20 Augustus – St. Bernard van Clairvaux

St. Bernard van Clairvaux, ab en kerkleraar

Bernardus is in 1090 uit ‘n edel familie in Fontanes, by Dijon in Frankryk gebore. In 1111 sluit hy en dertig ander jong Boergondiese edelmanne aan by die monnike van Cîteaux. Drie jaar later vra Sint Stefan, die Ab van Cîteaux, hom om ‘n nuwe stigting op te rig. Bernard begin ‘n huis te Clairvaux en hy word tot ab van dié nuwe abdy verkies. Hier kom sy voortreflike leierseienskappe na vore deur die heilige toonbeeld wat hy vir sy medebroeders stel.

Hy word ‘n uitstekende geestelike leidsman wat ‘n geestelike omwenteling onder die monnike teweegbring. Die nuwe klooster van Clairvaux word gou die sentrum van die Cisterciënsers wat ‘n grootse religieuse mag in die Europa van sy tyd sou word. In 1128 tree hy op as die sekretaris van die Sinode in Troyes waarby erkenning aan die nuwe Orde van die Tempelridders verleen is. Daar word gesê dat St. Bernard self verantwoordelik was vir die opstel van hul konstitusies. In die twis wat in 1130 ontstaan het met die dood van pous Honorius II, kies hy die kant van Innocentius II teen die antipous Anakletus. Dit is dan ook grootliks te danke aan Sint Bernard dat dié skisma uiteindelik opgelos is.

Ten spyte van sy hoë profiel en onteenseglike magsposisie in Kerkpolitiek, was Bernard in die eerste plek ‘n monnik. Sy leefwyse was eenvoudig en beskeie en dit was die kwaliteite wat hy in sy medebroeders gesoek en aangewakker het. Sy geskrifte wys hom as ‘n man wat op ‘n deursigtige wyse tot die kern van teologiese geskille deurgedring het. Sy styl getuig van ‘n verbasende welsprekendheid en uitsonderlike kennis van die Heilige Skrif. In sy “De Diligendo Deo”, wat alom beskou word as een van die diepgeestigste Middeleeuse boeke oor mistisisme, skryf hy dat God bemin moet word, bloot omdat Hy God is. In sy vertoog “De gratia et libero arbitrio” sê hy: “As ‘n mens van jou vrye wil ontneem word, dan is daar niks om gered te word nie; en as ‘n mens God se genade verwyder, dan is daar geen manier om gered te word nie.” Sint Bernardus sterf in 1153. Hy is alreeds in 1174 tot heilige verklaar en in 1830 is hy die titel van Kerkleraar gegee.