19 Augustus – St. Jean Eudes

St. Jean Eudes, priester

Jean Eudes is op die 14de November 1601 in die dorpie Ri, in die bisdom Séez in Normandië in Frankryk gebore. Op die ouderdom van veertien jaar gaan hy na die Jesuïete Kollege te Caen. Nadat hy die mindere wydinge ontvang het sluit hy op die 25ste Maart 1623 by die Oratorium aan, wat in 1611 na Frankryk gebring is toe Kardinaal de Bérulle ‘n huis in Parys opgerig het. In 1625 word hy tot priester gewy. Vanaf 1627 tot 1631 was Europa weer in die greep van die verskriklike plaag wat periodiek sy verskyning gemaak het.

Eudes het homself voltyds aan die slagoffers van dié aaklige siekte toegewy. Op een stadium het hy selfs in ‘n leë vaatjie in die veld gewoon omdat hy bang was dat hy dalk die infeksie na sy gemeenskap sou terugbring. Nadat die plaag homself uitgewoed het, had Sint Jean nou die tyd tot sy beskikking om homself toe spits op een van die ander groot liefdes in sy lewe, naamlik om sendinge te preek. Dit is op die kansel dat hierdie heilige werklik tot sy reg gekom het – sy diepsinnige preke het tot die ongenaakbaarste harte deurgebring en groot vrugte opgelewer. In 1643 rig hy “Die Kongregasie van Jesus en Maria” op, wat dit ten doel het om seminariste van ‘n goeie priesteropleiding te verseker. Hy het alreeds in 1636 ‘n kongregasie gestig om ‘n veilige hawe te bied aan vroue wat vir watter rede ook al deur die samelewing verstoot is. Vir vyftig jaar lank was hy ‘n ware Apostel vir Frankryk wat die land deurreis het en deur sendingpreke derduisende mense se geestelike vordering aangehelp het. In 1671 het hy ‘n sending in Versailles gepreek wat deur Lodewyk XIV en sy hele hof bygewoon is. Hy is veral bekend vir die devosie tot die Heilige Hart van Jesus en die Heilige Hart van Maria wat hy onder gelowiges aangewakker het. Hy sterf op die 19de Augustus 1680. Jean Eudes is op die 3de Mei, 1908 deur Pous Pius X saligverklaar en 1925 het Pous Pius XI hom tot heilige verklaar.