Pous Franciskus ter geleentheid van die 500 jarige herdenking van die geboorte van St. Filip Neri

Rome, 26 Mei 2015

Hieronder die Afrikaanse vertaling van Pous Franciskus se skrywe aan al die seuns en dogters van St. Filip, gerig aan die Prokurator-generaal.

Aan eerwaarde Vader Mario Alberto Avilès, C.O.
Prokurator-generaal van die Konfederasie van die Oratorium van Sint Filip Neri.

Hierdie vyfhonderdste jubileumviering van die geboortedag van Filip Neri, wat op 21 Julie 1515 in Florence gebore is, bied my die geleentheid om myself geestelik met die konfederasie van die Oratorium te verenig. Ons onthou hom, wat sestig jaar lank so ‘n geweldige impak op hierdie stad gehad het dat hy die tweede apostel van Rome genoem word. Sy lewe is gekenmerk deur sy diep aangetrokkenheid tot Jesus Christus, en ook deur die manier hoe hy alles ingespan het om die siele, wat aan sy sorg toevertrou is, na Christus te bring. In die uur van sy dood het hy gesê: “Iemand wat iets anders soek as Christus, weet eintlik nie wat hy wil hê nie; die een wat iets anders as Christus verlang, weet regtig nie wat hy vra nie.”

Dit is uit hierdie vurige ervaring van Filip se verhouding met onse Here Jesus Christus dat die Oratorium ontstaan het en ‘n werklikheid in ons Kerk geword het. Die Oratorium is gekenmerk deur ‘n intense en blye geestelike lewe met besonderse fokus op die volgende: Gebed, die aanhoor van en vertroude omgang met die Woord van die Heer, die deeglike voorbereiding op en waardige deelname aan die sakramente, Christelike formasie, waarby die Kerkgeskiedenis en die voorbeeld van die heiliges as hulp gebruik word, en barmhartigheidsdiens teenoor die armes.

Danksy Sint Filip Neri se apostolaat het “die heil van siele” weereens eerste plek op die Kerk se agenda ingeneem. Mense het beter verstaan dat sieleherders by hul mense moes wees om vir hul leiding te gee en hul geloof te onderskraag. Wat die geloof betref het Filip aan ‘n menigte mense leiding verskaf en die Evangelie aan hulle verkondig en hulle met die sakramente bedien. Tot op die einde van sy lewe het Filip homself toegewy aan die sakrament van die versoening. Hy het dit as sy werk beskou om voortdurend geestelike groei by sy dissipels aan te moedig. Hy het hulle die kuns van die lewe aangeleer en hulle vertroud gemaak met die Christelike hoop. Die unieke aantrekkingskrag van sy persoonlikheid, gekenmerk deur sy warm hart, vreugde, mildheid, sagmoedigheid, het sy sending van “die verfyning van siele” vergemaklik.

Hierdie eie apostolaat van Filip het ontstaan uit sy eie vurige ervaring van die Here, en deur die uitwerking van die Heilige Gees, aan wie hy sy hart toegewy het.

Vader Filip het in sy manier van leiding gee gebruik gemaak van kontraste: Hy was baie lief vir persoonlike gebed en om die eensaamheid op te soek en tog het hy sy volgelinge in die Oratorium geleer om saam in broederlike gemeenskap te bid; wat boetedoening betref was hy persoonlik baie asketies, ook op liggaamlike gebied, en tog het hy by sy volgelinge die klem op geestelike en innerlike afsterwing gelê, nie by liggaamlike kastyding nie, boetedoening wat met vreugde deurdring is, en wat die erns van die saak openbaar.

