17 Augustus – St. Hyacinthus van Krakau

St. Hyacinthus van Krakau, priester

Hierdie baie beminde Poolse heilige is vóór die jaar 1200 uit die adellike Odrowac familie in die kasteel van Gross Stein gebore. Hy studeer in Krakau, Praag en Bologna en behaal ‘n doktorsgraad in teologie. Nadat hy St. Dominicus leer ken het tree hy in 1218 in by die Dominikanerorde. Vanaf 1219 stig hy in Pole ‘n reeks Dominikanerkloosters en dra hy baie by tot die uitbreiding van die Dominikaanse Orde in hierdie gedeelte van Europa. Buite die destydse Pole vestig hy ook kloostergemeenskappe in Friesach (1221), in Kiev (1223) en in Gdansk (1227). Hy was ‘n kragtige prediker wat tot in die suide van Rusland en Pruise gaan preek het. Tydens sy lewe was hy bekend as wonderwerker. By geleentheid het hy ‘n jong seun wat verdrink het tot die lewe gewek en by ‘n ander geleentheid ‘n blinde tweeling genees. Met ‘n monstrans in sy hand het hy die invallende Tartaarse hordes tegemoet gegaan en hulle terug gejaag. Voor ‘n skare getuies het hy by Kiev op die water oor die breë rivier geloop toe hulle uit die brandende stad moes vlug. Hy sterf op die 15de Augustus, 1257 in Krakau. Hy word vereer as die beskermheilige vir diegene in gevaar van verdrinking.