PERSOONLIKE GETUIENIS VAN BARBARA WIRIX

 

 

 

Ek is op 2 Junie 1972 in Tongeren, die oudste stad van België, gebore. Ek het groot geword in Borgloon, ’n klein stadtjie naby die Klooster Mariënlof. As kind het ek baie by die susters gekom en in hulle tuin gespeel en saam met hulle koek gebak en besoekers rondgewys in hul kapel. En as ek nou terugkyk, dan besef ek dat my eie roeping waarskynlik in daardie jare en op daardie plek begin het.

 

 

 

Nadat ek ‘n graad in bestuurswetenskappe behaal het, is ek in diens geneem as amptenaar by die Ministerie van Ekonomie in Brussel. Intussen het ek baie betrokke geraak by my tuisparogie in Borgloon waar ek pastoraal begin werk het. Ek was deel van die span wat verantwoordelik was vir die Kinderwoorddiens en was ook as kategeet betrokke by die voorbereidings rondom Eerste Heilige Kommunie. Tydens my werk in die parogie het ek Vr. Wim ontmoet, my tuisparogie was sy eerste aanstelling as priester.

 

 

 

Later het ek na Hasselt, hoofstad van die provinsie Limburg, verhuis en ook daar aktief begin werk in die parogie. Ek was ’n voorleser, kategeet vir die Eerste Heilige Kommunikante, eindredakteur van die weeklikse parogie nuusbrief en voorganger in die gebedsdiens op die vooraand van begrafnisse.Vir daardie Woorddiens moes ek altyd self die voorlesings, gebede en gesange uitkies. Op die wyse het ek my al hoe meer begin verdiep in geestelike leesstof en die ryk skat van die Kerk se spiritualiteit ontdek.

 

 

 

Intussen het Vr. Wim die groot stap geneem om aan te sluit by die Kongregasie van die Oratorium van Sint Filip Neri in Oudtshoorn, Suid-Afrika. In 2014 het ek hom in verre Suid-Afrika gaan besoek en so eerstehands die Oratoriaanse gemeenskap leer ken. Aanvanklik was ek maar soos enige ander toeris wat deur die pragtige omgewing en landskap van die Klein-Karoo en Suid-Kaap bekoor is, maar terselfdertyd kon ek ook tydens my besoeke die Oratoriaanse leefwyse ervaaar – ek het saam met die gemeenskap gebid en geëet en ook in hul werksaamhede gedeel. Verder kon ek ruimskoots gebruik maak van die groot tuin waar ek gewoonlik êrens te vinde was met ’n boek.

 

 

 

Terug in België het ek stadigaan begin besef dat geloof besig was om ’n steeds groter en al hoe belangriker plek in my lewe in te neem. Ek het natuurlik getwyfel en met myself geworstel, maar uiteintlik moes ek toegee dat ek ten diepste geroepe gevoel het tot die religieuse lewe. Waar in die groot verskeidenheid van die Kerk se Godgewyde lewe sou ek egter ’n tuiste kon vind? Ondertussen het ek het gereeld Suid-Afrika toe gereis en die Oratorium besoek. Hier kon ek altyd ’n mooi tydjie met die gemeenskap deurbring en vrylik oor my roeping en soektog gesels.  Elke keer het ek begeesterd teruggekeer na België met al hoe meer sekerheid dat ek my lewe geheel en al in diens van God wou lei.

 

 

 