Hy was ‘n hartstogtelike verkondiger van die Woord en tog het hy met min woorde gepreek en het hy hom beperk tot ‘n paar sinne waarmee hy egter harte vir Jesus gewen het. Hierin het die geheim gelê wat van hom so ‘n ware priester en sieleherder gemaak het. Sy geestelike vaderskap het deur al sy werksaamhede geskyn en is gekenmerk deur die vertroue wat hy in mense gestel het, sy afsku van somberheid en neerslagheid, die gees van opgeruimdheid en vreugde wat hy uitgestraal het en sy oortuiging dat God se genade nie die menslike natuur onderdruk nie, maar dit juis genees, versterk en vervolmaak.

Die heilige Filip Neri bly ‘n helderstralende rolmodel vir die volgehoue missie van die Kerk in die wêreld. Sy manier van uitreiking na alle mense, om aan almal die liefde en barmhartigheid van die Here bekend te maak, kan ‘n waardevolle voorbeeld wees vir biskoppe, priesters, mense wat die Godgewyde lewe lei, en vir leke gelowiges. Vanaf die beginjare van sy verblyf in Rome, het hy ‘n apostolaat beoefen wat op persoonlike verhoudings en vriendskappe berus het. So het hy mense se ontmoeting met die Here as’t ware gefasiliteer en die deur na die Evangelie vir hulle oopgemaak. In sy biografie lees ons: “Hy was veral begaan oor die individu, hierdie een en dan daardie een, en hy het amper altyd amper persoonlik bevriend geraak met elkeen.”

Hy was lief vir spontaniteit en kon geen vorm van aanstellerigheid verdra nie. Verder het hy dikwels van humor en vermaak gebruik te maak om mense tot deugsaamheid aan te trek. Tegelykertyd was hy ‘n voorstaander van gesonde dissipline, ook wat die oefening van die wil insluit en waardeur ‘n mens Christus in die praktiese verloop van jou eie lewe kon opneem. Hy was diep daarvan oortuig dat die pad van heiligheid altyd gegrond is in ‘n persoonlike ontmoeting met die Here, en dat hierdie weg toeganklik was vir elke mens, in watter toestand hy hom ook al bevind het, en dit sonder enige voorwaarde. Al wat nodig was, is om die Here met die verwondering van ‘n kind te ontvang.

Die realiteit van die Kerk se sending beteken dat julle, die seuns van Filip Neri, nie tevrede mag wees met ‘n middelmatige lewe nie. Inteendeel. In die skool van julle stigter, word julle opgeroep om mense van gebed en getuienis te wees, om dit so te bewerk dat ander tot Christus aangetrek word. In ons dae, en besonders in die wêreld van die jeug, hulle wat destyds besonders lief was vir Vr. Filip, het ons mense nodig wat bid en wat ander leer om te bid. Met sy intense liefde vir die sakrament van die Heilige Eucharistie, leer hy ons, dat die Eucharistie wat gevier, aanbid en uitgeleef moet word, die bron is, wat ons aantrek, en dit het ons nodig as jy die hart van mense wil aanraak. “Sonder die Eucharistie kon hy nie lewe nie”. So het een van die getuies oor hom gepraat tydens die heiligverklaringsproses. Dit is waarlik so, “met Jesus Christus ontstaan en groei die vreugde opnuut” (Evangelii Gaudium 1). Hierdie vreugde, gekenmerk deur die oratoriaanse gees, moet altyd die onderliggende klimaat van julle gemeenskapslewe en apostolaat wees.

Die heilige Filip was lief om die Maagd Maria as volg aan te roep: “Maagd en Moeder, Moeder en Maagd”, in die oortuiging dat hierdie twee aanroepinge alles wat wesenlik is oor Maria uitdruk. Sy is die een wat julle op die pad lei na ‘n altyd dieper gelykvormigheid met Christus, om julleself al hoe meer in te span om met waaragtige en liefdevolle ywer die Evangelie te verkondig en daarvan te getuig. Ek vra julle om vir my en my dienswerk te bid, en ek verleen hiermee aan julle almal my besondere apostoliese seën: Aan die lede van die Kongregasie van die Oratorium, die leke medewerkers van die Oratorium, en aan almal wat lid is van die geestelike familie van die Oratorium.

Franciskus