uitgangspunt vind ’n mens ook die besware wat Newman teen die ander kongregasies gehad het – daar was die lede deur geloftes verbind en het hulle gevolglik die reg om in persoonlike vryheid te dink, te spreek en te publiseer tot ’n groot mate verloor, of was hulle te veel verbonde aan die verlede. Daarmee het Newman nie hierdie kongregasies afgeskryf nie, maar het hy ingesien dat hulle nie vir hom was nie. Dit is belangrik om hier te sien dat Newman nie op soek was na ’n min of meer gerieflike voorsetting van die leefwyse in die Anglikaanse kerk nie, maar na ’n geestelike, pastorale en persoonlike voortsetting van die antwoord wat hy op sy lewensroeping gegee het.

Newman, die Oratorium en Filip Neri

Met die eerste oogopslag mag dit dalk voorkom asof Newman hoofsaaklik die vorm van die Oratoriaanse lewe gesoek het en nie die oorspronklike inspirasie wat Filip Neri daartoe gedryf het nie. Dit is inderdaad ook so dat hy eerste die Oratorium en daarna eers vir Filip Neri ontdek het. In dié sin het die kongregasie hom na die stigter toe gelei en nie andersom nie. Maar wie die ruimhartige reël van die Oratorium lees, leer gou soos Newman dit gedoen het, dat dié manier van lewe hoogs aanpasbaar is, en dat dié kongregasie eerder om “ ’n bepaalde gees as ’n geraamte gaan” (Faber). Dié plooibare reël kon die huise van die Oratorium, wat onderling veel van mekaar verskil, eeue lank bind omdat die lede trou aan die persoon en gees van Filip Neri geleef het. Dié heilige het meer deur persoonlike beïnvloeding as deur reëls sy volgelinge gevorm en bymekaar gehou. Newman kon homself in die Oratoriaanse manier van lewe herken omdat hy ’n diep affiniteit met die stigter van die Oratorium ontdek het. In die gees van Filip kon hy homself bly en kon hy die mens wat hy in die Anglikaanse kerk geword het assimileer in sy werk in die Kerk van Rome. Wie Filip en Newman oppervlakkig bekyk kan nie anders as homself te verwonder oor die innige band wat daar tussen hulle bestaan nie. Wat verbind die volkse, soms burleske, barokke mistikus uit Italië met die gereserveerde intellektueel en nugter akademikus uit Oxford? Die band wat hy met Filip gevoel het, was so sterk dat Newman, nadat hy die besluit geneem het om Oratoriaan te word, baie vinnig die reël vir Engeland kon aanpas en dit vir die res van sy lewe absoluut trou uitgeleef het. Newman was onbuigsaam wanneer iemand inbreuk wou maak op die Oratoriaanse identiteit. Om bogenoemde vraag te beantwoord is dit nodig om eers die populêre beeld van Filip as heilige grapjas ’n bietjie te wysig.

Spieëlbeeld

Net soos Newman was Filip in die eerste plek ’n boekmens. Hy was ’n gehoorsame leerling van die tradisie met ’n uitgesproke voorliefde vir die tyd van die Kerkvaders en ’n heel goeie instink vir goeie teologie. Hy was nie net ’n prediker vir die gewone volk wat onopgesmuk en Bybels gepreek het nie, hy was ook die geestelike leidsman van intellektuele, hoë funksionarisse en kardinale. Hy kon net so goed met die man in die straat praat as wat hy gesprekke op ’n hoë intellektuele vlak kon voer. Net so gemeng as wat die publiek was wat na St. Mary’s gestroom het om Newman te hoor preek, net so gemeng was die groep mense wat Filip se geestelike oefeninge in Rome bygewoon het. Filip het intellektuele en wetenskaplike werk bevorder en beskou as dienswerk vir die volk van God. Vir Filip was die stadige maar duidelike vorming van mense ’n prioriteit. Hy het dit op sy eie unieke manier gedoen – geleidelik, sagmoedig en deur persoonlike beïnvloeding. Filip het ook geweet dat ’n mens die hele mens moes vorm, al sy vermoëns moet aanspreek en heilig maak. Die skepping en die kultuur moet nie gevrees of verketter word nie, maar geheilig word. Filip het by voorkeur sy sagte oorredingsvermoëns by elke mens aangepas en mense gelei om self na te dink en tot die regte slotsom te kom. Hy was nie een om bevele en dekrete uit te vaardig nie. Self was hy ’n heel gehoorsame mens, en tog het hy aan almal so groot as moontlike vryheid toegestaan en was hy gekant teen enige engheid en verkrampheid in die geestelike lewe en in die Kerk. Hierdie houding het hom meermale in pynlike konflik met die hiërargie gebring wat maar al te gou gevare raakgesien het en alles netjies wou organiseer. Selfs heiliges soos Pius V en Karel Borromeo het soms Filip se metodes bevraagteken. Hy is van kettery verdink en sy geduld en sagmoedige optrede teenoor ketters, asook sy opgewekte en milde askese is as laksheid misverstaan. By dit alles het Filip ook nie persoonlike vriendskap as ’n bedreiging vir die geestelike lewe beskou nie maar as ’n weg daartoe en ʼn onderdeel daarvan. Die ‘goed geordende republiek’ (Baronius) van vriende wat deur gemeenskaplike liefde byeengehou is was sy model van saamleef – dit was beslis nie ’n gemeenskap wat deur ysige reëls georganiseer en saamgehou is nie. Die gemeenskaplike gees was vir hom belangriker as enige reël (waarvan hy ook vir lang tyd niks wou weet nie!).

Geestelike tuiste

Vir Newman moes dit alles soos vertroude musiek in die ore geklink het. Dit was as’t ware ’n selfportret van homself. Dit was hoe hy as Anglikaan geleef het en dit was die werkswyse wat hy gebruik het en so het die gemeenskap uitgesien wat hy rondom homself gevorm het en wat saam met hom die oorgang na die Rooms-Katolieke Kerk gemaak het. In Filip en sy Oratorium ontdek Newman dat dit vir hom moontlik was om as ‘homself’ in die Rooms-Katolieke Kerk voort te bestaan. Op ’n dieper vlak was daar nog iets wat hom verbind het: die mistiek van God se inwoning, ’n sterk toewyding tot die Eucharistie en Maria en die bereidheid om in liefde vir die Kerk te ly.

In sy roeping om Oratoriaan te word, het Newman se lewe in Oxford en sy lewe as priester in die Katolieke Kerk mekaar as’t ware die hand gegee. Alles wat hy in die tweede helfte van sy lewe sou onderneem was binne die ruimte van die Oratoriane spiritualiteit en het dit wat hy as Anglikaan begin het voortgesit en voltooi. Ook Newman bly nie gespaar van die kwaadpratery en verdagmakery wat Filip getref het, asook sy wrywinge met die hiërargie, nie. In dieselfde gees as Filip het Newman dit egter alles deurstaan. In die laaste gedeelte van sy lang lewe het dié skadukant van sy roeping verdwyn en toe Newman in 1890 as kardinaal sterf was baie mense net so oortuig van hom as wat hulle destyds van Filip was – dat daar nou ’n heilige hemel toe is.

Vr. Hans Tercic is priester van die bisdom Hasselt (België) en dosent in teologie. Hierdie artikel het oorspronklik in Nederlands in die Mei 2010 uitgawe van die tydskrif Het Teken verskyn. Dit word hier met die vriendelike vergunning van die outeur geplaas.

Lees gerus ook ʼn korter oorsig te https://wordpress.com/post/dieoratorium.wordpress.com/811