21 Augustus – St. Pius X

St. Pius X, pous

Guiseppe Sarto is in 1835 in die dorp Riese in die distrik van Venesië gebore. Sy agtergrond was armoedig. In 1850 gaan hy na die seminarie in Padua, waar hy sy priesterlike opleiding ontvang en waarna hy in 1858 georden is. In dieselfde jaar is hy aangestel as kapelaan in Tombolo en in 1867 word hy aartspriester van Salzano. Hy was veral bekend vir sy ywer in die parogiale bediening. In 1884 word hy aangestel as biskop van Mantua. Pous Leo XIII maak hom 1893 kardinaal en patriarg van Venesië.

En in 1903 word hy tot pous verkies. In teenstelling met sy voorganger wat veral in die Sosiale Leer van die Kerk belanggestel het, was Pius X iemand wat meer in die studie van die geestelike as die maatskaplike geïnteresseerd was. Tog dwing omstandighede hom op die politieke arena – in 1905 bring die Franse regering die skeiding tussen die Kerk en Staat tot voleinding en poog die politici deur ‘n slim set om alle oorblywende Kerk eiendom te bekom. Pous Pius tree onmiddellik en baie streng op en verdoem die stappe in twee ensiklieke. Hierdie was ‘n brawe en heldhaftige daad wat die onafhanklikheid van die Kerk in Frankryk verseker het ten spyte van groot druk en dreigemente van regeringskant af.

Dit was moeilike en troebel jare vir die Kerk, maar Pius het deur sy diepe geeskragtigheid nie geskroom om die bul by die horings te pak en dwalinge op Kerklike en sosiale gebied aan te val nie. Hy lê die grondbeginsels neer van “Katolieke Aksie” en gebruik as sy leuse: “Alles word in Christus hernu”. Hy was baie betrokke in liturgiese sake en was verantwoordelik vir die hervorming van die Brevier, asook die herstel van Gregoriaanse Kantus in die Kerk se openbare aanbidding. Hy het bekend geword as die pous wat die daaglikse ontvangs van Heilige Kommunie voorgestaan het deur sy dekreet oor dié gebruik in 1905. Pius het die fondamente van die moderne “Liturgiese Beweging” gelê. Selfs tydens sy leeftyd al is hy as ‘n heilige beskou. Hy sterf op die 20ste Augustus 1914. Binnekort is vele wonderwerke aan sy voorspraak toegeskryf. In 1951 is hy saligverklaar en in 1954 is hy tot heilige verklaar.