25 Augustus – St. Louis oftewel Lodewyk

St. Louis oftewel Lodewyk, koning van Frankryk

Gebore te Poissy in 1214 as die seun van koning Lodewyk VIII en Blanche van Kastilië. Sy vader sterf in 1226 en alhoewel hy nog onmondig was, is hy in dieselfde jaar in Reims tot koning gekroon. Hy trou in 1234 met Magriet van Provence. In 1242 verslaan hy Hendrik III van Engeland toe dié poog om die verlore grondgebied van die Huis van Anjou in Frankryk te herwin. Lodewyk was ‘n toonbeeld van opregte vroomheid. In 1248 word hy ‘n kruisvaarder en seil hy met sy leërmag na Egipte waar hulle die hawe van Damiëtta verower. Ongelukkig loop dinge skeef vir die kruisvaarders as gevolg van strawwe storms wat vloede tot gevolg het en onderlinge geskille wat net nie opgelos kon word nie. Hierdie afwesigheid van samewerking lei tot Lodewyk se gevangeneming deur die Moslems.

Hy word gedwing om Damiëtta as losgeld op te offer vir sy vrylating waarna hy en sy manskappe na Sirië vertrek om die kruisvaardervestings aldaar te verstewig. Hy keer terug na Frankryk in 1254 waarna hy ‘n vredesbeleid teenoor sy buurstate volg. Op die 1ste Julie 1270 vertrek hy op ‘n verdere kruistog, maar hy sterf van buikloop by sy aankoms in Tunis. Lodewyk het die hoogste ideale van die ware Christelike Middeleeuse vors vergestalt. Sy deugsame private lewe het oorgeloop in die regverdige en Godgerigte uitvoer van sy pligte as koning. Hy het die befaamde Sainte-Chapelle in Parys gebou (1245-1248) en groot somme geld bestee om te verseker dat alle vlakke van Godsdiensonderrig regdeur sy ryk ondersteun word. Sint Lodewyk is in 1297 deur Pous Bonifatius VIII tot heilige verklaar.