16 Augustus – St. Stefan van Hongarye

St. Stefan van Hongarye

Stefanus is rondom die jaar 970 te Esztergom in Pannonië (deel van die huidige Hongarye) gebore. As jong seun is hy saam met sy vader, hertog Geza, deur St. Adalbert van Praag gedoop. In 996 (?) tree hy in die huwelik met prinses Gisela, suster van die Duitse keiser Hendrik II (ook bekend as St. Hendrik). In 997 volg hy sy vader as vors op. Deur sy bekwame leierskap slaag hy daarin om orde te bewerkstellig en Hongarye tot ‘n eenheid sam te snoer.

Op Kersdag in die jaar 1000 word hy deur pous Silvester II tot die eerste koning van Hongarye gekroon. Hy was ‘n welbeminde en regverdige regeerder wat homself daarvoor beywer het om van Hongarye ‘n ware Christelike modelstaat te maak. As ‘n vredeliewende vors het hy homself veral toegewy aan sy onderdane se sieleheil en veel gedoen om die geestelike lewe van sy mense te bevorder. Hy rig verskeie bisdomme op (met Esztergom as aartsbiskoplike setel) en bevorder op elke moontlike manier die vestiging van die Kerk. Hy stig die belangrike abdy van Panonhalma. Hy sterf op die 15de Augustus 1038 in Alba Regalis, die moderne Szekesfehérvar. Hy word vereer as die nasionale beskermheilige van Hongarye.