En toe kom die e-pos van die Oratorium waarin hulle my meedeel van die “Flammae Cordis” leke vrouebeweging verbonde aan die Oratorium in Rome. Hierdie groepie “Dames van die Vlammende Hart” (uiteraard ’n verwysing na dit wat met Sint Filip Neri se eie hart gebeur het by sy Pinkster ervaring in die katakombes), deel in die lewe en werksaaamhede van die Oratorium. Hulle lewe saam in die gees van St. Filip, hulle dra ’n kenmerkende habyt, hulle bid saam, vier die liturgie saam met die Oratorium en help mee in die pastorale bediening en die spesifieke apostolaat van die Oratorium. Teen die tyd was ons al goeie vriende en het ek myself al deel begin voel van die Oratoriaanse familie in Oudtshoorn. Saam het ons my roeping bespreek en daaroor nagedink en veral daaroor gebid. Dit was duidelik dat die Oratorium in Oudtshoorn, veral in die lig van hulle apostolaat met die Sint Luigi Scrosoppi Sorgsentrum, ook behoefte gehad het aan medewerksters. Vanaf die begin van die Oratorium se verhuising na die township van Oudtshoorn en die stigting van die Sint Luigi Scrosoppi Sorgsentrum om veral die kinders en jeug by te staan, was daar ’n aantal toegwyde dames betrokke. Om egter ’n groep vroue te hê wat op die perseel bly en geheel en al deel in die geestelike, liturgiese, pastorale en apostoliese lewe van die Oratorium sou beslis ’n aanwins en verryking wees. Soos die werk van die Oratorium die heeltyd aan die uitbrei was met soveel nuwe uitdagings het ’n plaaslike groep “Flammae Cordis” al hoe meer wenslik geword. Of dit dalk my roeping sou wees moes op die proef gestel word en dit kon nie in die bestek van ’n kort verlof tydperk of besoek ondersoek word nie. Om duidelikheid te verkry sou ek vir ’n langer tyd en dan ook meer intens moes deel in die lewe en werk van die Oratorium.

 

 

 

In Augustus 2016 kom ek dus in Oudtshoorn aan vir ’n tydperk van 3 maande om my roeping deeglik te ondersoek. En gou het  dit vir my duidelik geword dat hierdie die lewe is waartoe die Here besig was om my te roep. Drie maande lank het ek my verdiep in ‘n lewe as medewerkster en geestesgenoot van die Oratoriane en toe ek moes terugkeer na België het dit vir my gevoel asof ek besig was om my tuiste te verlaat in plaas daarvan dat ek besig was om terug huis toe te gaan. Dit is toe dat ek my finale besluit geneem het om terug te keer na België, my werk te los en afskeid te neem van familie en vriende sodat ek terug Oudtshoorn toe kon kom. In dieselfde tyd is daar vir my op die gronde van die Oratorium ‘n woonstel gebou terwyl ek in België soveel dinge moes afhandel. In Desember 2017 vind die groot verskuiwing van my lewe plaas en kom ek uiteindelik tuis in Oudtshoorn. Daar was baie aanpassings en uiteraard was dit nie maklik om my bejaarde ouers en my familie en vriende en bekende lewe agter te laat nie. Nou moes ek my voete vind en ook geleidelik ingelyf word in die leefwyse en apostolaat van hierdie nuwe lewe. Take is aan my toegeken en ’n nuwe taal en die plaaslike kultuur het vir my ’n nuwe en soms uitdagende wêreld laat oopgaan. Die Oratoriane het my geestelik begelei en die breër Oratoriaanse familie van medewerkers en vrywilligers by die Sint Luigi Scrosoppi Sorgsentrum het my verwelkom en gou laat tuis voel.

 

 

 

Na ’n voorbereidingstyd van ‘n anderhalf jaar het die groot dag op 26 Mei 2019 aangebreek. Op dié hoogfees van St. Filip Neri, stiger van die Oratorium, het ek my maagdewyding afgelê en is ek ook geklee as eerste van die Dames van die Vlammende Hart hier in Oudtshoorn. By ’n maagdewyding wy jy jouself aan God toe en belowe jy om net vir Hom te lewe. As tekens hiervan het ek ‘n habyt, sluier, kruis en ring ontvang. Nou is dit my vreugde en lewenstaak om deur my lewe en werk uiting te gee aan dié roeping en die heeltyd oop en ontvanklik te wees vir die werking van die Heilige Gees binne die ruimte en tradisies van die Oratorium en hierdie nuwe onderneming van die Vlammende Hart. Mag die voorspraak van die heilige Filip Neri en die voorbeeld van sy apostolaat, wat gegrond was op persoonlike vriendskap, ons aanhou lei en inspireer.

 

 

 

Moeder Barbara